Minder strukture in Kaapstad brand; verwoesting groter

Die stad sê die brande veroorsaak groot verwoesting. (Foto: Stad Kaapstad)

Die Stad Kaapstad sê sy brand-en-reddingsdiens het ʼn besige Desember agter die rug en het op meer as 2 000 veld- of struktuurbrande gereageer.

Die stad sê daar was altesaam 2 251 veld- en struktuurbrande, in vergelyking met 2 114 voorvalle dieselfde tyd in 2019.

 Desember 2019Desember 2020
Veldbrande1 6271 915
Informele struktuurbrande268177
Formele struktuurbrande219159

“Die afname in brande is bemoedigend, maar natuurlik is een brand een te veel. As daar egter in ag geneem word hoeveel huise in die Masiphumelele- en meer onlangs in die Taiwan- informele nedersetting in Khayelitsha verwoes is, is die uitwerking en koste enorm vir diegene wat soveel verloor het,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

“Benewens die optrede van die brand-en-reddingsdienste is daar ʼn hele aantal departemente in die stad wat ʼn rol speel ná die brande, hoewel dié rol oor die afgelope paar jaar ietwat ingekort is.

(Foto: Stad Kaapstad)

“Die stad se rampbestuursentrum het vantevore ʼn sentrale rol gespeel om humanitêre hulp namens die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) te koördineer, maar in 2018 het Sassa besluit om self verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.”

Smith sê hoewel die bedoeling moontlik goed was, is die werklikheid dat dit vertragings veroorsaak om noodverligting by diegene te kry wat deur brande of oorstromings geraak is.

“Die stad bied steeds noodbehuisingsopsies aan diegene met ʼn behoefte daaraan, maar weens die beperkings wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, is die gebruik van gemeenskapsale in hierdie stadium nie ʼn moontlikheid nie.”

Hy sê talle mense verkies ook om nie van alternatiewe skuilings gebruik te maak nie. Hulle wil so naby as moontlik aan die gebied bly waar die voorval plaasgevind het, sodat hulle nie die kans verloor om weer ʼn struktuur daar op te rig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.