Mini-begroting ontleed: ‘Morsig, maar ook rede tot hoop’

winslyn-mini-begroting-paneel-2018-10-25

V.l.n.r. is Marnus Broodryk, Hamlet Hlomendlini, Francois Stofberg, Amelia Morgenrood en Divan Botha wat die mini-begroting ontleed het as deel van ‘Winslyn’ se sakeontbyt. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die syfers wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk genoem het, is skokkend, maar dit was die eerste eerlike begroting in ʼn lang tyd.

Dit was die mening van ʼn paneel kenners wat Donderdag tydens ’n sakeontbyt van Winslyn, kykNET se sakeprogram, die mediumtermynbegroting ontleed het.
Amelia Morgenrood, aandelemakelaar en portefeuljebestuurder by PSG, het gesê Mboweni het daarin geslaag om talle sleutelkwessies en probleme in Suid-Afrika se ekonomie in sy eerste begrotingsrede uit te lig.

“Hy het ongelukkig daarin gefaal om enige definitiewe plan te verskaf van hoe om hierdie probleme op te los. Ek sou graag syfers en duideliker stappe hieroor wou gehoor het.”

Morgenrood het gewaarsku dat baie van die temas wat Mboweni genoem het, ook al voorheen deur talle ander ministers geopper is. Sy het ondermeer verwys na die minister se pleidooi vir groter samewerking tussen die private en openbare sektor.

Sy meen ʼn positiewe aspek van die mini-begroting was dat Mboweni niks oor verhoogde belastings in 2019 gesê het nie. “Dit word gewoonlik reeds tydens die mediumtermynbegroting genoem sodat daar voorbereiding hiervoor in die nuwe jaar gemaak kan word.”

Nog ʼn positiewe aspek vir Morgenrood was dat Mboweni gesê het die regering sal die verskeie waterkwessies in die land uitsorteer. “Dit is net vir my sleg dat ons die gewapende magte hiervoor moet gebruik.”

“Ek dink dit is die eerste keer in die geskiedenis van enige land dat ʼn politikus praat oor die staatsamptenare se salarisrekening wat te hoog is. Dit is beslis ʼn teken van verandering en dit sal goed wees as ons ʼn fokus hierop het,” het Francois Stofberg, ʼn ekonoom van die Efficient Group, gesê.
Die paneel was dit egter eens dat Mboweni en Ramaphosa dit nie sal waag om staatsamptenare af te lê en die kabinet te verklein so kort voor ʼn algemene verkiesing nie.

Hamlet Hlomendlini, ʼn landbou-ekonoom verbonde aan Absa, het gesê dit was vir hom verblydend dat Mboweni erken het dat daar probleme is met die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Dit was my ook goed dat die minister landbou as ʼn belangrike ekonomiese dryfveer uitgewys het. Daar heers tans baie onsekerheid onder boere oor hul toekoms en dit bring ʼn mate van verligting as die regering die noodsaaklikheid van die bedryf erken.

“Ons was ook aangenaam verras dat die Landbank befondsing van R4,4 miljard gaan ontvang. Dit is die bank wat opkomende boere moet help en dit kan die begin van iets groots wees.”

Marnus Broodryk, ʼn entrepreneur, het gesê dit was vir hom ʼn eerlike begroting. “Ek ontleed die mediumtermynbegroting om te kyk wat dit vir kleinsake-ondernemings gaan beteken.

“Die begroting wys natuurlik beleidsrigting aan en in dié sin dink ek nie daar was enige goeie nuus nie. Mboweni het die slegte nuus gegee, sonder om enige doekies om te draai, tog reken ek dit kan ʼn draaipunt vir die land se ekonomie wees.”

Broodryk het gesê kleinsake-ondernemings se verhouding met die regering is maar soos ʼn huwelik waar een eggenoot baie lojaal moet wees, terwyl die ander talle beloftes maak en niks daarvan nakom nie. “Entrepreneurs is eintlik al gewoond daaraan.”

Die paneel het saamgestem dat hierdie nie ʼn verkiesingsvriendelike begroting was nie. Hulle glo egter nie pres. Cyril Ramaphosa sal swaar hiervoor by die stembus gestraf word nie. Wat dit wel gedoen het, is om tyd vir die plaaslike ekonomie te koop en moontlik net nog ʼn kredietafgradering af te weer.

Hulle was dit ook eens dat die reddingsboei om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens reg te ruk nodig was, maar hulle was nie gelukkig oor die hulp aan ander staatsbeheerde instellings nie.

Divan Botha, aanbieder van Winslyn, het bygevoeg dat dié soort instellings eintlik daar is om by te dra tot die fiskus, maar in dié stadium melk hulle die regering leeg.

“Ek dink dit is belangrik dat die regering begin besef dat hulle nie die beste mense is om ʼn onderneming te bestuur nie en dit eerder oorlaat aan entrepreneurs.

“Natuurlik besef ek dit sal nie dadelik gedoen kan word nie, maar dit is goed om te sien dat die minister van finansies begin praat oor die opsie om te privatiseer – dit laat ʼn deur hiervoor in die toekoms oop,” het Broodryk gesê.

Botha wou by die paneel weet hoe hulle die volgende twee jaar van die ekonomie sien.

“Kyk, ek dink die volgende twee jaar in Suid-Afrika gaan slegter lyk, maar ons gaan beter begin voel. Daar is baie dinge wat moet reggemaak word, maar ek dink die markte, beleggers en verbruikers se sentiment is positiewer,” het Stofberg gesê.

Morgenrood meen ontluikende markte is maar altyd morsig en alles werk nie altyd soos wat dit moet nie. “Jy kan egter beslis nog ʼn lewe in dié soort markte maak.”

“As jy vandag vet is, is dit nie omdat jy net vanoggend verkeerd geëet het nie, dit gaan oor dít wat jy al vir twee jaar doen. Twee jaar terug het Suid-Afrika vir Brown, Van Rooyen en Zuma gehad, nou het ons Gordhan, Ramaphosa en Mboweni,” het Broodryk bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

Dis so goed as om te erken jy het jou vrou verneuk, en as jy gevra word wat gaan jy daaromtrent doen, is jou antwoord, “ek dink nog daaroor”. (Wel, ten minste hoef die man wat sy vrou verneuk het nie ‘n paneel aan te stel om hom met ‘n antwoord by te staan nie.)

Chris Ws ·

Raak ontslae van SAL.Ons land het hom NIE nodig nie.Raak ontslae van e-tol – hy rem die ekonomie net verder af want net 7% van sy inkomste bly in die land agter “om paaie instand mee te hou”.Dis belaglik.Privatiseer Eskom so gou moontlik.Kry die spoor netwerk weer aan die gang vir spoor vervoer van goedere.Minder swaar voertuie op ons paaie sal die instandhouding verminder.

The Boxer ·

” Asking only workman’s wages
I came looking for a job
But I get no offers…
I am just a poor boy…..”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.