Minister besorg oor veiligheid by SITA

Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie (Foto: Chantall Presence/ANA)

Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie, het Donderdag sy kommer uitgespreek oor veiligheid by die staat se amptelike inligtingstegnologie-agentskap (Sita), wat die afgelope paar jaar deurgeloop het onder rooftogte en bewerings van korrupsie.

Cwele het voor sy begrotingsrede in die parlement aan verslaggewers gesê daar is tans ʼn groot regrukproses aan die gang by Sita – die maatskappy wat rekenaartoerusting namens die regering aanskaf.

“Is ek besorg oor veiligheid by Sita? Natuurlik, ja. Sita het die afgelope paar jaar baie vreemde inbrake beleef. Dis ʼn nasionale sleutelpunt. Daar is nie veronderstel om enige inbrake te wees by nasionale sleutelpunte nie, en dit dui duidelik daarop dat personeel die inbrake fasiliteer,” het Cwele gesê.

“ʼn Groot getal senior werknemers is afgedank. Natuurlik verskerp ons veiligheid [by Sita], want dit is ʼn nasionale sleutelpunt. Ons werk met ander wetstoepassingsagentskappe in die verband.”

LP’s het Woensdag gehoor dat een van die veroordeelde Boeremag-lede e-poskommunikasie gehad het met persone in die regering. Sita het vroeër vandeesmaand aan LP’s gesê ʼn forensiese ondersoek het aan die lig gebring dat twee werknemers by Sita met Andre du Toit gekommunikeer het. Du Toit is in 2013 skuldig bevind op aanklag van hoogverraad. Een van die werknemers het bedank en die ander een is geskors.

Riëtte Pretorius, ’n woordvoerder van Boervin, ’n organisasie wat hom beywer vir die vrylating van “die Boerevolk se politieke gevangenes”, het in reaksie op die bewerings gesê die organisasie is onbewus van enige verdere kontak wat Du Toit met die buitewêreld gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PJC ·

Tegnologie moet liefs net hanteer word deur mense wat vertroud is daarmee en ook betroubaar is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.