Minister gekap oor ‘onderonsie’ met media

Stella Ndabeni-Abrahams (Argieffoto: Flickr/GovernmentZA)

Ondanks Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, se verskoning ná haar onderonsie met die media gister by die ANC se provinsiale manifesbekendstelling by Mount Frere in die Oos-Kaap, het sy Sondags steeds onder kritiek deurgeloop.

Die DA het Ndabeni-Abrahams oor die kole gehaal oor haar poging om SAUK-joernaliste te verhoed om verslag te doen oor ʼn betoging by die byeenkoms en meen haar optrede was ʼn poging om die media te sensor – en dít boonop deur die minister van kommunikasie.

“Die DA is nie verras deur berigte dat [Ndabeni-Abrahams] joernaliste gekeer het om verslag te doen oor die betogings nie. Dit is wat die ANC al vir jare doen, behalwe dié keer het die SAUK sy voet neergesit om sy onafhanklikheid af te dwing en Ndabeni-Abrahams bloot te stel, en daarvoor wens ons die SAUK geluk,” het Phumzile van Damme, die DA se skaduminister van kommunikasie gesê.

“Die minister se optrede verskil geensins van dié van vorige ANC-ministers nie wat ook probeer het om deur politieke inmenging die SAUK te beheer. Haar optrede was nie ʼn geïsoleerde voorval of fout nie, sy het doodeenvoudig gedoen wat die ANC al jare doen, en wat nog altyd deur die gekaapte bestuur en rade van die SAUK toegelaat is.”

Van Damme sê dit is verblydend dat die SAUK steeds oor die byeenkoms en die betoging by die bekendstelling berig het, ondanks Ndabeni-Abrahams se poging om hulle te verhoed. “… dit is wat verwag word van die SAUK as ʼn onafhanklike openbare uitsaaier, nie ʼn ANC-spreekbuis nie.”

Ook die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Ndabeni-Abrahams se optrede veroordeel. “Hoewel die forum kennis neem dat die minister om verskoning gevra het vir die voorval, is ons bekommerd oor die feit dat sy na haar optrede verwys as ʼn ‘onderonsie’. Gegewe die minister se hoëprofiel portefeulje, veral met betrekking tot die SAUK, sal ons graag ʼn dringende vergadering met haar wil hou om die saak en ons bekommernisse te bespreek,” het Sanef in ʼn verklaring gesê.

‘n Skermskoot van ‘n SAUK-uitsending wat toon hoe ‘n hand oor die SAUK-kamera se lens gehou word. (Skermskoot: SAUK)

“Ons loof die SAUK dat hulle die beeldmateriaal uitgesaai het en sodoende redaksionele onafhanklikheid getoon het, ʼn ommeswaai van die onlangse verlede toe vryheid van spraak by die openbare uitsaaier ondermyn is.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep betogers het Saterdag die verrigtinge van die manifesbekendstelling ontwrig deur in die venue te betoog, plakkate rond te swaai en te dans en sing. Die SAUK berig die betogers is ontevrede oor ʼn gebrek aan dienslewering en wou by die ANC weet hoekom hulle moet stem as daar nie aan hul klagtes gehoor gegee word nie.

Verslaggewers het nader aan die groep betogers beweeg om die betoging op kamera vas te vang en om met hulle te praat. Dit is toe dat Ndabeni-Abrahams haar hand oor die SAUK se kameralens geplaas het en die joernaliste opdrag gegee het om onmiddellik op te hou om verslag te doen en nie blootstelling te gee aan ANC-lede “wat buite orde is” nie.

Ndabeni-Abrahams het later ʼn verklaring uitgereik waarin sy om verskoning vra vir haar optrede en haar verbintenis tot mediavryheid bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ag regtig ·

Spyt my papnat is nie genoeg nie. Mee nee nee! Blankes sou aan die pen gery het.

Adriaan ·

Al waaroor sy jammer is, is dat haar optrede die nuus gehaal het.

Manie ·

dus, dammit, eks uitgevang nou se ek gou jammer en gaan aan.tipies anc mentaliteit

Jerry ·

Die tyd is ryp om die ANC te vat en uit te lok dat hulle, hulle ware kleure wys en om hulle in n blik te druk. Hulle moet te bang raak om iets te se!

leser ·

ek hoop daars duiende wat sien dat die aaancheee net n klomp lee blikke is

Gert van Wierdapark ·

Die Mini-ster se sterrerretjie skitter nie meer so helder nie. “Met haar hand oor die kamera-lens om te verhoed dat die betoging gesien word – – dis tyd dat die stemvee die party met die kous oor die kop huis toe stuur. Sien wat dy dan gaan Communikeer!?

Hanna Hoekom ·

Die minister van kommunikasie probeer kommunikasie verhoed… Ons land raak by die dag al hoe meer n sirkus!

JohanL ·

SjN, die tent is reeds daar – ons noem dit die parlement. Grootste sirkus in die land met meeste mense daarin ‘n spul narre met min intellek – darem nie almal nie. Net jammer die enkeles daar sukkel ‘n opdraende stryd teen die meerderheid.

humor ·

Hul veskopnings kom vinng as hul besef die moeilikheid is op pad. Neewat ek glo nie sy het so ruim menslikheidshart nie.

ne ·

Kry vir jou “madame” jy wil mos die posisie beklee, net jammer jou kaders sê te veel voor wat jy moet doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.