Minister appelleer oor Valke-hoof

Minister Nathi Nhleko by 'n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Minister Nathi Nhleko by ‘n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko, minister van polisie, gaan appelleer teen die hof se besluit dat sy aanstelling van lt.genl. Berning Ntlemeza, hoof van die Valke, ter syde gestel moet word.

Nhleko sal Maandag hofdokumente in dié verband indien. “Die minister glo die jongste verwikkeling is in die beste belang van geregtigheid en die voortgesette stryd teen misdaad en korrupsie in die land,” het sy woordvoerder gesê. Nhleko het gesê die appèlproses sal tot gevolg hê dat Ntlemeza kan voortgaan in sy pos.

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydagoggend beslis Nhleko moet Ntlemeza se aanstelling ter syde stel. Dit volg nadat die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) die aansoek ingedien het.

Nhleko het Ntlemeza aangestel ten spyte daarvan dat regter Elias Matojane in Februarie 2015 bevind het Ntlemeza was “bevooroordeeld en oneerlik” en het nie oor “integriteit en eerbaarheid” beskik nie.

“Genl.maj. Ntlemeza is aangestel in die hoogste pos van die republiek se korrupsie-en-misdaadbestrydingseenheid, ondanks verdoemende geregtelike bevindinge wat sy integriteit, eerlikheid en toepaslikheid om hierdie amp te beklee, bevraagteken.

“Sowel die HSS as FUL meen, gegrond op die redes wat die kantoor van die minister [Nhleko] verskaf het, dat die geregtelike bevindinge nie enigsins, of behoorlik oorweeg is nie,” het die organisasies aangevoer.

“Indien dit wel in aanmerking geneem is, sou Ntlemeza nooit aangestel gewees het nie.” Die organisasies het reeds verlede jaar die aansoek ingedien, maar kon nie daarin slaag om ʼn hofbevel te bekom nie. Uitspraak is in Desember 2016 voorbehou.

Ntlemeza het nog altyd volgehou hy is vasbeslote om sy grondwetlike mandaat uit te voer om ernstige korrupsie, georganiseerde misdaad en ernstige handelsmisdaad uit te roei en dat hy deur geen persoon of organisasie gestuit sal word wat ten doel het om die integriteit van die Valke te diskrediteer nie.

Ntlemeza is in Desember 2014 deur Nhleko as waarnemende hoof van die Valke aangestel nadat Anwa Dramat as hoof van die Valke geskors is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Speedguard ·

Weer ‘n hofsaak, ek is 100% seker dat die prokureur wat die advokaat aanstel sowel as die advokate elke beweging van die staat dophou met dagboeke ,veral met die parlement debatte, Skoor en al die ander komitees, dan bespreek hul wie vat watter saak sodat die koek lekker en regverdig verdeel kan word, dit is voorwaar ‘n bloei tydperk vir die regslui, ek bedoel die bron van die fooie is bodemlose put, al weet hul dit gaan onsuksesvol wees gaan hul ,hul fooie verdien!

Kandas ·

Ntlemeza as hoof van die valke is soos om die kat aan te stel om die vis op te pas.

snoefie ·

die minister het duidelik die taal van die hofuitspraak nie verstaan nie. dalk moet die man se salaris uit die minister se salaris betaal word. ek is seker hy sal daardie taal verstaan

lw ·

Wie gaan vir die appelleer kostes betaal? Die belastingbetalers? Aikôna! Dis misbruik van staatsuitgawes!!!
Respekteer die regter se beslissing, minister!
Julle is geen voorbeeld vir die landsburgers nie – dis die wat wet en orde verval!

Middelburger ·

Dink hulle kan ‘n volbank regters se eenparige uitspraak uitdaag. Hoe stupid en ‘n vermorsing van tyd en ons belasting betalers se geld!!!

Griki ·

Ek hoop die appelkostes moet uit die minister se sak betaal word as hy verloor soos met Dlamini.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.