Minister erken finansiële wangedrag kos staat R1,5 miljard in een jaar  

Noxolo Kiviet (Foto: Departement van staatsdiens en administrasie/Facebook)

Die staat het meer as R1,5 miljard in een jaar verloor weens finansiële wangedrag deur amptenare in nasionale en provinsiale departemente.

Mimmy Gondwe, DA-LP, sê finansiële wangedrag in die staatsdiens sal net vererger solank die huidige stelsel, met ligte, inkonsekwente en onbelangrike strafmaatreëls vir oortreders, bly geld.

“Die departement van staatsdiens en administrasie se gebrek aan streng optrede teen staatsamptenare wat by finansiële wangedrag betrokke is, is besig om ʼn kultuur van straffeloosheid te verskans en skrik nie oortreders af nie.”

Noxolo Kiviet, minister van staatsdiens en administrasie, het in ʼn skriftelike antwoord op ʼn parlementêre vraag van Gondwe bekend gemaak dat 523 gevalle van finansiële wangedrag deur staatsamptenare tydens die 2021/’22-boekjaar aangemeld is en die staat R1,5 miljard gekos het.

“Die skriftelike antwoord het verder aan die lig gebring dat die staat slegs R6 miljoen of 0,47% van die totale bedrag wat weens finansiële wangedrag verlore gegaan het, kon verhaal.”

Volgens Gondwe het dit ook onder meer aan die lig gekom dat ʼn luitenant-kolonel in die departement van verdediging wat van onreëlmatige uitgawes van R8 miljoen beskuldig word, slegs berispe is terwyl twee direkteure en twee adjunkdirekteure in die departement van indiensneming en arbeid wat glo R66 miljoen weens growwe nalatigheid verloor het, hul werk behou en net ʼn finale skriftelike waarskuwing ontvang het.

“’n Staatsamptenaar in die departement van handel en nywerheid wat byna R2 miljoen se staatsfondse vermors het, se skriftelike waarskuwing is teruggetrek ná ʼn appèlproses en die staat sal geen stappe doen om die geld terug te kry nie.”

Volgens Gondwe is dit kommerwekkend dat staatsamptenare in nasionale staatsdepartemente verantwoordelik is vir R1,3 miljard van hierdie verlies in vergelyking met hul provinsiale eweknieë wat verantwoordelik is vir R230 miljoen van hierdie verlies.

“Die nasionale sfeer van regering is die regeringsfeer wat die grootste toekenning of gedeelte van die nasionale begroting ontvang, en tog het dit swak finansiële beheermaatreëls wat dit vir sommige staatsamptenare maklik maak om belastingbetalers se geld te misbruik.”

Die departement van staatsdiens en administrasie versuim volgens Gondwe sy rol om norme en standaarde daar te stel wat nie net staatsamptenare sal afskrik om by finansiële wangedrag betrokke te raak nie, maar ook aansienlike gevolge sal hê vir diegene wat die wet oortree.

“Ons kan nie net aangaan soos voorheen as die Suid-Afrikaanse belastingbetaler doodluiters beroof word van R1,5 miljard nie, en dít terwyl die land se staatsfinansies in so ʼn diep krisis is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Johann ·

Presies. Maar ongekukkig mag ons nie noodwendig ‘n paar van daai woorde aanhaal nie.

Riette ·

Liewe genugtig. Die ANC voel net absoluut niks vir die mense van die land nie. Verloor R 1.5 miljard en verhaal slegs R 6 miljoen. Lekker man, lekker.

Martie Smartie ·

Lekke man, die ANC, living the African dream met ons belasting geld

hpven ·

Dit sal nooit onder die ANC Ramaphosa regime stop nie! Begin die parlement skoonmaak, dit is die opposisie partye se plig! Ons as kiesers het hulle die mag gegee om nie net te praat maar te doen!

Kokerboom ·

Die ANC sirkus is glad nie meer snaaks!Hoe lank gaan belastingbetalers nog die skreiende geldvermorsing verduur?

hpven ·

Solank as wat die verkose opposisie net praat en dit toelaat…

Andries ·

Ons VODER… Na 30 jaar erken ANC darem al daar is wanbesteding/diefstal. Dalk oor 30 jaar begin met vervolging/toesluit…

Kokerboom ·

Andries as hul so baie geld het om te verkwis moet ons net ophou betaal dan kan hul nie mors. Dis sinneloos. ons betaal en hul klap ons in gesig en mors dit

Michael ·

Of ons wil of nie. Ons moet volgende jaar vir DA stem. Dit help nie ons stem vir verskillende parteie. Dan moet `n koalisie gevorm word en in die meeste gevalle werk dit nie.

Ore ·

My vriend, ek dink die ANC gaan nog een troefkaart speel om aan bewind te bly. Moet nie verbaas wees as hulle ‘n veelparty kabinet gaan vestig nie. Kleiner partye sal nikseggende portefeueljes kry terwyl die ANC steeds in beheer van die belangrike porteueljes gaan bly. Hulle is uitgeslape. Die DA speel ongelukkig die man en nie die bal nie.

Renier ·

So sink hulle die skip,…..gelukkig kan hulle nie swem nie.

Johann ·

Swem die kan hulle wel baie goed…in vreetkrippe vol geld. Anders dryf hulle bloot agv hulle “dryfbaarheids” gegewe. (Foto as verwysing)

annie ·

… en alles sal presies so aangaan totdat niks oor is nie en dan gaan sit ‘ons’ weer onder ‘n ou boom (hopelik die laaste een) net buite die Paradys en wag en wag totdat die volgende beskawing verbykom… En dan begin alles weer van vooraf aan…

Althes ·

Skandalig tree hul op, verarm die man op straat en gee nie ñ flenter om nie.

Gert ·

Hul het ons geld nodig om sulke vermorsing van fondse moontlik te kan maak. Onthou om stiptelik jul belasting inkomste belasting te betaal en streng al die VAT reels na te kom. Probeer ook altyd groot besighede ondersteun en nie die klein handelaar of familiebesighede nie. Sodoende kan ons hul ondersteun om hul self te verryk en fondse te verkwansel. “My skrywe is so dat die wat tussen die lyne lees eintlik weet wat ek bedoel.”

Chopper ·

Lyk of die agbare minister ‘n groot gedeelte van daai R1.5milj opgevreet het.

Andre ·

…solank die base ook kan eet, sal die werknemers altyd vryloop!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.