Minister gekap oor voorstel vir grondbesitbeperkings

Foto: Maretha Maartens

Foto: Maretha Maartens

AfriSake en Agri SA het Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, se voorstel om grondbesitbeperkings in te stel as “politieke oëverblindery” en “onwerkbaar” beskryf.

Johannes Möller, president van Agri SA, sê Nkwinti het tydens ʼn grondberaad in Boksburg dié omstrede beleid in terme waarvan beperkings geplaas kan word op die omvang van plaasgrond wat persone mag besit, probeer afdwing.

“Die minister het ter elfder ure ʼn voorstel ter tafel gelê, wat nie bespreek is deur die kommissies wat oor verskillende aspekte van besitreg-hervorming beraadslaag het nie,” het Möller gesê. “Dit behels dat klein boere nie meer as 4 000 hektaar sal mag besit nie, medium boere slegs tussen 4000 ha en 8000 ha en grootskaalse boere ʼn maksimum van 12 000 hektaar. Hy het toe geëis dat die aanwesiges onmiddellik ʼn standpunt oor die voorstel moes inneem. Daar was duidelik geen konsensus oor die syfers wat die minister op die tafel geplaas het nie.”

Cornelius Jansen van Rensburg, AfriSake se uitvoerende hoof, het gesê Nkwinti se nuutste voorstel om grondbesitbeperkings in te stel, is net so ingrypend soos die voorstel om 50% van landbougrond aan werkers te herverdeel. Hy sê die voorstel is ʼn vorm van regstellende aksie op grond. “Instemming op grondbesitbeperkings sal ’n regspresedent skep,” het hy verduidelik. “Sodanige instemming sou vir die regering ruimte skep om later die grondbesitbeperkings afwaarts aan te pas. Grondeienaars sal dan bykans geen regsmiddel hê nie, aangesien hul reeds in beginsel saam met die beleid stem.”

Volgens Jansen van Rensburg is die voorstel nie toepasbaar nie. “Frustrasie hiermee sal daartoe lei dat die regering die skuld vir mislukking op grondeienaars sal pak. Die nuutste voorstel laat ’n klomp nuwe vrae ontstaan: Indien grondbesit beperk word, sal dit geld vir tradisionele grond? Hoe sal suksesvolle boere (wit of swart) kan uitbrei? Die aanvaarding van grondbesitbeperkings sou in beginsel ook van toepassing gemaak kon word op eienaars van residensiële en industriële eiendom.”

Möller sê Agri SA het deurgaans tydens die Groenskrif-proses die standpunt gehandhaaf dat sogenaamde grondplafonne onwerkbaar is. “Dit word geïllustreer deur internasionale ervaring. Verskeie kundiges is hieroor geraadpleeg tydens die Groenskrif-proses en daar is telkens daarop gewys dat die implementering van sulke plafonne baie duur sal wees, moeilik administreerbaar sal wees, dat verskillende tipes boerderye heeltemal verskillende behoeftes het in terme van hoeveelheid grond benodig en dat dit voedselsekerheid in gedrang kan bring.”

Möller sê dit is tyd dat die regering ophou om duur, onwerkbare planne uit te dink en miljoene te spandeer op berade waar geen ware konsultasie plaasvind nie. “Agri SA sal ook nie beskuldigings aanvaar dat daar nie betyds met ekonomiese argumente vorendag gekom word om die minister se politieke sienings te ondersteun nie. Die minister moet besef dat aspekte soos grondplafonne kwalik deur enige ekonomiese berekeninge ondersteun kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

scalla ·

10 ha in die kaap = 10000 ha in die noordkaap, prakties onbehaalbaar!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.