Minister gedagvaar ná babas omgeruil is

Argieffoto (repeatcrafterme.com)

Twee ma’s wie se babas met geboorte in die hospitaal omgeruil en gevolglik deur ander vroue grootgemaak is, dagvaar nou die minister van gesondheid oor dié reuseflater.

Henk Strydom, ʼn prokureur wat een van die ma’s verteenwoordig, het aan Maroela Media bevestig dat die dagvaarding aan die minister se kantoor beteken is en dat die kantoor intussen aangedui het dat hulle die saak sal teenstaan. Strydom het gesê die minister word vir meer as R1 miljoen gedagvaar vir onder meer pyn en lyding.

Die saak sal na verwagting eers volgende jaar in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

Maroela Media het vroeër berig die babaseun en babadogter is in 2010 by ʼn hospitaal in die Oos-Rand omgeruil. Die fout is egter eers byna drie jaar later agtergekom toe een van die pa’s ʼn ouerskaptoets geëis het nadat die kind se ma op onderhoud aangedring het. Die uitslag het gewys dat nie een van hulle die biologiese ouers van die seuntjie is nie.

Drie regters het in November 2015 beslis die seuntjie en dogtertjie, toe vyf jaar oud, moet by die gesinne bly waar hulle grootgeword het. Die regters het gesê die kinders kan beskou word asof hulle aangeneem is deur die ouers wat hulle grootgemaak het, al het hulle geen formele aannemingsproses ondergaan nie. Die kinders is sedertdien formeel deur hul grootmaak-ouers aangeneem.

Prof. Ann Skelton van die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Kinderreg is destyds deur die hof aangestel om die saak te ondersoek en aanbevelings te maak wat in die beste belang van die kinders sal wees. Die hof het Skelton se aanbevelings aanvaar.

Strydom het gesê die twee gesinne ontvang sedertdien terapie soos deur die hof beveel is. Hy het gesê die twee ma’s is ook in verbinding met mekaar en hul biologiese kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Van die een riller na die ander. Genade, maar die regering is onbeholpe!

Z ·

Seuntjie & Dogtertjie…
Kon die ouers nie sien wat die geslag is toe die baba’s gebore is nie?

Slim ·

Dit lyk nie of die ma’s ‘n kans gegun is om die baba vas te hou.

Anette ·

Dit kan maklik gebeur indien die ma’s onder narkose was tydens ‘n keisersnee. Jy sien eers jou kleintjie wanneer jy uit die teater kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.