‘Minder steenkool, meer landbou’ – Agri SA

Steenkoolmyne in veral die oostelike streek het ‘n negatiewe invloed op landbou. (Foto: Maroela Media)

Agri SA sê hy verwelkom die aankondiging vroeër deur pres. Cyril Ramaphosa tydens die COP26-klimaatsonderhandelinge in Glasgow, oor die toekoms van steenkoolafhanklikheid in Suid-Afrika.

Suid-Afrika en verskeie ontwikkelde lande het ’n multimiljard-onderneming aangegaan, ingevolge waarvan die land sy hoë koolstofuitlatings en afhanklikheid van steenkool sal verminder.

Die ooreenkoms behels ’n vennootskap tussen Suid-Afrika en die Europese Unie (Duitsland en Frankryk), die Verenigde Koninkryk en die VSA, waarvolgens hulp aan Suid-Afrika verleen sal word om weg te beweeg van sy hoë afhanklikheid van steenkool-gegenereerde elektrisiteit.

Besonderhede van die ooreenkoms is in dié stadium nog onduidelik, maar dit sluit blykbaar beleggings in van tot R131 miljard oor die volgende drie tot vyf jaar in die vorm van toekennings, konsessielenings, asook beleggings- en risikodelingsinstrumente, met inbegrip van die mobilisering van openbaresektor-finansiering.

“Dit is duidelik dat die ontwikkelde lande ’n vinnige oorgang na hernubare energiebronne verlang en dat hulle Suid-Afrika as ’n sleutelrolspeler in Afrika beskou,” meen Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne.

“Hoëwaarde-landbouproduksiegebiede word veral nadelig getref deur steelkoolontginning en kragopwekkingsaktiwiteite in Mpumalanga en elders,” sê hy.

“Terwyl Agri SA bewus is van die gevolge wat dit vir ons mynbousektor inhou, is die globale wegbeweging van fossielgebaseerde kragopwekking onvermydelik en behoort dit deur alle rolspelers verwelkom te word.

“Hierdie aankondiging het die potensiaal vir aansienlike verdere kapitaalbelegging in Suid-Afrika en word deur Agri SA vanuit ’n omgewingsperspektief verwelkom.”

Agri SA sê hy sal enige verdere verwikkelinge en aankondigings wat tydens die COP26-beraad, wat ’n uitwerking op Suid-Afrika se landbousektor kan hê, fyn dophou. Dit sal oor die volgende twee weke in alle erns begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pablo ·

Al daai finansiële hulp van die ontwikkelende lande sal net so in die ANC regering se sak verdwyn.

annie ·

Boere bly maar optimisties dat die toekoms blink anders sou hul seker nie in die bedryf gewees het nie, maar daar is van ons wat die nuus anders lees. Die ANC se beleid is kommunisties-sosialisties en hul bestuur gerig op selfverryking. Die Weste glo die saai van groot geld gaan groot klimaats-/verandering bring tot op paradysvlak waar alles en almal goed en mooi is en covid net ‘n slegte droom was.

Andries ·

Ek het op ‘n ander plek ook raakgelees dat die privaatsektor hierby betrek gaan word. Hoop vir die beste en dat bevoegtheid en eerlikheid aan die orde van die dag gaan wees. Dalk is beurtkrag oor 20 jaar iets van die verlede.

marius ·

Ag asseblief ! Julle sjinese maatjies val nie vir die twak nie .

Francois Le Cochon ·

Steenkool gaan nog lank met ons wees. Laaste wat ek gehoor het is dat ANC kaders 245 steenkoolmyne besit, wat steenkool lewer aan Eskom.

Andrew ·

Die eerste is kry die klomp chinese beleggers uit. Dan stop die uitruik van alle nuwe lisensies om oopgroef steenkool myne te bou

Miskruier ·

Hul gaan groot in Messina, wil sommer die boere se water afkeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.