Minister ‘bemoedig’ deur vervolgings by Staatsveiligheidsagentskap

Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid. (Argieffoto: Jacques Naude/ANA)

Die minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, sê sy word “bemoedig” deur die vervolging van amptenare by die Staatsveiligheidsagentskap wat glo betrek word by bedrieglike bedrywighede.

Twee amptenare van die beleërde agentskap het reeds in die Pretoriase handelshof verskyn op verskeie aanklagte van bedrog en korrupsie ná interne ondersoeke na beweerde wandade.

Daar was die afgelope paar maande boonop talle berigte van beweerde miljarde rande waarvoor die agentskap nie rekenskap kan gee nie. Die Zondo-kommissie na staatskaping het ook getuienis aangehoor van die beweerde katnes van korrupsie, diefstal, selfverryking en wetteloosheid wat jare lank onbeteueld gebotvier het.

Dlodlo sê alle beweerde wandade wat aangemeld is, word ondersoek – selfs dié wat nie by die Zondo-kommissie in die getuienis blootgelê is nie.

Die minister sê daar sal “sonder versuim vervolgings wees”.

Sy het ook bevestig dat die maatskappy wat aangestel is om ʼn forensiese oudit na die bewerings te doen, sedertdien onttrek het. Ten spyte hiervan is haar kantoor vasbeslote om die agentskap skoon te maak en korrupsie uit te roei.

News24 het vroeër berig die firma Bowmans het onttrek nadat hy glo uit die staanspoor gesukkel het om toegang tot inligting te bekom.

“Ek is ingenome daarmee dat ons op ons eie reeds suksesvol ondersoek kon instel en sommige van die korrupte bedrywighede in die agentskap kon aanmeld,” sê Dlodlo.

“ʼn Nuwe proses is aan die gang om ʼn diensverskaffer te kry wat die forensiese ondersoek kan doen.

“Die proses om die diensverskaffer aan te stel sal bespoedig word sodat ons nie die momentum verloor wat ons saam met wetstoepassingsowerhede soos die Valke opgebou het nie,” sê sy.

Die minister het ook die versekering gegee dat heelwat werk binne die agentskap gedoen word om sy grondwetlike mandaat na te kom om die land te beveilig ondanks die inligting wat reeds bekend is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pot se lepel

Nou hoekom moet n kommisietjie die polisietjie se werk doen?
Seker omdat laasgenoemde ook so siek is van korrupsie hy kan nie meer n ander se siekte raaksien nie. Ek gee op.

Nie Verbaas

Net nog leuens van nog n ANC kader. Die ondersoek sal ook n stille dood sterf.

Nuff

Skrikwekkend onbevoeg. Onopleibaar en sal nooit in diens geneem word in die privaar sektor nie.

Persheks Adri

Hoekom ondersoek hulle self as ‘n firma aangestel is en toegang tot inligting geweier word? Nee ek ruik ‘n rot mmmmmmm lieg net die kaders

anko

Een kommissie na die ander en niks word ordentlik afgehandel nie!! Hoekom?? Belastingbetaler se sakke is besig om ook leeg te raak