Minister bekommerd oor leerder-sterftes

(Foto: Hennie Stander/Unsplash.com)

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, is bekommerd oor die begin van die 2020-skooljaar wat deur ʼn hele aantal sterftes gekenmerk is.

Enock Mpianzi (13), ʼn gr. 8-leerder van Parktown Boys’ High School het verlede week op ʼn oriënteringskamp verdrink. Keamohetswe Seboko, ʼn gr. 7-leerder aan Laerskool Bekker se liggaam is verlede week in die skool se swembad gekry, ʼn gr. 11-leerder van Mpolweni High School in KwaZulu-Natal het verdrink terwyl ʼn 18-jarige leerder van Kopanelo Secondary School doodgesteek is.

Enock Mpianzi (13).

Twee skole is in afsonderlike voorvalle aan die brand gesteek en die hoof van Jabulile Secondary School in Johannesburg is doodgeskiet toe hy naby die skool stilgehou het, glo om sy selfoon te beantwoord.

Motshekga het gesê ʼn span amptenare van die skoolveiligheidseenheid is ontplooi om saam te werk met en ondersteuning te gee aan diegene wat die voorvalle ondersoek.

Sy het gesê die omstandighede rondom die sterftes moet “deeglik ondersoek” word om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.

“Ons vra vir geduld en doen ʼn beroep op die publiek om hulle te weerhou van bespiegeling terwyl ons wag vir die uitslag van ondersoeke na die verdrinking van Enock Mpianzi en Keamohetswe Seboko.”

Die minister het gesê haar departement gaan saam met die onderskeie provinsies werk om te verseker die nodige maatreëls word ingestel om toekomstige lewensverlies te voorkom.

Sy het ook weer die afbrand van skole die diefstal van skooleiendom veroordeel.

“Ons het volle vertroue in wetstoepassingsagentskappe om diegene wat verantwoordelik is vir skade aan skoolinfrastruktuur, voor stok te kry.”

Die minister het gemeenskappe ook gevra om betrokke te raak en skole te help beskerm deur enige verdagte bedrywighede aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dr Phil

Ja, Mini-ster, nou vra jy ons hulp en betrokkenheid, maar wanneer ouers, kerke en belangegroepe vra dat jy met ons moet vergader voordat jy ‘n absolute diaboliese ideologie soos Comprehensive Sexuality Education se SLP’ s implimenteer, dan vee jy jou af aan ons. CSE is meer skadelik vir ons kinders as om sonder reddingsbaadjie op ‘n vlot te wees. Ek wens net die UN en sy trawante gee julle net soveel fondse om die ware veiligheid van kinders te help verseker….
Ek wens jy was so besorg oor die siele van ons kinders ook…

Willie

Boelies doen dit ook, noem dit maar net

Cauin

As jy die Wet van die Here wegneem dan is Sy seen ook nie meer daar nie . As Sy Gees nie daar is nie geld ook n ander gees .

Martin

Hoekom brand hulle die skole af? Is hulle mal?

Wielspore

Gedurende 1980 tot 1992 was ek betrokke by die weermag en gedurende daardie periode is skole afgebrand, dit word in 2020 nog steeds gedoen, laat mens dink.