Mini-begroting: AfriSake waarsku teen belastingverhoging

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake. Foto: Solidariteit Beweging.

Skaars enkele maande ná die aanvang van Malusi Gigaba, minister van finansies, se termyn is Suid-Afrika se fiskale posisie skerp aan die verswak. Terwyl die regering desperaat op soek is na meer inkomste om sy weghol-bestedingsgewoontes te finansier, staar die bedreiging burgers en ondernemings in die gesig dat selfs meer van hul hulpbronne deur die staat toegeëien gaan word met swaar belastingheffings en -regulasies wat ekonomiese vooruitsigte net verder sal skaad.

Dié waarskuwing kom van AfriSake se uitvoerende hoof Piet le Roux op die vooraand van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk wat die minister van finansies dié week voorlê.

Die mini-begroting voorsien nasionale tesourie van die geleentheid om die parlement op datum te bring van die inkomste- en uitgawevooruitskattings wat in Februarie 2017 gemaak is, asook om planne en idees bekend te maak wat in Februarie 2018 ter tafel gelê kan word om in April 2018 ten uitvoer te bring.

Le Roux sê dat burgers en ondernemings moet fokus op hoe nasionale tesourie beplan om sy groeiende tekort toe te stop. “As die minister van finansies opregte verbintenisse aangaan om nié belasting te verhoog en nie te leen nie, en eerder besteding te verminder en nader aan ’n gebalanseerde begroting te beweeg, sal dit ’n uiters positiewe wending wees. Ongelukkig blyk dit hoogs onwaarskynlik te wees,” het Le Roux gesê.

Le Roux merk op dat onlangse inligting daarop dui dat die regering se bestedingsgewoontes eerder toeneem, wat dit dwing om staatseffekte uit te reik en gevolglik nasionale skuld te verhoog. Die volgende risiko is egter dat belasting- en ander regulatoriese laste verswaar. “Die Davis-belastingkomitee is druk besig om bykomende maniere te vind waarop die regering meer belasting kan in, terwyl die nasionale tesourie reeds oor verskeie hefbome beskik om waardevolle hulpbronne vanuit privaat hande na die staatskas te probeer oordra,” waarsku Le Roux.

Hy voeg by dat die neem van bykomende hulpbronne vanuit rykdomskeppende aktiwiteite en die kanalisering daarvan na rykdomverbruikende aktiwiteite egter geweldig negatiewe gevolge vir die welvaart van almal in Suid-Afrika sal inhou. “Nasionale tesourie het die vermoë en mag om meer belastings, aksyns en tariewe te hef, maar dit het nie die mag oor ekonomiese wette en menslike handeling nie. Wanneer die lewensbestaan van burgers en ondernemings al meer deur nypende belasting en regulering bedreig word, sal handel óf opdroog óf ondergronds gaan om van die staat se houvas te ontsnap. Hoe dit ook al sy, daar is ’n beperking op die hoeveelheid inkomste wat die regering uit die produktiewe sektore van die ekonomie kan tap. ’n Beduidende afname in die grootte van die staat is verkieslik bó meer vernietigende belasting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annerpiet ·

Piet, n baie goeie logiese opsomming van ons finansiele penarie. Weer wil ek egter daarop wys dat diegene wat nou die land regeer, nie weet wat LOGIKA beteken nie.

Eish ·

Dit gaan my verstand te bowe dat ons enigsins nog n redenasie na n positiewe uitkoms het met die klomp wolwe aan bewind. Daar is gewoonlik net n suikerlagie om die werklikheid maar sodra dit verweer het, slaan die kloue weer in die bates. Belasting gaan n gereedskapstuk word om die radikale ekonomiese transformasie te versnel. Die ekonomiese situasie gaan eenvoudig die rookskerm wees. Daar is nie n manier dat die kern van kiesers vervreem gaan word ten koste van n goeie begroting nie.

Die van ons wat werk vir n lewe word eenvoudig oordonder deur die deel van die bevolking wat stem vir n bestaan.

Johanna Botha ·

So goed gestel die massas stem vir n bestaan terwyl die res werk vir n bestaan !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.