Die landbouorganisasie TLU SA sê hy twyfel sterk of daar werklik ʼn afname was in die getal veediefstalsake wat sedert 2017 aangemeld en opgelos is – en meen groot leemtes bestaan in die polisie se syfers.
Boere steier onder die uitwerking van veediefstal; nie net weens die verlies wat gely word wanneer vee gesteel word nie, maar ook weens die peperduur veiligheidsmaatreëls wat hulle self probeer tref om dit te verhoed.
“Dit is nodig om te weet hoeveel vee met elke saak aangemeld, gesteel is. Die geraamde geldwaarde is ook belangrik vir die geheelprent. Indien die sake wel ’n afname toon – wat ek in alle eerlikheid betwyfel – dan dui dit daarop dat daar nou groter getalle vee op een slag gesteel word,” sê Bertus van der Westhuizen, TLU SA se streekvoorsitter in die Vrystaat.
“Sou ek reg wees met my afleiding, brand die gevaarligte helder en duidelik omrede dit op groter sindikaatbedrywighede wys.”
Luidens ʼn antwoord van Bheki Cele, minister van polisie, op ʼn parlementêre vraag van VF Plus-leier Pieter Groenewald, is altesame 26 923 veediefstalsake tussen 1 April verlede jaar tot 28 Februarie vanjaar by veediefstaleenhede aangemeld.
KwaZulu-Natal het in hierdie tyd die meeste aangemelde sake gehad, gevolg deur die Oos-Kaap en Mpumalanga.
Groenewald sê die groot getal sake wat net glad nie opgelos word nie, is ʼn aanduiding dat veediefstal buite beheer is.
Van der Westhuizen sê hoewel die afname in sake kan lyk na suksesvolle misdaadbekamping, is dit nie noodwendig die geval nie.
“Die waarheid is meer in die lyn van gesteelde veegetalle wat toeneem, maar in minder voorvalle soos vroeër genoem. Ek vermoed sindikate buit reeds hierdie stelsel uit, want hulle gaan hul diefstalle só begin bestuur dat statistieke nie die ware toedrag van sake aandui nie,” sê hy.
Boere kla dat sommige veediefstaleenhede nie genoeg lede het nie, terwyl hulle ook sukkel met ʼn tekort aan voertuie en ʼn gebrek aan kundigheid. Korrupsie speel ook ʼn rol en bewerings dat polisiebeamptes, soms selfs senior offisiere by diefstalsindikate betrokke is, word telkens gemaak.
Hulpbronne soos mannekrag, toerusting en voertuie word volgens TLU SA op grond van die misdaadsyfers toegewys. Dit veroorsaak egter groot leemtes in sommige eenhede, tot so ʼn mate dat sommige eenhede geen voertuie het nie en nie hul werk kan doen nie.
“Dit is van kardinale belang dat aanpassings gemaak moet word aan die manier hoe die polisiebestuur sy stasie-evaluerings doen, want papier is geduldig,” sê Van der Westhuizen.
Volgens statistieke van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum en die Rooivleisprodusente‑organisasie (RPO), beloop die diefstal van beeste sowat R184 miljoen, die syfer vir skape staan op R43 miljoen dié vir bokke op R31 miljoen.
In die geheel beloop dit ʼn verlies van R258 miljoen weens veediefstal.
Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê die polisie se syfer vir “opgeloste sake” beteken min. Dit kan enigiets insluit van inhegtenisnemings, tot sake wat nie opgelos is nie, deur ʼn klaer teruggetrek is, of waar die staat geweier het om vervolging in te stel.
“Dit is niksseggende inligting,” sê Clack.
Die nie-rapportering van veediefstal het van 36% in 2010 tot 80% in 2020 toegeneem, maar Clack sê dit strook met wêreldwye syfers. “Boere vertrou nie die polisie nie en rapporteer nie die sake nie.
“Dit is wêreldwyd ʼn probleem; hierdie soort misdaad word nie aangemeld nie.
“Dat ons ʼn probleem het en dat dit ʼn groot ekonomiese uitwerking het en ʼn frustrasie is, is ʼn gegewe.
“Een dier wat gesteel word, is een dier te veel.”
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dit word al hoe duideliker dat veediefstal ʼn groot en georganiseerde bedryf met baie geld op die spel is.
“Van die algemene raad vir boere is om ekstra maatreëls in plek te stel om diefstalle te voorkom. Hulle moet – en dit is van kardinale belang – by hul plaaslike veiligheidstrukture inskakel. Sou hulle sake aanmeld, moet hulle deurlopend met die ondersoekbeampte kontak hou tot die saak deur die hof gevoer word.”
Die polisie het amper geen sukses met misdaad bekamping oor die algemeen nie. Baie sake word onder die mat ingevee. Hul is ook self by misdaad betrokke en kry nie tyd om hul werk te doen nie. Dan is daar ook nog die verlengde tee en etenstye wat maak dat die werksure net te min is.
Gegewe die wanfunksionele Polisiemag asook ANC ekonomiese wanbestuur gaan die probleem net eskaleer!!!
Die hoeveelheid is die gevolge van misdaad sindikate . Dieselfde met vrugte diefstal . Hele oes Avos word oornag gestroop .
Hulle manipuleer die getalle om beter te lyk,mense in Suid-Afrika is moeg vir die polisie in sy huidige vorm.