Minister appelleer teen uitspraak oor lugbesoedeling

Minister Barbara Creecy. (Foto: Departement van omgewingsake)

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen gedeeltes van ʼn uitspraak waarin sy beveel is om lugbesoedeling in Mpumalanga hok te slaan.

Die regering is verlede maand deur die hooggeregshof in Pretoria aangesê om ʼn lugbestuurplan vir dié streek, waar talle steenkoolmyne bedryf word, in te stel. Dit kom nadat plaaslike omgewingsgroepe aangevoer het dat burgers se grondwetlike reg om skoon lug in te asem, geskend word.

“Dit is nie my bedoeling om die appèlproses te gebruik om die opstel van regulasies te vertraag nie, daarom sal daardie proses onafhanklik van enige appèl voortgaan,” sê Creecy in haar beëdigde verklaring.

Sy voer aan dat die proses om verlof tot appèl van uiterse belang is om te verseker dat die opstel van regulasies so inklusief as moontlik is.

“Die betrokkenheid van alle belanghebbendes en geaffekteerde partye is van kardinale belang as ʼn praktiese en lewensvatbare pad vorentoe gevind moet word,” sê sy.

“Die gesondheid van geaffekteerde gemeenskappe sal voortgaan om prioriteit te geniet en die departement sal ook probeer om hierdie eise met veelvoudige ander faktore te laat klop.

Volgens die departement is die aansoek om verlof tot appèl gerig teen vier bevele wat geskoei is op ʼn interpretasie van artikel 20 van die Wet op Luggehalte. Dit bepaal dat die minister nie bloot diskresie het om regulasies voor te skryf nie, maar verplig is om dit te doen.

Creecy sê egter dat die behoorlike interpretasie hiervan van wyer belang is.

Mpumalanga is die middelpunt van die land se steenkoolbedryf en spog met 12 steenkoolaanlegte.

Volgens die omgewingsorganisasie Greenpeace veroorsaak die aanlegte egter dat daar rekordvlakke van stikstofdioksied in die lug vrygelaat word.

Blootstelling aan giftige stowwe en materiale wat deur steenkoolaanlegte vrygestel word, waaronder swaeldioksied, kwik en fyn deeltjies, het tot ʼn “epidemie” van asma, brongitis en longkanker in die gebied gelei. Boonop het lugbesoedeling in 2016 in die streek tot soveel as 650 voortydige sterftes aanleiding gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

So, die minister appelleer teen die uitspraak dat sy haar werk moet doen. Wat ‘n sirkus!

Johan

“Grondwetlike reg om skoon lug in te asem”, regtig, dink julle as jy n masker dra asem jy skoon lug in. As dit jou nie pla nie hoekom pla steenkool myne jou skielik. Maskers laat nog n klomp plastiek vesels ook los wat jy in asem, dit saam met wat-ookal nog aan die ding vas sit van vroeg vanoggend af.

Marius

Dis tyd dat al die geld wat ingevorder word vir stikstof belasting reg aangewend word of is dit al lankal in ‘n paar politikusse se gatsakke ?

Sarie

Green pieces moet ook maar die groot kuddes beeste verbied, vernietig ens. Hulle “koolstof” spoor is ook blykbaar skrikwekkend.

casper

Pkeks dat sy haar werk doen skrum sy vir die ANC belange ne !!!