Minderjariges by Beitbrug voorgekeer

Beitbrug-grenspos (Foto: newzimbabwe.com)

Vyf onbegeleide minderjariges is Donderdag deur die departement van maatskaplike ontwikkeling na Zimbabwe teruggestuur toe hulle in ʼn paneelwa gevind is. Hulle het nie die vereiste dokumentasie by hulle gehad nie.

Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement, sê die kinders, tussen 10 en 16 jaar oud, is by die Beitbrug-grenspos gevind. Hulle was op pad na verskillende bestemmings in Johannesburg.

“Maatskaplike werkers van die departement het hulle geassesseer en die Zimbabwiese owerhede gekontak vir veilige repatriasie.”

Die kinders is veilig aan Zimbabwiese owerhede teruggegee in die teenwoordigheid van die Verenigde Nasies se internasionale organisasie vir migrasie (IOM). Hulle is by ʼn kinder- en jeugsentrum in Zimbabwe waar hulle aan hul ouers oorgegee sal word.

“Dit volg ná die departement sy kwartaallikse oorgrensvergadering met owerhede van Zimbabwe belê het om seker te maak dat kinders veilig en binne wetgewing tussen Zimbabwe en Suid-Afrika reis.”

Tydens die vergadering die afgelope week is daar ooreengekom dat verwysingsmeganismes versterk moet word, families moet vinniger opgespoor word en hereniging moet versnel, en ondersteuning ná repatriasie moet verbeter word om te verhoed dat die kinders weer die grens na Suid-Afrika oorsteek.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ʼn oorgrens-memorandum van verstandhouding met Zimbabwe en Lesotho, veral wat kinders betref. Dit hou verband met samewerking en die verskaffing van maatskaplike dienste met die twee lande.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling is die bewaarder van die Kinderwet en moet seker maak dat alle kinders binne Suid-Afrika se grense die nodige versorging en beskerming geniet,” voeg Oliphant by.

Beamptes van die departement was op die toneel by Beitbrug en sal tydens die Paasnaweek ook Groblersbrug besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.