Minister gee duidelikheid oor restaurante, venues se sluitingstye

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash/Alex Holyoake)

Restaurante in Covid-19-brandpunte moet om 21:00 sluit sodat mense betyds tuis kan wees vir die aandklokreël terwyl restaurante wat nie in brandpunte is nie om 22:00 moet sluit vir die aandklokreël wat hiér geld.

Daar was groot verwarring oor restaurante se sluitingstye gedurende die feestyd nadat aangepaste regulasies deur Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, in die Staatskoerant bekendgemaak is.

Dlamini-Zuma het egter nou duidelikheid gegee oor die regulasies wat geld in Covid-19-brandpunte en die res van die land.

In gebiede wat nie tot brandpunte verklaar is nie, geld ʼn aandklokreël van 23:00 tot 04:00. Restaurante, casino’s, teaters, gimnasiums en enige ander venues moet teen 22:00 sluit sodat mense teen 23:00 tuis kan wees.

In brandpuntgebiede, naamlik die Nelson Mandelabaai-metro, die Tuinroete en die Sarah Baartman-distrik, geld ʼn aandklokreël van 22:00 tot 04:00. Restaurante en ander venues in dié gebiede moet teen 21:00 sluit sodat mense teen 22:00 tuis kan wees.

Dit blyk die onderskeid in regulasies tussen brandpunte en nie-brandpunte is nie aanvanklik duidelik gemaak nie en dat dit tot die grootskaalse verwarring gelei het.

Dlamini-Zuma het ʼn verklaring oor die aangeleentheid uitgereik nadat die DA vroeër vandag gesê het die aangepaste regulasies bepaal dat alle restaurante om 21:00 moet sluit. Dean Macpherson, DA-woordvoerder vir handel en nywerheid, het bevraagteken hoekom dit verskil van wat pres. Cyril Ramaphosa in sy laaste toespraak aan die land gesê het.

“Dit is natuurlik nie die eerste keer dat Dlamini-Zuma die president weerspreek nie, met die ommeswaai oor die verkoop van tabakprodukte wat die bekendste voorbeeld is. Wanneer die president praat, moet sy woord finaal wees. Dit kan nie toegelaat word dat ʼn minister sy of haar eie agenda kan bevorder deur regulasies soos ons telkens gesien het nie.”

Volgens Macpherson het hy skrywes aan Dlamini-Zuma en die president gerig om dringend antwoorde hieroor te kry. Dlamini-Zuma het ʼn paar uur later ʼn mediaverklaring uitgereik om duidelikheid oor die tersaaklike regulasies te gee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.