Minder reën in KZN verwag  

Modderstortings in Umdloti. (Foto: Verskaf / NSRI Ballito / Quentin Power)

Talle inwoners van KwaZulu-Natal het Maandag sonder krag of water gesit nadat swaar reënbuie die provinsie weer die afgelope naweek getref het. Groot skade is veral aan huise- en woonstelle in die kusdorp Umdloti aangerig.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het egter Maandag aangedui dat minder reën vir die vloedgeteisterde provinsie voorspel word. Droër en warmer toestande word vir die meeste dele van die provinsie voorspel, hoewel Richardsbaai nog reën kan verwag.

Maroela Media het vroeër berig minstens 500 mense moes hul huise noodgedwonge verlaat nadat swaar reën weer groot skade aan sommige huise, geboue en paaie aangerig het.

Skade wat in Umdloti aangerig is. (Foto: Facebook / eThekwini- plaaslike munisipaliteit)

Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS-nooddienste, het Maandag aan Maroela Media gesê dat “alles weer terug na normaal is” nadat talle paaie die naweek weens oorstromings en modderstortings onbegaanbaar was. Op sommige plekke het bome omgeval en paaie versper.

Quentin Power, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut in Ballito, sê dat meeste noodontruimings in Umdloti reeds Sondag afgehandel is.

“Sommige mense verlaat tans hul huise vrywillig aangesien daar geen water of elektrisiteit is nie.”

Volgens Power word sommige paaie tans skoongemaak sodat mense ten minste daar kan loop.

“Ander gebiede in Lamercy en Tongaat is Saterdagaand en Sondagoggend ontruim. Nood- en reddingspanne is op bystand indien hulp benodig word.”

Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, sê hy is nie bewus van enige verdere oorstromingsvoorvalle Maandag nie.

“In dié stadium het die reën opgeklaar en die lug is oopgetrek.

“Ons het nog niemand vir enige beserings weens die oorstromings behandel nie, maar is steeds op bystand sou daar enige noodgevalle wees.”

Paul Herbst, woordvoerder van Medi Response KZN, sê dinge lyk vandag veel beter. Hy sê skade aan infrastruktuur word nou geëvalueer en dat skoonmaak- en herstelwerk reeds begin het.

Volgens Herbst het nooddiensspanne van Medi Response heelwat mense die afgelope naweek uit geboue gered – onder meer in Umdloti en Tongaat.

“Geen beserings of sterftes is aangemeld nie, hoewel baie mense ontwrig is.”

Sommige inwoners het Maandag foto’s en inligting van die skade aan hul huise en geboue op sosiale media gedeel.

Skade aan die Surfside-woonstelkompleks. (Foto: Facebook / Elly Malan Botha)

Elly Malan Botha het op Facebook geskryf dat sy “hartgebroke” is nadat hulle weer hul woonstel by die Surfside-woonstelkompleks in Umdloti moes ontruim het.

In ʼn emosionele plasing skryf sy dat Surfside die afgelope agt jaar haar en haar man se tuiste was.

“Ek het my kleinkinders hier sien grootword, baie pragtige sonsopkomste en volmane, gesinstye, kerkvergaderings en braaigeleenthede asook die beste see-uitsig waarvoor ʼn mens kan wens.

“Ek was lief vir elke sekonde wat ek daar kon bly. Ons weet nog nie wat of waarheen nie en bid dat ʼn oplossing gevind sal word.”

Jeanette Ferreira-Van Jaarsveld sê op Facebook dat haar hart na inwoners uitgaan.

“Wat ʼn emosionele impak moet dit nie op ʼn mens hê om jou huis so te sien nie,” het sy by ʼn video van die verwoesting in Umdloti geskryf.

Sommige gebruikers het ook op Twitter ʼn foto van ʼn oorstroomde gemeenskapsaal gedeel waarheen mense verplaas is toe rampspoedige oorstromings die provinsie sowat twee maande gelede getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Dis hartseer om sulke skade te beleef. Sterkte aan almal wat dit moet verduur.

Di ·

Sjoe dis SO hartseer! Daar is nou so baie mense wat alles verloor het en geen heenkome het nie. Sterkte aan julle almal, ek hou julle in my gebede

H.A. ·

Dit wil my voorkom of die huise en paaie op spoel grond gebou is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.