‘Minder praat, meer doen in 2020’ – DA-leier

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: David Ritchie/ANA)

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê in sy Nuwejaarsboodskap aan Suid-Afrikaners 2020 moet ʼn jaar van moeilike besluite en dade, eerder as net woorde, wees.

“Terwyl ons voorberei vir die nuwe jaar wat voorlê, is dit belangrik dat ons eerlik terugkyk na die pad waarop ons land is. Ons kan soveel beter doen. Dit is binne ons bereik om ons sukkelende ekonomie om te draai en ons land se sterkpunte aan te wend. Dit kan egter slegs gedoen word as ons bereid is om die moeilike vrae te vra en gewigtige besluite te neem,” het die leier van die amptelike opposisie Dinsdagmiddag gesê.

Hy het Suid-Afrikaners gevra om dankbaar te wees vir geleenthede wat oor hul pad kom, maar om ook begrip te hê wanneer individue en die samelewing tekortskiet.

“En laat ons ook nie dié vergeet wat vanjaar gely het nie,” het Steenhuisen gesê.

“2020 was nie aldag maklik nie. Ons ekonomie was onder enorme druk en talle Suid-Afrikaners moes hul gordels stywer trek. Soos altyd was dit diegene wat dit die minste kon bekostig wat die ergste geraak is. Arm Suid-Afrikaners, veral werkloses, het die afgelope jaar geweldige swaarkry beleef.

“As ʼn land moes ons begin sin maak van die enorme koste van jarelange korrupsie en wanbestuur. Dit was nêrens so duidelik soos in ons onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening nie. 2020 moet die jaar wees waarin ons dié kwessie pak en die moeilike besluite neem wat nodig is.”

Steenhuisen het gesê 2020 moet ʼn jaar van daadwerklike optrede wees en dat daar dade, nie net woorde nie, moet wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.