Ronald Lamola, minister van justisie, het Dinsdag ʼn dringende vergadering met hooggeplaastes van die departement van korrektiewe dienste en die Wes-Kaapse paroolraad byeengeroep. Dit volg nadat twee verdagtes in twee moorde op Wes-Kaapse kinders ten tyde van dié onlangse misdade op parool uit was.
Lamola sê in ʼn verklaring hy is nes talle ander Suid-Afrikaners bekommerd oor die doeltreffendheid van die land se paroolstelsel te midde van die moorde. Die minister wil leemtes in die paroolstelsel gedurende ʼn tweedaagse vergadering oopvlek.
Die vergadering begin Woensdag by die Goodwood-gevangenis in Kaapstad. Luidens die verklaring sal gevalle waar parool in die afgelope boekjaar in die Wes-Kaap toegestaan is, gedurende dié vergadering nagegaan word om te bepaal of aan die vereistes en prosedures van die Wet op Korrektiewe Dienste voldoen is.
Maroela Media het vroeër berig Jakobus Petoors (58) het Dinsdag in die landdroshof in Tulbagh verskyn in verband met die moord op die agtjarige Reagan Gertse. Die kind se liggaam is Sondag tussen die bosse naby ʼn rivieroewer in die dorp gevind. Hy is na bewering verkrag voordat hy om die lewe gebring is.
Petoors is familie van die oorledene se pa en het ten tyde van die moord by Reagan se pa se ouers, enkele huise van Reagan se ouerhuis in ʼn informele nedersetting, gewoon sedert hy in November verlede jaar op parool vrygelaat is.
Moehydien Pangaker (54), die beweerde moordenaar van die 8-jarige Tazné van Wyk wie se liggaam twee weke gelede gevind is, was óók uit op parool.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Verskil die paroolstelsel dan in die Wes-Kaap van daardie in die ander provinsies?
Nou eers…. daar is meer misdaad deur mense gepleeg wat uitvwas op Parool . Kry al jou inligting en laat genoemde Paroolrade aan naasbestaandes verduidelik
Die probleem is nie die paroolraad nie, die probleem is ons regstelsel wat so ontwerp is dat hul geharde misdadigers wil herintegreer in die samelewing nadat hul “rehabilitiasie” ondergaan het omdat tronke oorvol is.
Hierdie ernstige misdadigers moet virewig toegesluit word sonder die moontlikheid om vir parool in aanmerking te kom in ‘n 2m x 2m sel. Dit moet ‘n absolute straf wees. Dit gaan te lekker in die tronke en die belastingbetaler moet opdok.
Dis maklik, geen parool vir geweld misdade en lewenslank vir enige ‘3rd strike’
Dit is te laat. Gaan se eerder vir Ramaphosa sy kamstige goedheid het al kinders se lewens gevat hoeveel meer. Hy laat mos misdadigers uit hul hokke