Minister: ‘Dit is rede vir Beitbrug-chaos’

Verkeersopeenhoping by die Beitbrug-grenspos (Foto verskaf)

Die opeenhoping by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is deels veroorsaak deur vragmotormaatskappye wat dié grenspos wou gebruik in plaas van die Groblersbrug-grenspos na Botswana weens streng inperkingsmaatreëls in dié land.

“Gewoonlik word Groblersbrug hierdie tyd van die jaar gebruik as ʼn oorloopgebied wanneer Beitbrug nie die aantal vragmotors kan hanteer nie. Vanjaar was dit andersom,” het dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, Woensdag gesê. Vragmotormaatskappye het hul vragmotors van Groblersbrug na Beitbrug herlei. Volgens Motsoaledi is dit gedoen omdat hulle nie die wagtye wat met Botswana se Covid-19-protokolle gepaardgaan, aanvaar het nie.

In Desember verlede jaar is 6 706 vragmotors deur die Groblersbrug-grenspos. Teen 27 Desember 2020 was nog net 2 968 vragmotors deur Groblersbrug-grenspos. Daarteenoor het 19 800 vragmotors in Desember 2019 die Limpopo by die Beitbrug-grenspos oorgesteek, vergeleke met 21 800 teen 27 Desember 2020.

“Vragmotorbestuurders het paniekerig geraak weens die toename in vragmotors by Beitbrug en het alle vooraf reëlings wat met die owerheid getref is vir ʼn gladde vloei van verkeer laat vaar.” Volgens Motsoaledi is die normale reëling dat vragmotors in houareas parkeer waar hulle ʼn magdom dokumente moet hanteer.

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

“Teen die tyd dat hulle die areas verlaat, sal die meeste van hierdie administratiewe werk voltooi wees, wat ʼn gladde deurgang by die grenspos tot gevolg sal hê. Ongelukkig is hierdie houareas verlaat en het vragmotorbestuurders in die pad parkeer en selfs in bane vir aankomende verkeer, wat gevolglik selfs verkeer van die Zimbabwiese kant na Suid-Afrika versper het.”

Motsoaledi meen hy plaas nie die blaam vir die gebeure voor die deur van vragmotormaatskappye nie, maar dat hy bloot die feite gee. “Die houareas het parkeer-, water- en ablusiegeriewe. As jy die houareas met al hierdie fasiliteite verlaat en op die N1 parkeer en dan die staat die skuld gee omdat daar nie water- en ablusiegeriewe is nie, is jy oneerlik.” Volgens Motsoaledi kan die regering nie geblameer word vir die chaos wat by die Beitbrug-grenspos geheers het nie.

“Daar is onder meer beweer die regering, veral die departement van binnelandse sake, het nie vooruit beplan nie en dat ons moes voorsien het dat daar vanjaar baie reisigers die grens na hul huise in buurlande sou oorsteek omdat hulle vir ʼn lang tyd nie huis toe is nie as gevolg van die inperking.”

Volgens Motsoaledi is dit egter onakkuraat en wys die departement se statistieke dat daar in Desember 2019 meer as 368 000 reisigers was wat die grens by Beitbrug oorgesteek het. Daarenteen was daar teen 27 Desember 2020 slegs 103 224 mense wat die grens by Beitbrug oorgesteek het. “Daar kan dus nie gesê word dat daar vanjaar baie mense was waarvoor nie beplan is en wat die opeenhoping veroorsaak het nie.”

Oor berigte dat minstens vyf vragmotorbestuurders by die grenspos dood is, het Motsoaledi gesê dit is ook nie waar nie en sover sy departement kon vasstel is daar net een vragmotorbestuurder dood.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.