Minder renosters in 2020 in SA gestroop

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Suid-Afrika het verlede jaar ʼn beduidende afname in voorvalle van renosterstropery ondervind.

Altesaam 394 renosters is verlede jaar vir hul horings in Suid-Afrika gestroop – 33% minder as die 594 renosters wat in 2019 weens stropery doodgemaak is.

Dit lyk nou of Suid-Afrika ná die inwerkingstelling van verskeie strategieë om renosterstropery te stuit, eindelik ʼn jaar-tot-jaar-daling in die getal gestroopte renosters ondervind, sê Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye.

Dit is die sesde agtereenvolgende jaar dat renosterstropery in die land afneem.

Creecy het Maandag bekend gemaak dat die Krugerwildtuin verlede jaar 1 573 sogenaamde stropersaktiwiteite aangemeld het – ʼn afname van 21,9% vergeleke met die 2 014 voorvalle wat in 2019 aangemeld is.

Altesaam 247 renosters is verlede jaar vir hul horings in nasionale parke (SANParke) gestroop. Hiervan is 245 renosters in die Krugerwildtuin en twee in die Marakele Nasionale Park gestroop.

Altesaam 16 olifante is verlede jaar in die Krugerwildtuin vir hul ivoor gestroop, ʼn afname van 48,39% vergeleke met die 31 wat in 2019 in die Krugerwildtuin en die Marakele Nasionale Park gestroop is.

Só lyk die provinsiale en nasionale uiteensetting vir 2020, vergeleke met 2019:

Provinsies en nasionale parke2019 

2020

 

SANParke328247
Gauteng52
Limpopo4518
Mpumalanga3413
Noordwes3219
Oos-Kaap20
Vrystaat111
Noord-Kaap41
KwaZulu-Natal13393
Wes-Kaap00
 Totaal594394

Creecy sê hoewel buitengewone omstandighede rakende die stryd teen die Covid-19-pandemie deels bygedra het tot verlede jaar se afname in renosterstropery, “het die rol van veldwagters en veiligheidspersoneel wat op hul poste gebly het, asook bykomende stappe wat die regering gedoen het om hierdie en verwante oortredings die hoof te bied, ook ʼn belangrike rol gespeel.”

Wat vervolging betref, is 66 vermeende stropers vanaf Januarie tot Desember verlede jaar in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem. Altesaam 90 mense is buite die wildtuin in hegtenis geneem op aanklagte van renosterstropery en die handel in renosterhorings.

Landwyd is naastenby 25 groot ondersoeke verlede jaar van stapel gestuur, sê Creecy.

Argieffoto: Maroela Media

Uitspraak is in 45 sake gelewer terwyl 44 skuldigbevindings gedoen is. Dit verteenwoordig ʼn merkwaardige skuldigbevindingskoers van 97,8%. Die 44 skuldigbevindings verteenwoordig 69 veroordeelde oortreders.

Chien Leing is verlede jaar op ʼn lughawe sonder ʼn permit in besit van een renosterhoring betrap. Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Yansen Feng is verlede jaar skuldig bevind op drie aanklagte van die koop van vier renosterhorings. Feng het egter ná sy inhegtenisneming probeer om die ondersoekbeampte om te koop en hy is skuldig bevind op ʼn bykomende aanklag van korrupsie. Hy is onderskeidelik agt jaar en twee jaar tronkstraf opgelê.

Maroela Media het vroeër berig Jimmy Mashopane is effektief 24 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is op 19 aanklagte wat verband hou met die stroop van renosters in ʼn natuurreservaat in die Vrystaat.

Dié misdade is in 2018 in die Sandveld-natuurreservaat by Hoopstad gepleeg.

Creecy sê Suid-Afrika kan egter nie bekostig om selfvoldaan te raak nie aangesien die swartmark te midde van ʼn toenemende vraag na renosterhoring druk plaas op die land se hulpbronne wat gebruik word om stropery te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Baardman

Hoe minder renosters, hoe beter lyk die “stats” mos. Kort voor lank is daar geen renosters gestoop, want daar gaan niks oor wees nie.

Swanie

Of dit is dalk omdat die smokkelaars nie vrylik kon beweeg nie asgevolg van lockdown , pad blockades ens . Minder voertuie op die pad , beter kans om deursoek te word. Moeliker om por grense te kom. So die statestieke is dalk reg maar nie die rede vir afname nie.