Minder vertroue in polisie, howe – verslag

Dr. Pali Lehohla, statistikus-generaal van Statistieke Suid-Afrika. Foto: Flickr/GovernmentZA

Dr. Pali Lehohla, statistikus-generaal van Statistieke Suid-Afrika. Foto: Flickr/GovernmentZA

Dr. Pali Lehohla, statistikus-generaal van Statistieke Suid-Afrika, het Dinsdag vanjaar se misdaadslagofferverslag op ʼn mediakonferensie in Pretoria bekend gemaak.

Die verslag is geskoei op mense se persepsies en ervarings van misdaad, asook hul sienings oor die effektiwiteit van die polisiediens en die strafregstelsel. Die peiling word in privaathuishoudings in al die provinsies in die land gedoen, maar dek nie kollektiewe wooneenhede soos studentekoshuise, aftree-oorde, gevangenisse of weermagbarakke nie.

Volgens die verslag is dit duidelik dat die persepsie bestaan dat geweldsmisdaad oor die afgelope drie jaar toegeneem het. Altesaam 41,8% huishoudings het aangedui geweldsmisdaad het in die afgelope drie jaar in hul omgewing toegeneem, in vergelyking met 31,7% van huishoudings in 2011. Die meeste respondente wat voel dat geweldsmisdaad in die afgelope drie jaar toegeneem het, woon in die Wes-Kaap (52,2%), Vrystaat (48%), Noordwes (47,4%) en Gauteng (33,6%).

Respondente is gevra watter misdaad die algemeenste voorkom in die gebied waar hulle woon. Die meerderheid huishoudings meen inbrake is die algemeenste misdaad (58,8%), gevolg deur straatrooftogte, huisrooftogte en aanranding. Die meeste mense noem ook inbrake en huisrooftogte as die misdaad wat hulle die meeste vrees, gevolg deur straafrooftogte en moord. Dit blyk uit die respondente se antwoorde vorige ervarings dryf hierdie vrees, eerder as die erns van die misdaad.

Die meeste huishoudings voel egter nog deur die dag veilig in hul woonbuurte, hoewel hierdie gevoel van veiligheid drasties afneem wanneer dit donker raak. Ongeveer 83,7% van huishoudings het aangedui hulle voel veilig in hul omgewing gedurende die dag, terwyl 69,3% gesê het hulle voel onveilig wanneer dit donker raak. Gevoelens van onveiligheid was die hoogste in Limpopo, terwyl respondente in die Vrystaat die meeste geneig is om veilig genoeg te voel om saans alleen buite te loop. Altesaam 22,6% van respondente het gesê hulle verbied kinders om buite te speel weens misdaad in die gebied.

Meer mense het in 2015/16 aangedui hulle doen fisies stappe om hulself teen misdaad te beskerm as in 2011. In 2011 het 49% van respondente gesê hulle het stappe gedoen om hul huise te beveilig, vergeleke met 51,2% in 2015/16. Altesaam 5,5% van respondente sê hulle dra ʼn wapen by hulle vir beskerming, vergeleke met 5,1% in 2011. Meer mense sê ook hulle gebruik ʼn privaatveiligheidsgroep se dienste (11,4%) vergeleke met 10,6% in 2011.

Voorstelle oor waarop die regering geld moet bestee om misdaad hok te slaan, het grootliks dieselfde gebly tussen 2011 en 2015/16. Die meeste huishoudings voel meer geld moet aan ekonomiese ontwikkeling bestee word om misdaadsyfers af te bring, gevolg deur wetstoepassing, die howe en dan maatskaplike ontwikkeling.

Respondente is ook verskeie vrae gevra om hul vertroue in die polisie te toets. Op ʼn vraag oor hoe lank dit polisiebeamptes neem om op ʼn noodoproep te reageer, het slegs 19,8% van respondente aangedui die polisie sal minder as ʼn halfuur vat om te reageer. Die meeste (28,1%) dink die polisie sal langer as twee ure vat, gevolg deur 26,1% wat dink die polisie sal meer as 30 minute, maar minder as ʼn uur, vat om te reageer. Altesaam 6,3% het aangedui hulle dink die polisie sal nooit opdaag nadat hulle ʼn noodoproep ontvang het nie.

Altesaam 33,1% van respondente het aangedui hulle sien minstens een keer per dag ʼn polisiebeampte in uniform in die gebied waar hulle woon. 27,2% sê hulle sien ʼn polisiebeamptes minstens een keer ʼn week in hul woonbuurte, terwyl 13,1% beweer hulle sien nooit ʼn polisiebeampte nie.

Die getal respondente wat aangedui het hulle is tevrede met die polisiëring in hul woongebiede, het ook sedert 2011 gedaal. In 2011 het 64,2% aangedui hulle is tevrede met die polisie, terwyl 58,8% in 2015/16 gesê het hulle is tevrede. Die grootste vermindering in tevredenheid kan in die Wes-Kaap waargeneem word, waar 71,3% van respondente in 2011 gesê het hulle is tevrede met die polisie, vergeleke met 57,1% in 2015/16.

Respondente se vertroue in die howe het ook sedert 2011 verminder. In 2011 was 64,5% van respondente tevrede met hoe die howe in hul provinsie misdadigers oor die algemeen hanteer, vergeleke met 52,3% in 2015/16. Die meeste ontevredenheid was weereens in die Wes-Kaap, waar slegs 32,2% van respondente aangedui het hulle is tevrede met die howe. In Limpopo het die meeste respondente (73,5%) aangedui hulle is tevrede met die howe in die provinsie.

Lees die volledige misdaadslagofferverslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AL ·

Dis omdat die kop van die vis vrot wat die lyf begin vrot! Dis n natuurlike reaksie.

Johann ·

En ons moet al die nommers en totale en syfers glo as korrek? Of is DIE departement kwytgeskeld van polities korrekte aanstellings? Selfs dan twyfel ek of die slaagsyfers en toelatings vereistes sedert 94 ENIGSINS vertroue wek in die bekwaamheid van STATISTE? Maar erger nog: elke dag word blanke mense vermoor en geskend en dis n rariteit as daar oor berig word! VOLKSMOORD.

Jean ·

Ja hoor, nie moeilik as jy SELF kan sommer maak om te sien diegene wat 20% vir wiskunde gekry het se somme is VERKEERD nie. Die syfers word verseker of ‘verkeerd geinterpreteer’ of ‘verkeerd aangehaal’ of opsetlik verkeerd aangeteken. Geen land wat bekend is vir “vredemaker Mandela en sy reenboognasie” wil aan sy MOORDE uitgeken word nie. Baie moorde word as roof opgeteken, slagoffers sterf ‘n week of twee daarna eers .. Ek trust nie die regering of polisie of ‘onafhanklike ondersoekspan’ se syfers nie, alles word gekook om die regering goed te laat lyk!! Dis nes die matriekslaagsyfer wat nie diegene wat vanaf graad 8 uitval in berekening bring nie . maklik om so ‘n ‘foutjie’ met statistiek te maak om jouself beter te laat lyk.

marous ·

Natuurlik sal daar tevredenheid vir die howe in Limpopo wees….dit hou geen bedreiging in vir kriminele nie

GES ·

Die regering het dit oor hulle self gebring en het nie die “guts” om die probleem van bo af reg te maak nie. Ons het miskien ʼn DT nodig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.