Minister Stella Ndabeni-Abrahams het ʼn skulderkenningsboete betaal vir haar oortreding van die afsonderingstydperkregulasies.
Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, op 21 April ʼn skulderkenningsboete van R1 000 betaal.
Ndabeni-Abrahams is aangekla van die oortreding van regulasie 11(B) van die Wet op Rampbestuur. Volgens Mjonondwane is die skulderkenningsboete deur die senior landdros in die Tshwane-landdrosdistrik bepaal.
“Die NVG bly daartoe verbind om geregtigheid sonder vrees, guns of vooroordeel te laat geskied. Hierdie straf moet ʼn boodskap stuur dat alle burgers gelyk is voor die reg.”
Ndabeni-Abrahams is vroeër deur pres. Cyril Ramaphosa vir twee maande op spesiale verlof geplaas nadat ʼn foto van haar, waar sy saam met vriende middagete nuttig, op sosiale media versprei is. Een van dié verlofmaande is onbetaald.
Die voormalige adjunkminister van onderwys, Mduduzi Manana, het die foto van hom en Ndabeni-Abrahams, wat hy as ʼn vriendin bestempel, op Instagram gedeel. Daarin sit die twee saam met verskeie ander mense aan tafel en eet.
Ramaphosa het Ndabeni-Abrahams ook beveel om die land om verskoning te vra. Sy het kort daarna in ʼn video wat op sosiale media geplaas is, om verskoning gevra omdat sy die bepalings van die staat van algehele afsondering verontagsaam het.
“Ek betreur die voorval en is baie jammer oor my optrede. Ek hoop die president en Suid-Afrikaners vind dit in hul harte om my te vergewe,” het Ndabeni-Abrahams in ʼn kort video gesê.
“Die president het my dadelik op spesiale verlof geplaas. Ek onderneem om tydens dié verlof by die bepalings te hou. Ek wil die geleentheid gebruik om die president se oproep, dat ons almal die afsonderingsbepalings nakom, te gehoorsaam.”
Sy het ook gesê dat die streng bepalings ʼn “nodige ingryping is om die verspreiding van ʼn virus wat reeds verwoesting in talle lande gesaai het, te bekamp”.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
41 Kommentare
Lekker,maar ander word R5000 beboet..
As sy strafregtelik aangekla is en skuld erken het moet sy dan ook mos nou n misdaad rekord he. Net R1000, nie R5000 nie?
Die boete is n druppel in die emmer in vergelyking met dit wat hul maandeliks verdien, dubbele standaarde.
R1000!? Wat n grap! Hulle wys hulle ware kleure elke vyf sekondes. Dink hulle ons is dom?
Please tell me you kept the receipt. I am sure you can get a refund from your anc fam.