Mini-begroting: Groeiende staatskuld, groter begrotingstekorte

Minister Tito Mboweni. Foto: Parlement

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdagmiddag sy eerste mediumtermynbegroting gelewer.

Mboweni het sy toespraak begin deur te sê dit het ʼn moeilike tyd geword vir gewone Suid-Afrikaners weens stygings in onder andere elektrisiteit- en brandstofpryse. “Die werkloosheidsyfer is onaanvaarbaar hoog en swak dienslewering en korrupsie het die armes die hardste geslaan.”

Mboweni het gesê die mediumtermynbegroting word aangebied teen die agtergrond van die tegniese resessie waarin Suid-Afrika hom bevind. “Die ekonomiese verwagtinge ten tyde van die begrotingsrede in Februarie 2018 het nie gerealiseer nie.”

Volgens Mboweni sal ontwikkelende lande se ekonomieë na verwagting met 4,7% groei in 2018 en 2019. Suid-Afrika se groeivooruitskatting vir 2018 is intussen afwaarts aangepas van 1,5 tot 0,7%. “Groei sal na verwagting geleidelik herstel tot oor 2% in 2021 soos vertroue terugkeer en die tempo van beleggings toeneem.”

Minister Tito Mboweni met sy aankoms by die parlement,

Mboweni het hierna na pres. Cyril Ramaphosa se vyf maatreëls om die ekonomie te stimuleer verwys. Rakende hervormings om die ekonomie te laat groei het Mboweni gesê die heropbou van vertroue sal beleggings uit die private sektor ontsluit. “Beleggers wil weet dat ons beleide duidelik en konsekwent is. Ons moet ophou om in teenstrydige terme te praat.”

Oor die herprioritisering van openbare besteding om groei en werkskepping te ondersteun, het Mboweni gesê staatsbesteding sal na verwagting sowat R590 000 miljard oor die mediumtermyn beloop. Besteding gaan dus steeds vinniger as inflasie toeneem. Dit is baie geld. Ons kan meer daarmee doen.”

Mboweni het gesê daar sal oor die volgende drie jaar na verwagting R855,2 miljard op infrastruktuur bestee word, waarvan R370,2 miljard op staatsbeheerde maatskappye. Mboweni het ook gesê daar sal in munisipale infrastruktuur belê word.

Minister Tito Mboweni. Foto: Parlement

Volgens Mboweni sal die grootste deel van die begroting op die mediumtermyn op onderwys, gesondheid en maatskaplike ontwikkeling bestee word.

Die minister het gesê die regering bly verbind tot sy doel om skuld in verhouding tot BBP te stabiliseer en te verminder. “In die afgelope paar maande het verslegtende ekonomiese prestasie, ʼn tekort aan inkomste en ’n swakker rand alles bygedra tot hoër skuldprojeksies.

Die gekonsolideerde begrotingstekort word in 2018/19 op 4% geraam. Tydens die begrotingsrede vroeër vanjaar is dit op 3,6% van die BBP geraam. Volgens Mboweni sal bruto skuld na verwagting teen 2023/24 stabiliseer op 59,6% van die BBP.

Volgens Mboweni sal die belastingtekort na verwagting sowat R27,4 miljard minder wees as verwag. Daar word ook belastingtekorte van R24,7 miljard in 2019/20 en R33 miljard in 2020/21 verwag.

Mboweni se volledige toerspraak kan hier gelees word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dries ·

Jammer minister. Met meer as 90% van e-tol wat na di buiteland gaan, sien ek steeds ni my weg oop om dit te betaal ni…

Afrikaanse Knaap ·

Nou moet ons net ‘n manier vind om almal wat wat agv regstel aksie en geweld ge-emmigreer het, te laat terug kom. Maar hoe… hoe oorreed jy daardie mense hulle het geleenthede en ‘n toekoms in ‘n veilige nie-rassige SA?

Tobie Klarens ·

Eenvoudig. Daar is geen manier hoe SA hulle sal terugkry nie. Hulle is weg vir altyd. Inteendeel, duisende staan tou om ook pad te gee en minder as 2% kom terug, gewoonlik omdat hulle verplig word om terug te keer. En vir goeie rede. In 20 jaar sal die wit bevolking afneem in getalle van 8.5% van die bevolking tot onder 1%

leser ·

kry die klomp wat onwettig in die land is/ingekom het wat om elke draai ‘n “shop” oop het, dat hulle ook belasting betaal, moenie van taxi’s vergeet nie
die voorstel was nog altyd gewees, het jy ‘n belasting nommer, dan kan jy stem, mesdiese voordele gebruik, skole gebruik
maak van biometriese tegnologie gebruik, dit is daar, koppel dit ook aan polisie se data basis
kom min mboweni, wys wat in jou steek

Jan ·

Mboweni mowt maar die Amerikaanse lotto speel. Kan moontlik daar n paar miljard kry

Spiekeries ·

Hoekom vra hy nie die vraag waarom is SA se verwagte groei net ongeveer een sewende van die van ontwikkelende lande nie? Kan dit wees omdat net een sewentiende van SA se bevolking presteer? Neem kennis mnr Ramaphosa: Daar kan geen gelykheid wees as een groep van die bevolking n ander konsekwent en konstant “outperform” nie. Die oomblik as jy dit besef sal jou George Soros-wysheid van geen vrede sonder gelykheid vir jou ook uitstaan as pure nonsens. Laat jou ondersteuners vinger trek sodat ons by die wêreld kan aanpas en bly.

Andre ·

Geen woord oor onteiening sonder vergoeding en die geweldige negatiewe impak wat dit op die ekonomie het nie? En die R35 BILJOEN wat studente die Regering se NSFAS skuld en NIE betaal nie?

Ekonomiese sabotasie ·

Die ANC is verantwoordelik vir ekonomiese sabotasie (SEB, regstellende aksie, nepotisme, anargie, en die plundering van inkomste belasting) wat gepleeg word sedert 1994. Met die nuwe oneiening van grond sonder vergoeding ideologie, sal die ekonomiese sabotasie voortduur totdat SA heeltemal gedekoloniseer het soos ons buurlande.

koos1 ·

Met jou inkomste minder as jou uitgawes……. SA moet aansoek die vir skuldberading by die NCR.

LVH ·

Net jammer dat die tekorte by die gewone man-op-die-straat verhaal gaan word. Geen woord word gerep oor die hebsug van die regeringslui wat so lekker speel met die bevolking se geld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.