Minister besoek familie ná rugbyspeler sterf

Thokozile Xasa, minister van sport, en Stella Ndabeni-Abrahams, adjunkminister van telekommunikasie en posdiens, besoek die Roets-familie (Foto: Facebook)

Thokozile Xasa, minister van sport, het Sondag die familie van Gert Roets (23), die belowende Wolwe-rugbyspeler wat op 14 April dood is nadat hy in ʼn vermeende mislukte rooftog geskiet is, in Kempton Park aan die Oos-Rand besoek.

Jaco Lombard, die familie se woordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat Xasa besoek by die familie afgelê het.

Lombard sê dit het “ongelooflik baie” vir die Roets-familie beteken dat sy haar medelye met hulle betoon het. “Xasa se woordvoerder het die naweek met die familie in verbinding getree om te hoor of sy hulle kan besoek nadat sy die atlete van die Statebondspele terug verwelkom het,” vertel hy. “Hulle het dadelik ingestem dat sy kan kom kuier. Dit was ʼn mooi gebaar en hoewel dit nie die seer van hul kind se dood wegvat nie, het hulle haar besoek waardeer.”

Lombard sê hy het nie meer inligting oor dié besoek nie aangesien hy nie persoonlik daar was nie en nog nie met die familie daaroor gepraat het nie.

Hy sê dit gaan “onder omstandighede goed” met die familie. “Dit is maar ʼn geweldige skok, maar hulle hou kop bo water,” sê hy. “Yolanda [Roets se ma] neem medikasie om haar deur die moeilike tyd te help, maar hulle staan sterk.”

Xasa het Sondag in haar toespraak om die Suid-Afrikaanse atlete ná die Statebondspele terug in die land te verwelkom, ook in die openbaar haar medelye met die Roets-familie uitgespreek.

“Dit is met groot hartseer dat ons Gert Roets, ʼn sportman en rugbyspeler van die Oos-Rand en ʼn lid van die Wolwe-rugbyklub, verloor het. Mag die Here met hierdie familie wees in dié donker uur,” het sy gesê.

Gert Roets en sy boetie Kobus. Foto: Verskaf

Lombard sê die familie is nou in die beplanningsfase om ʼn niewinsgewende organisasie te stig wat mense in “soortgelyke situasies” as Roets kan bystaan. Hy sê die organisasie sal daarop fokus op finansiële steun aan gesinne te bied wat deur misdaad geraak is en nie noodwendig die finansies het om vir mediese behandeling te betaal nie. Hy sê die organisasie sal in Gertjie, soos familie en vriende na hom verwys, se naam gestig word.

Lombard sê verder die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie. Hy sê dié reëlings sal weldra aan die media deurgegee word.

Roets is op 7 April omstreeks 05:30 in Van Riebeeckpark in Kempton Park in ʼn skietvoorval geskiet. Gertjie, Devan Kruger (23), ʼn vriend wat saam met hom vir die Wolwe uitdraf, en ʼn vriendin is die oggend by Kruger se huis afgelaai ná ʼn aand uit saam met vriende.

Roets en Kruger het volgens die familie ná die kuier saam met hul vriendin na haar huis toe geloop en om haar veilig tuis te besorg. Kruger se huis is sowat 500 m van die treinstasie in Van Riebeeckpark en die vriendin woon sowat 500 m anderkant die treinstasie.

Nadat die vriendin veilig by haar huis terugbesorg is, het twee verdagtes op pad terug na Kruger se huis lukraak op Roets en Kruger losgebrand. Albei vriende het gevlug en die verdagtes het later ook op die vlug geslaan. Die hoofslagaar in Roets heup is tydens die voorval, wat as ʼn mislukte rooftog bestempel word, afgeskiet. Hy was verlede Saterdag nagenoeg nege uur lank in die teater in ʼn poging om die slagaar te herstel om sy been en lewe te red. Hy is sedertdien onder verdowing gehou, en was aan dialise en ʼn ventilator gekoppel. Sy been is op 13 April geamputeer.

Lombard het vroeër privaatheid vir die familie versoek. “Ons liefdevolle vriend Gertjie is by ons hemelse Vader. Ons vra dat almal die familie ʼn tydjie sal gee uit respek. Ons almal dank ons Vader vir die geleende tyd wat hy Gertjie aan ons gegee het,” het Lombard gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Concerned ·

Baie mooi gebaar van die minister na so ‘n tragiese voorval. R.I.V Gertjie

mc ·

Wat ‘n wonderlike gebaar. Soms word smart ‘n bindende faktor. Baie baie sterkte, ons dink aan hierdie jongman se familie. Ons dink aan julle en hou julle in ons gebede.

Anoniem ·

Potts. Ek word ook kwaad en voel onreg word aan ons as blankes gedoen maar gaan kyk bietjie hoeveel swart mense deur hul eie mense vermoor word. Wie troos vir wie? Hoekom negatief wees. Dit is n baie mooi gebaar en as wit en swart so kan uitryk na mekaar sal ons n beter SA geniet.

Potts ·

Danien, ek is nie negatief nie.
Lyftaal spreek net baie vir my.
Wie ryk uit na wie…die minister sit baie gemaklik, toon geen respek teenoor die dood nie.

Mielie ·

Verblywend om te sien dat ons seer ook erken word deur die staat. Nou moet die verdagtes net vasgetrek en gevonnis word. Die gesin is in my gebede

Riaan ·

Baie tragies van so jong man om sy lewe te verloor. Die minister se skielike belanstelling flous my nie.

Afrikaanse Knaap ·

My hart gaan uit na die jong man en sy familie. So onnodig…
Die gebaar gee my ‘n bietjie hoop dat hierdie administrasie hulle sokkies sal optrek en ons sal begin beskerm.

OU VOLKIE ·

Oh my word, hoe gullible het SA se blankers nie geword. nie Hulle val vir hierdie besoek terwyl duisende boere se families nie besoek is nie .. Ons Afrikaners is regtig gullible en useless . . dis hoekom hulle JA gestem het en vandag sit met rugbyspelers wat vir niks geskiet word nie . maar ten minste het die Minister darem haar simpatie kom betoon .. ons is nou so hoopvol . nou gaan hulle seker nie meer die plase vat of rassekwotas in sport instel nie .. Dankie Minister .. die wittes gaan nou almal ANC stem.

Gerrit ·

Ek stem dit vat nie veel om hulle te beindruk nie meeste van die positiewes gaan nou anc stem uit dankbaarheid??????

Reti ·

Ag OU VOLKIE jys nét soos ANC. Leef in verlede. Grou koei uit sloot. Ja-stemmers. Gelukkig hoef jy nie te sê ons moes Ja gestem het nie. Hoe sal jy nou weet.

Hester ·

Ek is Afrikaans. Ek is NIE GULLIBLE EN USELESS NIE.Praat vir jouself Jy maak soos Malema en aanvaar almal staan agter jou om rasse haat aan te blaas.

jaco ·

Wow. Voorwaar ‘n eerste. Hier kom GROOT reën. Wes-Kaap se droogte is verby.

Theresa B ·

Ja sy het die gebroke mense besoek en ja die media was daar vir die foto’s. Dit beteken baie vir die Minister se beeld……………………………

VanAfrika ·

Wow, dis nou een vir die boeke, ons moet hierdie artikel “frame”
Gert Roets, daar waar jy nou in die hemel sit, weet nie dat jou moord iets kon reg kry wat geen ander nog kon nie. Dans saam met die engeltjies en mag jy super rugby speel in die hemel

Conrad ·

So as ek dit reg verstaan kan julle maar uitgemoor word in sa solank n hooggeplaaste net kom koffie drink..neee wat gaan aan.met julle????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.