Mini-begroting: ‘Kan ons uit hierdie gat kom?’

dawie-roodt-afrisake-2017-04-24

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep. Foto: Reint Dykema.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het Woensdag in reaksie op min. Tito Mboweni se mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê ondanks die donker prentjie wat deur Mboweni geskets is, verwag hy dat die werklikheid nog veel erger sal wees.

Mboweni het gesê die mediumtermynbegroting word aangebied teen die agtergrond van die tegniese resessie waarin Suid-Afrika hom bevind en sy mini-begroting dui op groeiende staatskuld en groter begrotingstekorte. Die begroting het grootliks negatiewe reaksie van politieke partye, kenners en sakelui uitgelok.

Mboweni het sy beraming vir ekonomiese groei afwaarts aangepas van 1,5 na 0,7%, maar Roodt meen die minister is steeds te optimisties en groei kan selfs nog minder wees. Ook Mboweni se verwagting vir inflasie is te optimisties, vermoed Roodt, en hy voorspel dat inflasie op kort termyn tot bo 6% kan styg.

Roodt het bygevoeg Mboweni se planne om plaaslike owerhede en staatsondernemings se finansiële bestuur te verbeter, is “ʼn goeie idee”, maar of die minister daarin sal slaag om dit af te dwing, is ʼn ander kwessie. “Die minister het ook gesê ons moet ons belasting en ons e-tol betaal. Dit behoort oor die volgende paar maande ʼn stryd af te gee. Ek dink nie mense gaan gewillig wees om vir e-tol te betaal nie, veral nie in gevalle waar die tolgeld reeds opgehoop het tot ʼn baie hoë syfer nie.”

Volgens Mboweni sal bruto skuld na verwagting teen 2023/’24 stabiliseer op 59,6% van die BBP, wat reeds ʼn rekordhoogte is. Ook hier dink Roodt die situasie kan selfs slegter wees en hy verwag skuld sal tot bo 60% styg.

“Die minister was eerlik oor die benarde situasie van die ekonomie en die absoluut verskriklike toestand van staatsfinansies in Suid-Afrika,” sê Roodt. “Die vraag is, sal die minister in staat wees om ons uit hierdie gat te grawe – hierdie gat wat deur sy eie regering, ʼn verwoestende ANC-regering, geskep is? Kan hy ons uit hierdie gat kry? Dit sal ʼn baie, baie lang tyd neem en ek hou nie juis my asem op nie.”

piet-le-roux-afrisake-2018-06-05

Piet le Roux, die uitvoerende hoof van Sakeliga. Foto: Reint Dykema.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê Mboweni se belangrikste taak was om ʼn visie vir ʼn kleiner begrotingstekort voor te lê, maar hy het nie daarin geslaag nie. “Dis ʼn feit dat die staatskas teen ʼn gevaarlike tempo verder in die rooi gaan. Uitgawes het inkomste die afgelope dekade jaarliks met tussen R100 miljard en R250 miljard oorskry. Om die fiskale posisie te begin konsolideer, sou die begrotingstekort binne die afsienbare toekoms tot minstens onder R100 miljard per jaar verminder moes word. Mboweni het geen aanduiding gegee dat hy bereid is om die moeilike besluite te neem wat nodig is om dit te bereik nie.”

Le Roux wys daarop dat Mboweni hierdie keer waarskynlik min invloed op die mediumtermynbegroting self kon gehad het. “Hy is maar skaars twee weke in die tuig, so daar is nie veel wat hy aan heelwat van die syfers sou kon doen nie. Hy sou byvoorbeeld nie sommer die voorsiening vir die staat se salarisrekening afwaarts kon aanpas nie, maar het ten minste gepoog om die groei daarvan binne perke te hou. Terselfdertyd is daar weereens reddingsboeie vir SAA, SA Express en die Poskantoor belowe en Mboweni het hierin ongelukkig nes sy voorgangers opgetree.”

Le Roux het wel sy blydskap uitgespreek dat Mboweni klaarblyklik daarteen besluit het om voorbrand vir van sy meer omstrede beleidsvoorkeure te maak. “Dit is goed dat Mboweni nie dinge soos ʼn staatsbank, ʼn staatsfonds (sovereign wealth fund) en 40%-staatseienaarskap van mynmaatskappye in die vooruitsig gestel het nie. Hopelik sal hy permanent hiervan afsien. Uit sy eerste begrotingsrede is daar ongelukkig geen teken dat Mboweni tans oor die nodige visie vir fiskale stabilisering beskik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jerry

Natuurlik kan ons uit die groot gat kom. Niks is ontmoontlik nie. CR en Tito se intensies is goed. Daar is selfs n verskanste uitnodiging aan AfriForum om tafel toe te kom en te help om die murasies te help opbou. Indien opposisie partye die verkleining van die kabinet en staatsdiens ondersteun en druk opsit om staatsbeheerde entiteite soos SAA te privatiseer, dan kan ons uit die gat uitkom, al is dit net tydelik. SA is in n krisis en as almal saam as n nasie trek om die wa deur die drif te kry kan dit werk. Niks anders… Lees meer »

Ja Nee

Daars n beter kans dat die son uit die hemel val as wat die anc die land sal kan red van ekonomiese ondergang.

John

Sal ‘n leertjie wat nie net met miljarde stukkies geplakte papiertjies gebou word nie, nie dalk net stewiger wees en beter werk nie? Soos dit nou gaan stort die spulletjie telkens in duie en die klouteraars klou aan die trappies, gevolglik… En elke jaar staan ‘n ander oompie in die parlement en help die opkomendes en afvalliges met sy towerdoepa- /*miljarde, en vergas ons weereens met ‘n tranetrekker-ineenstortingskandaal.

Janosh

E-Tol betaal???? Daar’s nie ‘n manier nie. Ek sal nie 2 keer vir dieselfde ding betaal nie, en hier moet ons as burgers styf saamstaan. Wat ons voorsate oor 100de jare opgebou het in hierdie pragtige land, het die cANCer-regering binne 24 jaar geheel en al vernietig. En moenie dink dat China die antwoord is nie. Hulle sal letterlik die land soos ‘n padda stadig kook. Om hierdie land reg te ruk kort intense buitelandse beleggings, en dit sal eers gebeur waneer die staat vertrou kan word, korrupsie uitgeroei is, (skuldiges moet tronk toe) sakevertroue herstel het, en eienaarskap onaantasbaar… Lees meer »

J

Ek vrees die dag as ons pensioene deur die staat gevat word en dat gov dan jou pensioen n maand betaal . Pensioenarisse trek reeds aan die kortste end. My oe het oopgegaan nou dat ek self pensioen kry. Bittermin na 26 jaar diens.