Minister gee opdrag dat Prasa-lokomotief se ontsporing ondersoek word

Die lokomotief wat ontspoor het. Foto: ER24

Die lokomotief wat ontspoor het. Foto: ER24

Dipuo Peters, minister van vervoer, het opdrag gegee dat die Nasionale Reguleerder vir Spoorwegveiligheid (RSR) en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) nou saamwerk om vas te stel hoekom een van die omstrede nuwe Afro4000-lokomotiewe laat Dinsdagaand ontspoor het.

Peters het in ʼn verklaring haar skok en kommer oor die voorval uitgespreek en gesê RSR en Prasa moet spoedig vasstel wat tot die ontsporing van die Shosholoza Meyl-trein met 101 mense aan boord naby Modderrivier, sowat 35 km buite Kimberley, gelei het.

Sy het bevestig dat die trein deur ʼn Afro4000-lokomotief getrek is. ʼn Storm het in Julie oor dié nuwe peperduur lokomotiewe losgebars nadat berig is dat 13 ingevoerde nuwe diesellokomotiewe, waarvoor Prasa R600 miljoen opgedok het, nie aan al die beheerstandaarde en -maatreëls voldoen nie.

Die lokomotiewe is glo ingevoer ondanks uitdruklike waarskuwings dat dit nie gepas is vir plaaslike spoorlyne nie. Prasa het die nuwe diesellokomotiewe in ontvangs geneem ondanks waarskuwings dat dit te hoog is vir die langafstandroetes waarvoor hulle bestem is.

Maroela Media het Woensdag berig die ontsporing het omstreeks 23:30 plaasgevind. Daar is aanvanklik berig dat 12 mense tussen geringe en matige beserings opgedoen het, maar nuwe inligting dui daarop dat 60 mense onder meer behandeling vir skok moes ontvang. Almal is glo reeds uit die hospitaal ontslaan.

Mtura Swartz, uitvoerende hoof van hooflynpassasiersdienste vir die Shosholoza Meyl, het aan Maroela Media gesê die ongeluk hou moontlik nie verband met die nuwe lokomotief nie. Hy het gesê ʼn ondersoek is by die ongelukstoneel uitgevoer en die voorlopige bevindinge dui daarop dat die ontsporing moontlik veroorsaak is deur onderhoudwerk wat tans deur Transnet aan die spoorlyn gedoen word.

“Die treindrywer is nie omtrent dié werk ingelig nie. Hy het nie te vinnig gery nie. Hy het die normale spoed gevolg. As hy egter ingelig is omtrent die konstruksiewerk, sou hy spoed verminder het tot ʼn veiliger spoedgrens vir die betrokke gebied,” het Swartz gesê.

Hy het verduidelik dat enige lokomotief in dié omstandighede moontlik probleme kon ervaar. Hy het ook gesê Transnet het Prasa toestemming gegee om die nuwe lokomotief op die spoornetwerk te gebruik.

Lees hier hoe ʼn Maroela Media-leser wat tydens die voorval ’n passasier van die trein was, dit ervaar het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

J.Z ·

Te verstaan dat dit nie die nuwe lokmotief se probleem is nie.

RIAAN ·

Niemand hoef die drywer niks te se nie, in my tyd het hulle gebruik gemaak van tydelike spoed beperkings borde en daarvolgens sal die drywer sy spoed verminder by die geafekteerde gebied , so dit maak nie saak op wie se lyn die trein gery het nie die reels en regulasies bly dieselfde, maar nou ja wat eens n goed geoliede spoorweg was is ook totniet en dit gaan net slegter gaan. Ek kyk gister ENEWS waar daai blondekop n onderhoud voer met daai swart baas van Prasa waar hy se Transnet het nie vir Prasa laat weet hulle werk aan die lyn nie, hoe kan die ou sulke nonsens praat op TV

RIAAN ·

In my tyd as treindrywer het hulle tydelike spoed beperkings borde voor en by die geafekteerde deel van die lyn gesit waarvolgens die drywer sy spoed sal verminder soos op borde aangedui en aan die einde van die geafekteerde deel van die lyn is daar weer n opheffings bord , nou wie moes vir die drywer wat se, so met ander woorde vra vir Prasa of Transnet net daai vraag, sou die borde daar wees het die drywer nooit spoed verminder nie, geen borde dan is dit die baanmeester se skuld , maar hoe het die treine voor daai trein daar oor gery?

Bruno Stef ·

Dit is duidelik dat persone met n laer rang op sy swaard sal moet val om die werklike veranwoordelikes te whitewash en die blaam te verplaas.

Ghost ·

Ja blameer my broer Jack, hy lieg nes ek. Stem Bruno. Hulle soek altyd iemand anders om te blameer wat hulle tienteen een onder die tafel n som geld gee.

Theresa ·

Ek skoon benoud om op eerste wêreld goed te ry/ te sit/ te geniet.
Is ons gerigg daarvoor??????

Martin ·

Wat verstaan die minister nie? Almal in die land is voor die tyd gewaarsku en baie duidelik ingelig. Die treine gaan nie werk nie. Een rede was hulle is te hoog vir ons Elektiese spoorlyn stelsel. Ek wil amper sê, hy was die een wat gesê het die treine is geskik. Maroela, sal dit dalk moontlik wees om weer die vorige berig van ‘n paar weke gelede te plaas?

Martin ·

Ek vra verskoning, dit was ‘n sekere mr. Mofi, hoof van PRASA in die berig van13 julie 2015 wat die teine veilig verklaar het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.