Minister bieg oor sekuriteit by tronke

Minister Michael Masutha en sy adjunk, Thabang Makwetla, spreek die media toe in Kaapstad (21 November 2018). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Dit is vir die departement van korrektiewe dienste ʼn voortdurende uitdaging om ontsnappings en die insmokkel van onwettige goedere by tronke te keer, het die minister van justisie en korrektiewe dienste, adv. Mike Masutha, Woensdagmiddag erken.

Masutha het aan die parlementêre perskorps gesê veiligheid is ʼn groot kopseer by die land se 243 tronke, veral omdat misdadigers deurgaans nuwe maniere probeer bedink om goedere in te smokkel en hulself uit te smokkel.

“Daar is regtig te veel voorvalle van wangedrag, ontsnappings en die insmokkel van onwettige goedere soos dwelms en selfone,” het Masutha gesê.

Daarom het sy departement verskeie stappe gedoen wat volgens hom goeie vrugte afgewerp het.

Dit sluit in ʼn klopjag Saterdag by die Baviaanspoort-tronk naby Pretoria waar twee jong vroue aangekeer is wat drank en dwelms by die tronk wou insmokkel. Albei is nou in hegtenis geneem en die medepligtigheid van verskeie amptenare van die departement van korrektiewe dienste (DKD) word ondersoek.

Voorts het die owerhede twee weke gelede klopjagte uitgevoer by die Modderbee-, Johannesburg- en Boksburg-gevangenisse. Twee DKD-personeellede is in Boksburg vir dwelmhandel in hegtenis geneem en die saak word nou deur die Valke ondersoek.

Ander onlangse stappe sluit in die instel van ʼn departementele veiligheidskomitee, die aankoop van toerusting om onwettige voorwerpe op te spoor en meer spesialisopleiding vir DKD-personeel om meer strategies te kan dink.

Die verskerpte optrede het gelei tot dissiplinêre stappe teen 3 847 DKD-personeellede van wie 128 afgedank, 29 geskors, 2 783 gewaarsku en die res onskuldig bevind is.

Volgens Masutha word gehoop dat die inwyding van vier nuwe tronke – by Estcourt, Standerton, Tzaneen en ʼn tweede C-Max in Pretoria – goeie gevolge sal hê om oorbevolking asook wangedrag in tronke te verminder.

Die minister het skalks gesê hy word spesifiek goed op die hoogte gehou van die situasie in tronke deur gevangenes wat sy persoonlike selfoonnommer het en hom dag en nag bel – meestal per selfoon, wat op sigself in tronke verbode is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

leser ·

die minister word gebel van onwettige selfone af, waarom word dit nie ge-konfiskeer nie, dis dan onwettig, of verdien die minister ook “bribes”
weereens ‘n korrupte

1+1 ·

Eise vir nalatigheid teen korrektiewedienste sal bewys kan word. Nog ‘n hofsaak wat maklik gewen sal kan word.

Tokkolos ·

Ag hkm sê hy nie in verkorte weergawe nie
ONS IS TE ONBEVOEG EN NEEM DEEL VIR BRIBES

ne ·

Hoekom moet toerusting gebruik word om beter strategies te dink?
Onbevoeg – deur die bank.

Chris du preez ·

Die korupsie sal daar wees solank persone aangestel word volgens hul velkleur en nie persone wat graag die qerk wil doen nie

Ralph ·

Om van te lag. Ja 4 nuwe tronke maar geen nuwe damme, skole, universiteite ens. Ou Mike is meer bekommerd om Janusz Walush in tronk te hou as om sy maatjies ip te pas

lol ·

2 vrouens wat in die tronk is word in hegtinis geneem…dan sal hulle seker gevonnis word en hul termein verleng word in dieselfde tronk?

Elize ·

@lol. Lees net reg! Hulle is nie in die tronk nie en wou goedere insmokkel. Seker tydens besoektye

thelsa ·

Sover my kennis strek, kan jy SLEGS goed by enige gevangenis insmokkel as jy hulp van binne kry (lees Onbevoegde Amptenare). In hierdie land is die geldeenheid waarmee handel gedryf word ‘BRIBES’. Dit gaan laankal nie meer oor die trots en etiek van die beroep nie, maar waar kan ek ‘score’ tot my eie voordeel.

Skroef ·

Dan weet die minister presies wie daardie OP SIGSELF ONWETTIGE selfone het maar hy tree nie teen hulle op nie. Hy moet die eerbare ding doen en bedank! 3847 dkd oortreders? Heng is daar een eerlike lid oor?

Geregtigheid ·

Die minister se buddies bel hom gereeld. Sy buddies kry seker ook previlidge treatment vir hulle gedrag. Hierdie buddies sal ook seker gou parool kan kry. Wat n joke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.