Minister bekommerd oor styging in Covid-19-infeksies

Alle Suid-Afrikaners ouer as 18 kan van Vrydag die Covid-19-entstof ontvang. (Foto: Gauteng Health/Twitter)

Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, sê daar was ʼn “kommerwekkende” styging in Covid-19-infeksies oor die afgelope sewe dae – met ʼn styging van 18,2% in nuwe gevalle in die vorige week.

“Terwyl die kurwe ʼn afwaartse neiging begin toon het, styg dit nou weer,” sê die minister.

Phaahla het Vrydagoggend tydens ʼn webinaar gesê die styging word hoofsaaklik aangedryf deur nuwe gevalle in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Noord-Kaap. Die Noord-Kaap het volgens die minister nooit werklik uit die tweede vlaag van infeksies beweeg nie, maar reguit ʼn derde vlaag ingegaan.

Die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal is tans daagliks om die beurt verantwoordelik vir die meeste nuwe infeksies.

Phaahla sê dit is wel bemoedigend dat hospitaalopnames oor die vorige sewe dae met 5,4% afgeneem het, wat druk op die gesondheidsorgsektor en mediese werkers verlig.

Hy sê weens die nuwe gevalle het die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) en die kabinet besluit om die land op die aangepaste vlak 3 van die nasionale inperking te hou.

“Ons is hoopvol dat ons binne die volgende twee weke ʼn afplatting in die infeksiekurwe sal sien indien ons alle gesondheidsregulasies nakom.”

Suid-Afrika het Donderdag die tienmiljoenmerk vir inentings teen Covid-19 verbygesteek.

Sowat 3 miljoen mense ouer as 60 – daar is sowat 5,5 miljoen Suid-Afrikaners in hierdie ouderdomsgroep – is reeds ten volle ingeënt of het een dosis van die entstof ontvang. Dit is nagenoeg 55% van almal in die spesifieke ouderdomsgroep, sê Phaahla.

Altesame 4,6 miljoen mense uit Suid-Afrika se algehele bevolking – dit is sowat 12% van die land se volwasse bevolking – is reeds ten volle ingeënt. Sowat 7,8 miljoen mense (20% van die land se volwasse bevolking) het reeds minstens een dosis agter die blad.

Phaahla sê Suid-Afrika hoop om minstens 70% van die volwasse bevolking – sowat 40 miljoen mense – te laat inent.

“Ons het nog ʼn lang pad wat voorlê, maar ten minste is ons iewers op die reis.”

Die inentingsyfers sluit diegene in die ouderdomsgroep 18 tot 34 uit. Hulle kan van Vrydag registreer én ingeënt word nadat die beoogde datum vir die groep se inentings met 11 dae vervroeg is. Dit voeg sowat 17 jaargroepindelings by die poel van mense wat ingeënt kan word, sê Phaahla.

Jongmense meld fluks aan om die Covid-19-entstof te ontvang. (Foto: Gauteng Health/Twitter)

Die minister sê die voordeel daaraan verbonde om die groep in te sluit, is dat burokratiese rompslomp verminder word. Inentings by byvoorbeeld werkplekke kan nou gedoen word sonder die bykomende versperring van ʼn verskil in ouderdom, terwyl duisende studente ook geteiken kan word.

Die meeste van Suid-Afrika se swanger vroue is boonop tussen 18 en 35 jaar oud en hulle kan nou ook die entstof ontvang.

Phaahla het ʼn ernstige beroep op jongmense gedoen om ingeënt te word, asook gesê daar moet voortaan daarop gefokus word om entstowwe na mense te neem, pleks daarvan dat hulle daarvoor moet reis.

Entstofpaspoort

Dr. Nicholas Crisp, ʼn adjunkdirekteur-generaal by die departement van gesondheid, het in antwoord op ʼn vraag oor die moontlikheid van sogenaamde entstofpaspoorte gesê die moontlikheid dat dit later lewensvatbaar of selfs beleid gemaak kan word, kan nie uitgesluit word nie.

Crisp sê egter dit is ʼn ingewikkelde kwessie met baie voordele, maar ook baie uitdagings en etiese kwessies daarin verweef.

Hy sê voordele van ʼn entstofpaspoort sluit in dat die breër samelewing kan baat by die identifisering van diegene wat ten volle ingeënt is.

“Daar is beslis voordele, maar daar is ook uitdagings. Benewens die moontlike skending van burgerregte, het ons in sommige wêrelddele ook gesien dat daar onbillik teen mense gediskrimineer word of dat mense uit samelewings uitgesluit word omdat hulle nie toegang tot die entstof het nie.

“Ons het gesien daar is onsekerheid in hoe lank ʼn entstof beskerming bied. As ons dus ʼn inentingspaspoort uitreik, is daar geen waarborg dat die persoon steeds beskerm is en of die paspoort hoegenaamd geldig is nie.”

Crisp sê indien só ʼn besluit vantevore in Suid-Afrika geneem is, sou daar tot vandag teen almal jonger as 35 op dié gebied gediskrimineer word. Wêreldwyd is daar ook ondervind dat dié soort dokumente verkoop word.

“Dit is nie ʼn maklike besluit nie,” sê hy.

Crisp sê Suid-Afrika wil hom boonop nie van die res van sy bure en die streek vervreem nie en lig ander lande in oor Suid-Afrika se entstofrekord en dat rekenskap gegee kan word vir elke entstofdosis wat toegedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.