Mini-begroting: Planne om staatskuld te stuit

Die terugbetaling van skuld neem ‘n beduidende hap uit die land se begroting. (Argieffoto: Maroela Media)

Suid-Afrika se skuld hou aan groei – ieder geval vinniger as wat die ekonomie groei – en die koste om die land se skuld van R4 biljoen (“trillion”) terug te betaal, gaan teen volgende jaar die grootste gedeelte van die land se besteding behels.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het Donderdag in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk, oftewel die mini-begroting, gesê Suid-Afrika het boonop geen manier om dié uitgawe te omseil nie. Daar moet dus na ander bestedingsprioriteite gekyk word.

Die koste om skuld te betaal sal na verwagting van R269,2 miljard in 2021/’22 tot R365,8 miljard in 2024/’25 toeneem.

“Dit is meer as die begrotings vir gesondheid en polisie,” sê die minister.

Hoër belastinginvordering help om dié las te dra en inkomste vir 2021/’22 gaan na verwagting R1,5 biljoen bereik, in vergelyking met die R1,4 biljoen waarop dit in Februarie gestaan het. Dit is ʼn opwaartse aanpassing van R120,3 miljard.

Die gekonsolideerde begrotingstekort gaan in 2021/’22 op ʼn verwagte 7,8% te staan kom en sal dan gaandeweg verminder tot 4,9% in 2024/’25, sê die minister.

Volgens die tesourie sal skuld teen die 2025/’26-boekjaar op 78,1% van die BBP stabiliseer en met verloop van tyd gaan die konsolidasie die regering toelaat om die geld wat hy tans bestee om krediteure terug te betaal, op gebiede soos gesondheid, onderwys en ekonomiese ontwikkeling spandeer kan word.

Nietemin word 21c uit elke R1 wat ingevorder word, gebruik om die rente op staatskuld te delg. Die groeiende koste hieraan verbonde, meen kenners, is ʼn duidelike teken dat Suid-Afrika sy openbare finansies in bedwang moet hou sodat besteding ten gunste van maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling herlei kan word.

Die Covid-19-pandemie het gelei tot ʼn historiese ekonomiese inkrimping, ʼn ongekende vergroting van die begrotingstekort en ʼn skerp styging in skuld. Staatskuld is nou sewe keer meer as in die 2007/’08-boekjaar (van R577 miljard tot meer as R4 biljoen) en die groter skuld beteken terugbetalings op rente sluk ʼn groeiende gedeelte van die land se hulpbronne in.

Dit sal oor die volgende twee jaar gemiddeld 5% van die algehele BBP beslaan. En hoewel openbare besteding toegeneem het, het besteding wat langtermyngroei ondersteun – soos kapitale beleggings in infrastruktuur – gekrimp, sê die tesourie.

Fiskale konsolidasie sal die koste om skuld terug te betaal teen 2026/’27 tot minder as 22% van die algehele begroting laat daal.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê die mini-begroting wys dat skuld nou meer geld as gesondheid, maatskaplike ontwikkeling en vrede en sekuriteit in die geheel vereis.

“In wese betaal ons meer vir skuld as wat ons vir verpleërs, dokters en onderwysers betaal.”

George sê die tesourie se verwagting dat die skuld-tot-BBP-koers eers teen 2026 gaan stabiliseer, is ʼn duidelike bewys dat die pad na bestendige openbare finansies “versper word deur die regering se hopeloos onvoldoende ekonomiese beleid”.

Volgens George het die minister versuim om terugvoer oor enige vordering met die bestuur van die staatsdiens se salarisrekening te gee, hoewel hy toegee dat dit teen ʼn vinniger tempo as die BBP toeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thelsa ·

Ek is bevrees dit sal by planne bly . . . uitvoering is nie binne hulle vermoëe nie

Swerwer ·

Uitvoering is nie ‘n opsie nie. Voor Covid was die mense werkloos want 1000de wil nie werk nie, maar aan ieder en elk word R350 per maand betaal en nou nog verleng na volgende jaar. ‘n Skreiende skande, daar behoort ‘n ouderdomsbeperking te gewees het op hierdie geld wat so heerlik mahala uitgedeel word. Dink die regering vir een oomblik die klomp wat nie wil werk nie, gaan ‘n poging aanwend om iets te doen, beslis nie. Die regering kon al hierdie 1000 rande gebruik het om gesinsbeperkings in te stel sodat die klomp wat so kinders maak vir die kindertoelaag te beperk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.