Minder sterf tot dusver op SA paaie

Minister Fikile Mbalula het Woensdag dié statistieke bekend gemaak. (Foto: MEC Jacob Mamabolo/Twitter)

Die minister van vervoer het Woensdag die voorlopige padsterftestatistieke vir vanjaar bekend gemaak en hoewel daar meer groot ongelukke was, het effens minder mense vanjaar op Suid-Afrika se paaie gesterf as in dieselfde tyd verlede jaar.

Volgens Fikile Mbalula is daar ʼn 142%-styging in noodlottige padongelukke waar vyf of meer mense in ʼn enkele voorval omgekom het, in vergelyking met verlede jaar. Die aantal sterftes wat weens groot ongelukke soos hierdie veroorsaak is, het van 34 tot 111 vanjaar toegeneem.

Hiermee saam het die aantal noodlottige ongelukke in vyf van die land se provinsies toegeneem, waaronder die Noord-Kaap en die Wes-Kaap die grootste toename aangeteken het.

Noodlottige ongelukke het met 60% in die Noord-Kaap gestyg, terwyl die Wes-Kaap 35 meer sterftes  as verlede jaar aangeteken het. Mpumalanga het ʼn toename van 23 sterftes getoon. Noordwes het 61 padsterftes vanjaar aangeteken in vergelyking met 55 verlede jaar, en Gauteng het ʼn matige toename van twee sterftes vanjaar ondervind.

Die res van die provinsies het wel ʼn afname in noodlottige ongelukke getoon, wat die algehele aantal sterftes wat landwyd aangeteken is, met 3,1% laat afneem het. Dít, sê Mbalula, is goeie nuus.

“Die Oos-Kaap het ʼn afname van 30,7% in sterftes aangeteken, met 127 sterftes verlede jaar teenoor 88 tot dusver,” sê hy.

KwaZulu-Natal se padsterftes het ook van 173 sterftes verlede jaar tot 131 vanjaar afgeneem, gevolg deur Limpopo wat altesaam 18 minder sterftes het en die Vrystaat wat vyf minder aangeteken het.

“Die statistieke wys dat die meeste mense wat vanjaar op ons land se paaie gesterf het passasiers (35%) is, gevolg deur voetgangers (34%), bestuurders (26%), motorfietsryers (1%) en fietsryers (1%),” sê hy.

“Die voertuie wat die meeste tot ongelukke soos dié bydra, is hoofsaaklik minibustaxi’s, ligte afleweringsvoertuie en vragmotors.”

Hy sê ook die meeste noodlottige ongelukke het weer vanjaar in die aand of vroeë oggendure tussen Vrydag en Sondag plaasgevind.

Polisie slaan toe op oortreders

Volgens Mbalula het owerhede ook reeds meer as 710 000 voertuie gedurende die eerste helfte van vanjaar se feestyd aangekeer en deursoek.

“Altesaam 1 561 voertuie is reeds van die pad verwyder omdat dit nie meer padwaardig is nie en daar is op 1 820 voertuie beslag gelê,” sê hy.

“ʼn Verdere 2 639 bestuurders is ook in hegtenis geneem vir misdade wat wissel van dronkbestuur, die oortreding van die spoedgrens of die bestuur van ʼn voertuig sonder ʼn geldige rybewys.”

Mbalula sê die ergste spoedvraat wat tot dusver tydens die feestyd in hegtenis geneem is, het sowat 225 km/h in ʼn 120 km-sone op die N1 tussen Kaapstad en Bloemfontein gery.

ʼn Dronkbestuurder op die N2 in KwaZulu-Natal is ook vasgetrek nadat dit aan die lig gekom het dat sy bloedalkoholvlak 1,95 g per 100 ml is. ʼn Bestuurder se bloedalkoholvlak mag nie meer as 0,05 g per 100 ml wees nie.

“Ons wetstoepassingsowerhede gaan voort om die paaie gedurende die feestyd veilig te hou, maar die verantwoordelikheid berus steeds by elkeen van ons padgebruikers,” sê Mbalula.

“Ek doen dus ʼn beroep op alle burgers om hierdie verantwoordelikheid ernstig op te neem om die Suid-Afrikaanse paaie vir almal veiliger te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.