Minder voëls, vis in Langebaan-meer

sonsondergang_voels_vlieg_water_dam.jpg

Foto: werathah.com

Skrywer: Alida Buckle

Die aantal pikkewyne, Kaapse malgas en verskeie waadvoëlspesies in die Langebaan-strandmeer het die afgelope jare dramaties afgeneem en is tans die laagste wat dit nóg was.

Só wys die jaarlikse verslag oor die toestand waarin Saldanhabaai verkeer, die “Stand van die Baai”-verslag. Die Saldanhabaai-watergehalteforumtrust monitor en analiseer al vir 20 jaar die verskillende ekologiese aanwysers in die baai wetenskaplik, om te bepaal in watter toestand Saldanhabaai verkeer.

Dr. Barry Clark van Anchor Environmental Consultants wat jaarliks die verslag vir die trust opstel, het tydens ʼn voorlegging in Langebaan gesê die voorkoms van verskillende visspesies in die baai het ook dramaties verminder van tussen tien tot 20 spesies in 1986, tot net ses of sewe spesies vanjaar.

In Kleinbaai is daar nou net twee visse per vierkante meter teenoor die vroeëre vyf visse. Grootbaai het een visspesie oor waar daar altyd twee tot drie spesies was.

“Dit is nie iets wat ons al voorheen teëgekom het nie en ons weet nog glad nie wat dit veroorsaak nie,” het Clark gesê. “Dit bekommer my baie. Ek weet nie waarmee dit verband hou nie. Ons sien nie groot veranderinge in die beskikbaarheid van kos vir visse nie, maar miskien kyk ons nie na die regte dinge nie.”

Verskeie seevoëlkolonies broei op die sewe eilande in en naby Saldanhabaai. “Amper al die spesies wat vanjaar getel is, se getalle is die laagste nóg. Dit is baie ontstellend,” sê Clark.

Pikkewyne by Boulderstrand, Simonstad (Foto: PaulNicolsonZA, Pixabay)

Volgens Clark het pikkewyngetalle en dié van die Kaapse malgas (Cape Gannett), die seemeeue en kuifkkop-kormorante aanvanklik dramaties toegeneem nadat die verwydering van ghwano (ontlasting van voëls) in die sestigerjare van dié eilande af verbied is. Die getalle het skerp toegeneem tot in 1999, waarna dit dramaties begin afneem het.

Clark glo daar is ʼn duidelike verband tussen die afname in die voorkoms van sardyne en ansjovis, die hoofvoedselbronne van die voëls, en hul dalende getalle. Volgens data van die departement van landbou, bosbou en visserye kom sardyne en ansjovis drasties minder voor – daar is vanjaar skaars enige sardyne langs die Weskus aangetref.

Ook minder voëls migreer jaarliks na dié area. Die Langebaan-strandmeer is een van die wêreld se gesogste bestemmings vir sowat 30 soorte waadvoëls, wat elke jaar daarheen migreer.

Volgens Universiteit Kaapstad se syfers het die getal migrerende waadvoëls gedaal van 35 000 in die somer en 10 000 in die winter in die 1970’s en 1980’s, na slegs 3615 vanjaar, ‘n daling van ongeveer 89%.

Getalle van die Curlew Sandpiper het gedaal van 20 000 per jaar na 1 335 voëls vanjaar. “Dit is problematies dat ons so baie van hierdie voëls verloor. Duisende toeriste kom kyk jaarliks na die voëls, bestudeer en tel hulle.”

Skeurtandhaaie-02

Nuuskierige visse kyk wat gebeur met hulle bure. Foto: Esté Meyer Jansen.

Verder ervaar Saldanhabaai die hoogste voorkoms van vreemde en indringerspesies soos eendmossels en die Europese swartmossel in die land, wat deur verhoogde skeepsaktiwiteite en mari-kultuur (mariene-teelt) vererger word.

Wat watergehalte betref, bly Peperbaai ʼn kopseer met die gevaarlike vlakke van spoormetale soos lood, kadmium, koper en sink in die sediment (grondafsaksel), wat baie keer die veiligheidsperke oorskry. Clark glo dat dit meestal nie veilig is om hier te swem nie.

Loodvlakke in mossels wat al om die baai uitgehaal word, het ook vanjaar hoog getoets, ver bó die perk wat dit veilig maak om te eet.

Clark het egter steeds die baai “stabiele” status gegee, want hoewel die biologiese aanwysers baie sleg is, het van die fisieke aanwysers verbeter, soos die dramatiese toename in bentiese makrofauna (die mikroskopiese goggas wat in die sediment leef).

Nog ʼn pluspunt is dat ArcelorMittal en ander nywerhede hul eie afvalwater begin hergebruik het, “wat ʼn besliste verbetering in die gehalte van die water in die baai tot gevolg het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Duifie ·

Hier in Pretoria, is die voëls in die tuin ook minder!!??

Amperdaar ·

Die Witdoodhaai, Walvisse en nou die Langebaanvoeëls almal verlaat die land!!

Joubert ·

Seker maar die vistrawlers van China wat ons kuste al leeg gevang het teen hierdie tyd.

Patch ·

Langebaan… en dit gaan seker ook op Eben blameer word ☺☺☺☺☺

Foxi ·

Blameer hulle nie…..het gevlug na groener weivelde en skoooooon water.

Kraaibakke ·

Hulle sien n groot ding kom wat ons nie kan sien of wil sien nie .Natuur is slimmer as ons en die wetenskaplikes ,maar die ekologie is so versteur
Reenval patroon ,kyk nou renosters ,itermago ,wat is volgende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.