Minister besluit oor skole ná vergaderings met vakbonde

(Foto: Unsplash)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, vergader tans met vakbonde en ander rolspelers om insette te kry oor of skole te midde van die Covid-19-pandemie moet oop bly of nie.

“Samesprekings met alle rolspelers, waaronder vakbonde, verteenwoordigers van beheerliggame en lede van die samelewing, sal Vrydag voltrek word. Die uitkomste van dié samesprekings sal bepaal watter voorstel die minister oor die naweek aan die kabinet voorlê,” het die departement van onderwys Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Verskeie onderwysvakbonde het Dinsdag hul ontevredenheid uitgespreek dat skole steeds oop bly, hoewel talle onderwysers en leerders die afgelope maand Covid-19 opgedoen het.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) se uitvoerende komitee het Dinsdag voorgestel dat skole sluit tot ná die Covid-19-piek bereik is. Dit sal na verwagting in September gebeur. Die vakbond voer verder aan dat onderwysers gebuk gaan onder ʼn groot werkslas en dat die moreel onder sy lede besonder laag is te midde van die Covid-19-pandemie.

Die onderwysvakbond Naptosa het Dinsdagaand in ʼn verklaring ook gevra dat skole sluit.

‘n Leerder se temperatuur word nagegaan by Laerskool Pierneef. (Foto: Verskaf)

“Tydens ʼn vergadering deur Naptosa se uitvoerende raad Dinsdag het die vakbond ʼn aantal kwessies in ag geneem en tot die gevolgtrekking gekom dat skole moet sluit tot ná die piek van die pandemie bereik is,” lui die vakbond se verklaring. “Hoe jammer dit ook al mag wees, is dit noodsaaklik om die fisieke en geestelike gesondheid van ons onderwysers, leerders en ouers te beskerm. Dié rolspelers is reeds onder erge druk soos ons in die ‘storm’ inbeweeg, soos pres. Cyril Ramaphosa dit stel,” sê Basil Manuel, hoof van Naptosa.

Hy het benadruk dat Naptosa nie vra dat die skooljaar in geheel laat vaar moet word nie, maar dat ʼn gedetailleerde plan opgestel moet word oor hoe die skooljaar voltooi kan word sonder om skole vir die volgende twee maande oop te hou.

Sadou het reeds voorgestel dat die skooljaar tot Maart volgende jaar verleng word, in ooreenstemming met die besluit om instellings van hoër onderwys tot dan geleentheid te gee om die akademiese jaar te voltooi.

Solidariteit het dié voorstelle verwerp en gesê enige verdere uitstel van die skooljaar sal verdere skade aan kinders se sielkundige en opvoedkundige ontwikkeling veroorsaak. “In plaas daarvan om gedurig redes te soek om op te hou klasgee, moet ons eerder met innoverende idees vorendag kom om klasse sover moontlik te laat voortgaan,” het Werner Human, Solidariteit se adjunkbestuurshoof van Regsake en Navorsing, gesê.

Solidariteit voer verder aan dat daar eerder op voetsoolvlak hieroor besin moet word en dat skole self ʼn baie beter idee het oor hoe, en óf hulle kan oopmaak, eerder as om alle skole oor dieselfde kam te skeer.

“Ons sien reeds oor die wêreld heen watter vrugte ʼn gedesentraliseerde benadering afwerp. Skole het reeds met skeppende oplossings vorendag gekom – dinge soos dat ʼn onderwyser die klas deur middel van videostroom vir ʼn klas vol leerders aanbied, met ʼn jonger persoon wat as tutor of toesighouer in die klaskamer optree. So word ouer onderwysers beskerm, maar leerders kry steeds die geleentheid om hul sosiale vaardighede te ontwikkel,” verduidelik Human.

Volgens die departement het die minister Maandag reeds met Sadou oor die kwessie vergader. Naptosa vergader glo vandag (Woensdag) met die minister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Pieter ·

So, samespreking beteken eintlik “anc gaan eers luister wat die vakbonde hulle sal toelaat om te doen” sodat vakbonde steeds vir anc sal stem in vlg verkiesing.

Maryna ·

Ek hoor hulle, maar ek is ‘n mamma van ‘n gr.R seuntjie, hy het nie boeties en sussies nie, ek en pappa moes al in vlak 4 begin werk het. Hy is so alleen want die oppasser het ook nie kinders by haar deur die dag nie, na werk probeer ons gou deur huiswerk draf, hy is dan moeg na die lang dag se sit met geen stimulasie nie. Dit druk regtig erg op ons kinders, veral die kleintjies, hulle sukkel om te verstaan dat dit oor hul veiligheid gaan. Dis so hartseer. Ek wil my kind beskerm maar tog wil ek hom ook gelukkig sien. Ek wil graag he hy moet skool toe gaan, maar ek wil ook graag he my enigste moet veilig wees, but then again, ek en pappa kan maklik die virus huis toe vat, dis vreeslik moeilik vir ons almal.

babbelblapsie ·

Ek stem saam. My seuntjie is 18maande en ons werk al dwarsdeur die lockdown omdat ons albei essentieel is. My huishulp wil nie voltyds werk nie so as die skooltjie moet toemaak, maak hulle nie net permanent toe nie, maar waarheen gaan ek met my kind? Ek glo en vertrou dat die skool alles moontlik doen om ons kinders se veiligheid te verseker.

Jaco ·

maak nou asseblief tog net alle skole finaal toe. Sit die leerders outomaties deur. Dit gebeur in elk geval reeds so min of meer in die jare voor inperking begin het. Ek wonder net waar gaan al hierdie goed eindig. Dit kan maklik 2 jaar duur voordat corona finaal weg is. teen daardie tyd sit ons met n paar miljoen ongeletterde skoliere en miljoene ander werkloses van werkende ouderdom. Gastehuise en vakansieoorde en gimnasiums permanent toe. geen familiebesoeke. TWEE jaar nog. Ek wonder of ons regering dit besef. Ek weet inperking het ook ten doel om wit besighede ten gronde te laat gaan, MAAR baie swart mense raak ook werkloos. Iewers gaan ‘n bubble bars…

Michael ·

Maak skole toe maar dan sonder betaling net soos ons ander hardwerkende burgers nie betaal word as ons nie werk nie. Anders laat hulle aangaan, dis sommer bog al die klaery

Adam Adriaan ·

Die implikasies om nou weer die skole te stop sal verreikende gevolge hê. Wat gaan volgende jaar gebeur. Die geboorte van al die nuwe aankomelige het nie in die tyd gestop nie. Gaan daar volgende jaar by elke skool 2 x Graad 1 klasse wees, so ook met die res tot in graad 12? Waar gaan al die onderwysers dan vandaan kom? Of gaan hulle alle klasse maar promofeer en die agterstand inhaal maar aan die volgend klas en onderwyser oorlaat? Dit is nie so maklik nie. Gesien in die toestand wat die skole nou in is.

Oe la la ·

Jy slaan die spyker op sy kop! Gaan die virus net Desember sy tasse vat en loop?

christo ·

Daar is nie ‘n ‘magic silver bullet’ vir die probleem nie. Ek sien hoe my onderwyskollegas wat hierdie jaar aftree bang is hulle doen Covid-19 op. Daar is bittermin ouer onderwysers wat nie onderliggende siektes het nie. Ouers besef nie die spanning wat onopgevoede kinders veroorsaak nie.
Indien die onderwysdepartement vir onderwysers wat hierdie 60 word sê ons kan onmiddellik aftree doen ons dit dadelik.
Ek sal graag ‘n ouer met ‘n twee meter tou aan my wil vasmaak en hom of haar vir net ‘n week saam sleep en alles saam met my doen. Dan kan hulle sommer ook sien hoe moedswillig hulle bloedjies is.
Meeste kinders wéét daar is ‘n geringe kans dat hulle van Covid-19 kan sterf. Dus is dit ‘n ewige stryd om hulle apart te hou.

WynandM ·

Aaai tog…ek hoop maar net hulle gee ‘n keuse vir skole om self te besluit. Of gaan aan hulle weer hul ANC/Afrika sosialistiese uitkyk van “let all the people suffer together and have less” implementeer. Ek haal my hoed af vir ons skoolhoof en personeel wat onder moeilike omstandighede so profesioneel, gemotiveert en inoverend skool gee met beurtkrag en al – werelde en kulture verwyder van Sadou se houding. Onderwys is belangrik en selfs as is jy bang mamma is wie se kind tuis Google Classrooms kry is dit duidelik dat dit malligheid is om eers in September weer skole oop te stel soos voorgestel ( glo ook nie hulle het tuisonderrig inisiatiewe van nou tot September) .

Lorette ·

Ek het 2 kleinseuns in graad 7. Hulle skool is een van die min laerskole in Kimberley wat huidiglik oop is. Hulle word elke dag getoets en die onderwysers verseker dat die kinders gehoorsaam is en by die reëls hou. Ek sê nie daar gaan nie ook probleme kom nie, maar, die onderwysers is regtig puik en sorg dat die kinders luister !

marius ·

Verduidelik hoe en waneer gaan die virus verdwyn geagte slim koppe .

Jaco ·

onthou net, wanneer ons winter verby is, begin die winter weer in die noordelike halfrond, waar meeste van die wereldbevolking bly. Corona kan dus aangaan en aangaan en aangaan. Ek voorspel 5 jaar voordat dit weg is en dan nog 3 jaar voordat regerings wat bang is dit kom terug, finaal gerus is. Hierdie ding gaan die wereld erger opmors as die tweede wereldoorlog en kommunisme

Michael ·

Nee wat die 4 maande betaalde verlof waarvoor ons belastingbetalers betaal en waar baie van ons reeds ons besighede en werk verloor het was lyk my nie genoeg nie. Nou wil hulle steeds by die huis bly en ander wat nie betaal word as hulle nie werk nie, moet hulle betaal. Laat die regime hulle afgee maar dan sonder betaling, dan sal ons sien hoe vinnig verloor hulle die vrees vir die virus en die kamtige besorgdheid oor die kinders en personeel. Laat hulle werk indien nie moet hulle nie betaal word nie.

LANA is ELANè ·

Dit is ‘n tammeletjie, vlg my is nie skoolgaan huidiglik baie ongesond vir die kinders se geestesgesondheid. Bitter min ouers het die vaardigheid om kinders met skoolwerk te help en bitter min het die infrastruktuur in hul huise om aanlyn skool te kan gaan.
Waar moontlik moet die beheerliggaam besluit of ‘n spesifieke skool oop of toe moet wees.
Die onsekerheid meng in met ouers se beroepe en ongelukkig werk die meeste mense om te kan leef en leef hulle nie om te werk nie. Een vet gemors wat nie na behore bestuur word nie❗

Mathilda ·

Ag asb tog, ek glo nie wat ek lees nie. Tronkstraf???? Maar daar is 6128 op parool vrygelaat, want die hoë koppe is bang hul kry die virus. Daai misdadigers het veel erger oortredings. Maar sonder ‘n masker kan Tronkstraf opgele word. Kry jul prioriteite reg want jul weet nie wat jul wil hê nie.

Hanelie ·

Ek het ñ outoimmuun siekte en nie ñ milt nie. Ek is uiters vatbaar vir siektes. My spesialis het my gewaarsku as ek covid kry is dit fataal. My man is in die gelukkige posisie om tuis te werk en my seun is ñ 2de jaars student wat ook tuis studeer. Ek is in totale “lockdown”. Ek het my kind in Gr 11 se skoolhoof gevra of sy kan aangaan met Google school maar geen terugvoer gekry nie. Sy was 3 dae by die skool toe is 2 juffrouens positief getoets. Sy het klas by 1 van die juffrouens. Wat help dit my gesin probeer my gesond hou maar ek moet my kind in die leeukuil gooi. Ek sê nie maak net toe nie, maar maak tydens die griep tyd toe en gaan aan met Google school. Dit het fantasties gewerk. Die onderwysers is ook ongelukkig om so blootgestel te word. Hulle het ook gesinne en baie van hulle het kleuters en babas. Dit is ñ moeilike tyd vir almal. Ek bid net elke dag vir my kind en almal se gesondheid en glo die Here sal sy hand oor haar hou. Ek is op die punt dat wat moet gebeur moet gebeur.

Hannahoekom ·

Hanelie, ek verstaan jou dilemma 100% en dit is sleg dat die skoolhoof jou nie terug laat weet het oor jou dogter se google school nie, maar ongelukkig moet die lewe aangaan. Daar is wel mense (onderwysers ingesluit) wat bereid is om daardie risiko te neem om te verseker geen kind word agter gelaat nie en dat geen kind akademies benadeel word nie. Ek dink dit staan enig ouer vry om die besluit te neem wat die beste vir hul gesinne is. Daar is ouers wat albei werk, waar moet die kinders heen gaan? Ouers kan nie bekostig om ‘n inkomste te verloor nie en die onderwysers ook nie. Daar is ouers wat enkel-ouers is wat die mas alleen moet opkom en kan nie bekostig om hulle kinders te tuisskool of om te bedank om by hulle kinders te wees nie. Ek het die wêreld se simpatie met mense en kinders wat outoimmuun siektes het of weens ouderdom nie kan werk nie, maar dit beteken nie die res van die samelewing moet stilstaan saam met hulle nie. Iewers moet iemand die pot aan die kook hou.

Hannahoekom ·

Ek is baie jammer, maar dit sal ‘n fatale fout wees om skool nou stop te sit!! Die kinders is al klaar so agter met van hulle werk, as hulle nou skool moet staak, druip hulle almal. Om kinders ook net so deur te sit na die volgende graad toe sonder om die akademiese jaar te voltooi is uiters onverantwoordelik. Daar is nog te veel water wat in die see moet loop om te verseker al die kinders het die werk bemeester en is wel op die vlak van bevordering na die volgende graad. Ek het begrip vir elkeen wat vrees het vir die virus wat die rondte doen, maar ek dink die besluit moet oorgelaat word aan elke ouer en onderwyser. Dit is tog hulle wat hierdeur geraak word, of redeneer ek nou dom? Dit gaan al klaar broekskeur met die land se akademie (veral Wiskunde). Wiskunde se slaagsyfer is wat, 30%? Wil hulle regtig nou die kans vat om skole toe te maak en kinders se vaardighede nog verder af te breek? Gaan ons land regtig eendag regeer word deur kinders wat Wiskunde met 10% geslaag het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.