‘Minimum loon kniehalter arbeidsmag’

Die minimum loon het ‘n omgekeerde uitwerking op die welstand van die arbeidmag. (Foto: Maroela Media)

Die regering het die minimum loon vir plaaswerkers en huishulpe vir 2022 aangekondig. Dié loonskaal tree op 1 Maart in werking.

Vir huishulpe is die minimum loon van R19,09 per uur tot R23,19 per uur verhoog en vir plaaswerkers van R21,69 tot R23,19 per uur.

Maroela Media het by die Landbouwerkgewersorganisasie (LWO) gaan uitvind hoe dié verandering die arbeidslandskap gaan verander.

“Hoewel boere minder as ander ondernemings en huishoudings tydens die Covid-19-inperkings geraak is, gaan hierdie steeds ʼn uitdaging wees om dit by te bring,” sê Alwyn Annandale, senior regsadviseur by die LWO.

“Vir huishoudings gaan dit egter baie moeilik wees, want huishulpe se minimumloon was eers onder die nasionale minimumloon en het nou gespring om in lyn met die nasionale minimum loon te wees.

“Mense wat huishulpe het, sal afskaal en hoewel ons dit nie nou gaan sien nie, sal dit weldra plaasvind namate huishoudings se geld minder word.”

Hy sê boere kan wel aansoek vir kwytskelding doen deur ʼn proses te volg. Die vakbonde moet in kennis gestel word en hul insette moet verkry word. Die aansoeker moet ook sy finansiële verslae aan die departement van arbeid voorlê.

“Ons het boere in die verlede gehelp en daar was suksesse. Kwytskelding is vir ʼn jaar geldig en ʼn vergoeding van 5% minder as die minimum loon word toegestaan.”

Dubbel standaarde

TLU SA sê dit is vir hulle baie jammer dat die minimumloonverhoging ingestel is, gegewe die vlak van werkloosheid en die toestand en agteruitgang van die land se ekonomie.

“Die regering is eintlik nou veronderstel om elkeen van die wysigings wat geïmplementeer word, te toets, om te kyk of dit ekonomiese groei en werkskepping teweeg gaan bring,” het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, vir Maroela Media gesê.

“Ons is vasgevang in ʼn omgewing wat nie ʼn minimum loon kan bekostig nie en daar gaan heel moontlik nog verdere afleggings in die landbousektor wees. Ons is bekommerd dat ons toenemende werkloosheid gaan hê en dit is hartseer om te sien dat die regering se oplossing daarvoor is om nog meer maatskaplike toelae uit te reik.

“Boere moet nou toenemend keuses maak en tegnologie en meganisasie gaan al hoe meer na vore kom. Masjiene stel nie eise nie en staak nie. Jy sit dan sonder hierdie opeisende kultuur wat jy in die arbeidsomgewing beleef, waarmee jy nie deurlopend gebombardeer word nie.”

Van Zyl noem dat die regering werkers wat in projekte en programme aangestel word, slegs R12,75 per uur betaal. “Nou is die vraag, as die regering R23,19 nie eers as ʼn behoorlike minimum loon beskou nie, wat sê hulle dan van R12,75, wat amper die helfte is van wat landbou moet betaal. Die staat verwag van die privaatsektor, wat onder druk is, om sekere mikpunte en doelwitte te bereik, maar hulle kom nie self daarby uit nie.

“Die mark moet toegelaat word om homself te reguleer, sodat ʼn werkgewer ongeskoolde mense teen ʼn onderhandelde bedrag in diens kan neem, wat die mense ten minste sal toelaat om op die eerste sport te klim en dan die geleentheid gegun word om te presteer.”

Hy sê dit lyk nie of die regering besef watter skade hulle doen nie “en sodra die kantelpunt in ’n verkeerde rigting wys, is dit ʼn kwade dag”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Swerwer ·

Die ANC het nie meer geld om sy kader mee te voer nie, nou word dit weereens op die onwelkome landsburgers en boere af forseer. Nie vir 1 oomblik het die klomp al besef waar die geld wat in die land was, vandaan gekom het nie. Dit was maar te lekker om te skep want hul het nie gewerk nie, en werk nou nog nie.

Rooikoos ·

Dit is deel van ‘n kommunistiese stelsel om uiteindelik almal afhanklik te maak van die staat, sodat die staat algehele beheer het oor almal.

Witbaard ·

Huishulpe se werksweek krimp net verder want die werkgewer se inkomste bly dieselfde.

Martin ·

Een uit drie van alle Suid-Afrikaners is tans werkloos en die land se werkloosheidsyfer is nou die hoogste in die wêreld. Dit is volgens ’n lys van 82 lande deur ‘n onlangse finansiële publikasie. Werkloosheid in SA staan tans op 43,2%. Doen jouself ‘n guns en tel ‘n casual op vir die dag om jou vinnig te help in die tuin, baie van hulle is nie van SA nie maar hulle is bereid om te werk. Hulle is gewoonlik afkomstig vanaf Zimbabwe of Malawië. Hoe kan SA hulle toelaat om in te stroom wanneer ons eie mense nie werk het nie. Dit is ‘n ticking time bomb…

SjN ·

Kaders sorg net vir hulself en voel niks vir die wat hul werk gaan verloor agv n ver bo inflasie koers verhoging.

Erik ·

Wel, ek kan nie dink dat enige iemand met enige bietjie selfrespek iemand vir hulle kan laat werk en so min betaal nie. Almal wat ek ken betaal heelwat meer as die minimum loon. Miskien vind uitbyting in die platteland plaas, maar huishulpe verdien maklik R4000pm in Bloemfontein (voltyds) en kry dan dikwels ook kos elke dag en soms ekstra vir vervoer. Ek glo dit sal meer wees in groter stede. En die wat dink dis baie geld moet dalk aanmeld vir werk as huishulpe.

Nommer 7 ·

Netso Erik. Huishulpe en hul werkgewers betaal dieselfde vir brood en melk.

Piet parys ·

So die vraag is jy wat skatryk is hoekom betaal jy nie 6500 soos navorsing bewys dit werklik kos om n basiese bestaan te voer nie. Dis n vryemark as jy nie tevrede is met jou werksomstandighede en salaris nie bedank dan .

Pieter ·

Laat die sleg anc vir julle werk gee julle het mos vir hulle gestem. Die anc moet sy eie mense begin betaal en die honderd miljoen wat hulle vir belasting skuld dit is wat hulle moet doen.

Debbie ·

Waarom altyd kerm oor plaaswerkers en huishulpe se salaris? Hulle moet bietjie begin ondersoek instel by ander beroepe ook. My seun is n Gr B armed response sekuriteit in n dorp in wes kaap. Hy kry minimum wage, dieselfde as n huishulp. Hy werk 12 uur n dag. Geen tee tye of lunch tyd nie. Dag en nag diens. Hy kan nie kla nie anders word hy die deur gewys. Hy moet aanvaar wat hy kry. Hoekom word hulle nie gehelp nie?

VaalDonkie ·

Dis ‘n skande. Hulle reken dis nie “skilled labour” nie, maar tog word hulle opgelei en word daar van hulle verwag om hul liggame te offer om ander mense veilig te hou. Ek het een Desember vakansie so as sekuriteit by ‘n hotel gewerk. Darem gelukkig ‘n fancy ene waar daar nie barnies uitbreek nie. Ons het 7 tot 7 gewerk, dagskof of nagskof. Hulle het my (in 1999) R300 ‘n week betaal. Maar ek moes vir my uniform betaal en dit was R450. So ek het in twee weke se tyd R150 verdien. Dis ook sommer toe ek besluit dis nou nie my ding nie en toe maar bedank. Gelukkig was dit net ‘n tydelike somer joppie vir “sakgeld”. Maar dis geen verskoning nie.

Alida ·

Die sekuriteitsektor val onder die Sektorale Vasstelling nr6 soos in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, en sover ek weet is hulle vergoeding meer as die minimum wage. Die hoeveelheid ure wat hulle per week mag werk, word ook daardeur bepaal. Hulle by daardie firma word waarskynlik uitgebuit met te veel werksure en te min betaling, maar as niemand kla nie, sal die situasie voortduur. Sluit aan by ‘n goeie vakbond soos Solidariteit sodat hulle na sy saak kan kyk. My swaer was in dieselfde situasie, ook in ‘n dorp in die Wes-Kaap. Gaan nou heelwat beter.

Barney ·

Is enige van julle bereid om ander se “vuil werk” te doen vir so min geld? Ek sal my skaam om my werkers so min te betaal. En ek is nie ryk nie

Piet parys ·

Wat is vuilwerk jy sien al kla neer op huiswerkers . My ma het ons 6 kinders self groot gemaak sonder die luukse van n huishulp . So fire die lot en gebruik jou hande om jou huiswerk self te doen.

Nico ·

Dit is die regering en die unies wat die werkloos syfer opstoot.

VaalDonkie ·

Ja maar kyk so daarna: In 1995 het my pa R4500 per maand in die Vrystaat verdien as plaas voorman. In 2005 betaal die boere nogsteeds R4500 per maand. En in 2015 nog steeds. En in 2025 sal hulle seker nog steeds.

In 1995 kon jy met R4500 baie ver uitkom want skoolfonds was R150, huur was R600 en ‘n pakkie sigarette was R4. Vandag is skoolfonds R2000, Huur is R8000 en ‘n pakkie sigarette is R50. Alles is meer as tien keer duurder, maar die arme plaaswerkers moet nog aansukkel sonder verhogings. En dan moet jy nog hoor jy “moet dankbaar wees om ‘n werk te he”. Ek is dankbaar my pa is in 2001 oorlede sodat hy nie meer sulke snert hoef aan te hoor nie.

En terloops, dis nie rerig ‘n “verhoging” as dit net tred hou met inflasie nie. Maar selfs dit sou nice gewees het. Dalk sou die man dan op ‘n bed kon doodgaan,en nie op ‘n kaal vloer nie. Maar kom ons sluit maar daar af.

Alida ·

Die groot probleem is dat daar so baie mense in SA is wat ongeskool en onopgelei is, en dus is die kompetisie vir werk wat vir minimum loon kwalifiseer, baie hoog. En tog is daar ook mense wat sukkel om poste gevul te kry by hulle firmas, omdat daar nie aansoekers met die regte vaardighede en kwalifikasies beskikbaar is nie. Tragiese toedrag van sake.

Piet parys ·

En die massas is te blind om te sien hoeveel werks geleenthede al verlore is agv van onnosele besluite en wanbestuur deur die ANC . Werkloosheid sterk op pad 60% toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.