Minderjarige vas ná hy teen 200 km/h jaag

motorsleutels

(Argieffoto)

ʼn 16-jarige seun is Sondag in hegtenis geneem nadat hy glo 200 km/h ná die aandkloktyd in Kaapstad gejaag het. Die tiener het glo sonder toestemming met sy broer se nuwe motor, ʼn Golf 7, rondgerits.

Hy is net een van talle verdagtes wat die afgelope week deur die Stad Kaapstad se wetstoepassingsagentskappe in die Moederstad vasgetrek is.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die Stad Kaapstad is die tiener Sondag omstreeks 01:00 vasgetrek nadat hy die spoedgrens op die Jan Smuts-rylaan, in die rigting van Grassy Park, ver oorskry het. Hy het ook deur verskeie rooi verkeersligte gejaag.

Verkeersbeamptes het die tiener by Ou-Strandfontein- en Ottery-weg van die pad afgetrek en in hegtenis geneem. Hy het die dag tevore 16 jaar oud geword.

JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het bevestig daar was vyf insittendes, waarskynlik so 15 jaar oud, in die voertuig.

Die tiener is in die sorg van sy pa vrygelaat.

“Ek sidder as ek dink aan die potensiële tragedie wat hom hier kon afspeel. Hoewel hy net ʼn lekker rit wou hê, was hy ʼn gevaar vir almal op die pad,” het Smith gesê.

Volgens die verklaring het die stad se wetstoepassingsagentskappe die afgelope week altesaam 202 verdagtes in hegtenis geneem, onder wie 27 vir roekelose en nalatige bestuur, 57 vir bestuur onder die invloed van drank, 49 vir die besit van dwelms, agt vir die besit van gevaarlike wapens, drie vir uitstaande lasbriewe, twee vir dwelmhandel, twee vir die besit van onwettige ammunisie, twee vir die besit van gesteelde eiendom, een vir die besit van ʼn nagemaakte vuurwapen en 23 vir kontakverwante misdade.

Altesaam 164 voertuie en 198 selfone is ook geskut en 75 087 boetes is opgelê.

Die stad se verkeersbeamptes het Vrydag ook ʼn man vasgetrek wat op ʼn bedrieglike wyse sy motorleerlinglisensie wou bekom. “Notas oor die toets is onder sy hemp se mou gevind. Hy het ook R2 000 kontant by hom gehad en het erken dat hy iemand wou betaal om die leerlinglisensietoets vooraf vir hom te gee,” lui die verklaring.

Verder het verkeersbeamptes Maandag omstreeks 07:00 ʼn minibustaxi in Brown’s Farm voorgekeer vir roekelose en nalatige bestuur. Die bestuurder het geweier om sy samewerking te gee, weggejaag en een van die beamptes in die proses met die taxi gestamp.

“Die beamptes het die taxi agternagesit, waarna die taxi verskeie kere probeer het om die beamptes se voertuig van die pad af te stamp. In ʼn poging om die voertuig te stop, het die beamptes ʼn paar skote op die minibus se bande afgevuur.”

Die bestuurder het in die rigting van die taxi-staanplek in Brown’s Farm gery, waarna hy die taxi verlaat het en te voet van die toneel gevlug het. Die beamptes het die toneel beveilig en die taxi is geskut.

Die taxi-eienaar het die bestuurder later die dag na die verkeersdepartement geneem. Hy is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leonard ·

Skuldige MÓÉT enige bestuurslisensie:
Geweier word, vir ten minste 10 jaar

Johan D ·

So ʼn knertsie meer as 50jr gelede kon dit ek gewees het!

Kathleen ·

ek stem , die owerhede moet vereis dat sy pa hom in die polisie stasie 1 ordentlike pak gee , hy moet vir dae nie kan sit nie ! dit is omdat kinders nie meer ordentlike opvoeding kry dat hulle maak soos hulle wil . toe ek groot geword het was daar nog so iets soos goeie pakke slae , vandag se kinders word te maklik groot !

Misky ·

Ek verwys na laaste deel van berig en taxi wat wegjaag vir polisie. Hoe swak (of is bestuursvernuf swak) is die polisie dan dat ‘n minibus taxi kan wegjaag vir polisie en nadat sy bande ook geskiet is? Of is dit ‘n geval van taxi bestuurder het weggehardloop te voet omdat die SAP lede te dik is om hom agterna te kon sit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.