Minister erken korrupsie deur SA spioene

Minister Dipuo Letsatsi-Duba. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die minister van staatsveiligheid, Dipuo Letsatsi-Duba, het erken dat die land se spioenasienetwerk ʼn korrupsieprobleem het, maar was vaag oor hoe sy beplan om dit te takel.

Letsatsi-Duba het Vrydag haar departement se begroting by die parlement ingedien – die enigste blik wat Suid-Afrikaners jaarliks het op die beplanning van hoe belastinggeld aan die land se spioene, wat onder die Staatsekerheidsagentskap (SSA) val, bestee gaan word.

Tans is daar wesenlik net vier oorsigmaatreëls oor die spioene, naamlik die begrotingsdebat, die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie (wat agter geslote deure vergader en waarvan die vergaderings se inhoud nie bespreek mag word nie), die inspekteur-generaal van intelligensie (wat gewoonlik uit die intelligensiegemeenskap kom en wie se oorsigverslae as geheim hanteer word) en die ouditeur-generaal (wie se verslae telkens as geheim hanteer word).

Letsatsi-Duba het met klaarblyklike verwysing na die ongewoon openbare onlangse botsing tussen die voormalige direkteur-generaal van die SSA, Arthur Fraser, en die inspekteur-generaal van intelligensie, Setlhomamaru Dintwe, toegegee dat daar tans baie kommer is oor die bestuur en gehalte van die land se spioenasiedienste. Fraser is intussen aangestel as direkteur-generaal van korrektiewe dienste.

Die minister het aan die Nasionale Vergadering gesê daar is sistemiese en bestuursprobleme in die SSA, maar nie daaroor uitgebrei nie.

Sy het wel die “verrotting” toegeskryf aan die “onlangse veranderinge” by die SSA. Daar is ʼn hersieningspaneel aangestel om die SSA se doeltreffendheid te bestudeer, maar die raamwerk en samestelling van die hersieningspaneel is nog nie bekend gemaak nie.

Letsatsi-Duba het belowe dat die SSA se geld beter bestee sal word, maar geen besonderhede bekend gemaak nie. Sy het beter opleiding beloof, maar was eweneens stil oor die besonderhede.

Die minister het toegegee dat die kantoor van die inspekteur-generaal versterk moet word, maar geen voorstelle gemaak oor hoe dit moet gebeur nie. Sy het ook erken dat daar wantroue tussen die regering en die landsburgers is en dat die SSA  daaraan aandadig is, maar nie uitgebrei oor hoe dit oorkom kan word nie.

Letsatsi-Duba het gesê hoewel onluste en protes in die land voorkom, is Suid-Afrika relatief stabiel. Sy het wel kommer uitgespreek oor die huidige veiligheidsituasie in Noordwes en KwaZulu-Natal, maar met geen voorstelle ter verbetering vorendag gekom nie.

Die minister meen strenger keuringsmaatreëls vir sekerheidsklaring is nodig, maar het nie verwys na die agterstand wat reeds in terme van die huidige maatreëls ervaar word omdat dit soms lank neem om af te handel nie.

In reaksie het die EFF-LP dr. Mbuyiseni Ndlozi daarop aangedring dat skakeling tussen die SSA en die parlementêre oorsigkomitee meer gereeld in die openbaar moet plaasvind.

Die burgerregtegroep Right2Know het gesê dit help niks die minister gee ondernemings, maar dit is onmoontlik om te sien of sy dit gestand doen nie.

R2K dring aan dat spioenasie op aktiviste, joernaliste en diegene wat korrupsie openbaar maak, dadelik gestaak word, asook dat die begroting van die SSA deursigtig hanteer word, verslae van die inspekteur-generaal bekend gemaak word, die parlementêre staande komitee oor intelligensie se vergaderings oopgestel word en spioene wat die wet oortree in die openbaar strafregtelik aangekla word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wors ·

So wie gaan die Korrupte Spioene dop hou as die Spioene korrup is wat die Spioene moet dop hou wat Korrup is? Nou daai is Korrup!

John ·

Die appeltjie is vrot regdeur, tot die pitte, en geen jam of appeltert kan meer daarvan gemaak word nie… wat nou?

Ben ·

Waarvoor het ons nou spioene nodig? Ons is nie in ‘n oorlog nie?
Dit is net nog ‘n instansie vir korrupsie. Maak die instansie toe!
1> Gebruik die geld om die Vrye onderwys te betaal of
2> Verbeter die hosipitale of
3> Verbeter die water toevoer.
End of story.

Veritas ·

Ben is jy nie bewus van die koue oorlog waarin ons, ons bevind nie? Die hele wêreld se spioene spioeneer op ons James Bonds om uit te vind watter korrupsiesaak tans toegesmeer word. Die hele parlement word nag en dag dopgehou. Die hele spul is paranoïes en dit is ‘n ‘Spy vs Spy’ storie van die oggend tot die aand.

Jacobus ·

Ben, ek gaan ou lelik wees en vir u sê dat as u nie weet hoekom ‘n land ‘n spioenasie diens het nie, moet u liewer nie kommentaar lewer nie. Spioene word nie net in oorlog situasies gebruik nie.

Die SSA se regte werk is om moontlike en huidiglik interne sowel as eksterne gevare te ondersoek, kapasiteit van interne en eksterne magte (misdaadsindikate, terroriste organisasies, vyandelike regerings, besighede, ens.) te bepaal en waar moontlik binne te dring om ‘n beter prentjie te kry van wat werklik aangaan en of hulle ‘n gevaar vir Suid Afrika inhou.

‘n Spioenasie kapasiteit kan nie oornag weer opgestel/opgebou word nie, dit vat jare om informante te werf en om kwaliteit spioene op te lei.

Watter regering wil nou blind wees. Onthou die SSA is daar om nie net huidiglik maar ook toekomstige gevare die hoof te bied en om die regering ‘n voorsprong te gee om die gevare te neutraliseer.

Ek gee toe dat die SSA sukkel met korrupsie maar dit is nog altyd die geval gewees en dit gaan nie net so is Suid Afrika nie maar oor die hele wêreld is dit ‘n probleem omdat oorsig nie altyd 100% toegepas kan word nie.

Onthou daar is goeie spioene wat wonderlike werk doen waarvan ons nooit eens sal weet nie, maar as hulle faal weet ons dit beslis want dan is dit voorblad nuus; onthou hoe het die CIA van Amerika gefaal met 9/11.

Oom Kalahari ·

@Wors, waar wil ek nou die korrupte spioene wat die ander korruptes dophou wat saam korrup is beter stel as jy. Mooi gestel. Wonder waar word die korrupte spioenasie opleiding gedoen om jou korrupte Meesters graad in spioenasie van korrupsie te kan bekom/uitvoer.

Reguit ·

Die Afrika Sirkus. Waar spioene ook opgelei word. Onder andere……………

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.