Minister eis geregtigheid vir melkboer

Minister Thoko Didiza. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het gevra dat die polisie alles in die stryd werp om die aanvallers wat Werner Buchner sr. en sy gesin Sondagaand op hul plaas naby Nanaga in die Oos-Kaap aangeval het, vas te trek.

Maroela Media het vroeër berig dat Werner sr. tydens die voorval op sy melkplaas, Boslaagte, doodgeskiet is. Sy vrou, Estelle, het albei haar arms gebreek terwyl sy haar gesin teen die aanvallers probeer beskerm het. Werner jr., hul volwasse seun, is ook geskiet en is in ʼn stabiele toestand in ʼn plaaslike hospitaal.

“Ek doen ʼn beroep op die polisie om geen steen onaangeroer te laat om die misdadigers wat hierdie sinnelose en barbaarse aanval uitgevoer het, vas te trek nie,” het Didiza gesê.

Niemand is tot dusver vir die aanval in hegtenis geneem nie, maar die polisie is glo op die spoor van die drie vermeende aanvallers. Die honde-eenheid en ander wetstoepassers is sedert die aanval ingespan om die skuldiges in hegtenis te neem.

Didiza het ook haar medelye met Werner sr. se gesin betuig en die betrokkenes bedank vir hul volgehoue pogings om die skuldiges aan te keer.

“Werner sr. se passie vir boerdery sal deur baie mense gemis word. Mag sy siel in vrede rus,” het sy gesê.

Talle boere is die afgelope paar maande in die Oos-Kaap aangeval en vermoor. Volgens die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke wat polisieminister Bheki Cele vir die tydperk 1 April tot 30 Junie vanjaar bekendgemaak het, was daar 181 aanvalle op plase en kleinhoewes in die land, wat 15 mense se lewens geëis het. Altesaam 16 van dié aanvalle het in die Oos-Kaap plaasgevind en twee mense is vermoor.

“Dit raak al hoe duideliker dat kwesbare gemeenskappe en groepe gebuk gaan onder afskuwelike geweldsmisdaad,” het Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, gesê.

Die VF Plus, die Melkprodusenteorganisasie (MPO) in die Oos-Kaap en talle ander rolspelers in die gebied het intussen ook hul woede oor die voorval uitgespreek.

Piet Mey, VF Plus-parlementslid en provinsiale leier in die Oos-Kaap, het Maandag gesê dat dié party sal voortgaan om druk op owerhede te plaas om die veiligheid van inwoners in veral landelike gebiede te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Aai

Nou waar is die clown met sy hoed.

marius

Arrestasies sal gedoen word . Die howe se patetiese houding is die probleem . Dan besluit korrektiewe dienste ook om te maak soos hulle wil . Gaan vra die hoofman wat nou empatie het met die grootste aardskelm wat vrygelaat is . Rook en spieels .

richard

Ons moet ons nie blind staar teen hierdie minister wat nou eweskielik optrede vereis nie .
Glo dit is slegs “window dressing” om die mense telaat glo hulle gee om want waar was sy al die tyd met ander moorde.
Ek sien nie dat sy vra om die 72 uur plan in werking gestel moet word nie.
Hoop daar sal iets van kom en dat sy die selfde sal vra met ander moorde.
Dalk sal daar reaksie kom as meer ministers die selde eis.

Chris dupreez

Bla bla bla bla bla bla

Nie Verbaas

En sy dink pateet hoed is gepla oor wat sy vra?