Minister gepols oor Hlaudi, Guptas

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Faith Muthambi, minister van kommunikasie, is Woensdag behoorlik onder kruisverhoor geneem terwyl lede van die ad hoc-komitee wat die bevoegdheid van die SAUK-raad ondersoek, probeer vasstel het of Muthambi verantwoordelikheid vir die krisis by die openbare uitsaaier sal aanvaar.

Muthambi het haar tydens haar voorlegging aan die komitee gedistansieer van dit wat by die SAUK gebeur en gesê daar moet “gesamentlik verantwoordelikheid gedra word” vir probleme by die uitsaaier. “Die bestuur van die SAUK moenie aan die aandeelhouer [Muthambi] toegeskryf word nie. Daar moet gesamentlike verantwoordelikheid wees,” het sy gesê. “Ek verontskuldig my glad nie. Waar ek moet verantwoordelikheid dra, het ek.”

Sy het volgehou die probleme by die SAUK het begin lank voordat sy daar gekom het. Sy het wel erken dat sy die aanstelling van Hlaudi Motsoeneng as bedryfshoof in 2014 goedgekeur het, ʼn aanstelling wat sy volgens ʼn hofuitspraak nie gemagtig was om te maak nie. Muthambi het gesê haar besluit om Motsoeneng aan te stel was “die regte besluit”.

“Destyds was daar wel regverdiging vir Motsoeneng se aanstelling,” het sy gesê. “Ek het regsadvies ingewin voordat ek daartoe ingestem het.”

Verlede week het ʼn voormalige raadslid gesê Muthambi kon nie Motsoeneng se aanstelling behoorlik oorweeg het voordat dit gemaak is nie, omdat sy aanstelling aangekondig is die oggend nadat die raad laat die vorige aand daaroor gestem het. Hy het geskerts Muthambi moes seker die aanstelling “in haar drome oorweeg het”.

LP’s het die minister uitgevra oor talle getuies wat beweer Motsoeneng het nie die wet nagekom nie, al die reëls verbreek en sy eie reëls opgemaak. “Ek kan nie onthou dat enigiemand oor mnr. Motsoeneng se optrede gekla het nie,” het Muthambi gesê.

LP’s het haar daarop gewys dat ʼn voormalige raadslid, wyle Hope Zinde wat in 2015 sonder enige kennisgewing van die raad verwyder is, gekla het oor Motsoeneng se gedrag. “Hope, die goed wat sy geopper het, sy het nie oor die weg gekom met die voormalige raadsvoorsitter nie … Ek het nooit klagtes oor mnr. Motsoeneng ontvang nie,” het Muthambi geantwoord.

EFF-LP Fana Mokoena het Muthambi se verhouding met Motsoeneng bevraagteken. Muthambi het volgehou hul verhouding is streng professioneel. “Ek het geen ander verhouding met Hlaudi Motsoeneng nie,” het sy gesê.

Hlaudi Motsoeneng. Argieffoto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng. Argieffoto: news.iafrica.com

Oor Motsoeneng se salarisverhoging van meer as R1 miljoen, het Muthambi gesê dit was nie deur haar toedoen nie. “Oor daardie kwessie moet die raad verantwoording doen.”

Wat die band tussen pres. Jacob Zuma en Motsoeneng betref, het LP’s Muthambi ondervra oor ʼn bewering deur Zinde verlede jaar, naamlik dat Muthambi aan haar gesê het Zuma “is baie lief vir Motsoeneng” en daarom moet hulle Motsoeneng ondersteun. Muthambi het ontken dat sy dit ooit gesê het.

“Ek het al daardie kommentaar ontken. Ek het dit nooit gesê nie. Daar is bewyse daarvoor,” het sy gesê.

Muthambi het gesê sy was ook nie bewus van die massiewe bonus, tussen R11 miljoen en R33 miljoen, wat Motsoeneng ontvang het vir die omstrede ooreenkoms wat die SAUK en MultiChoice aangegaan het nie. “Ek het daarvan in die koerant gelees en daarna het ek aan die maatskappy se sekretaris geskryf om vir my die inligting te gee. Ek wag nog op terugvoer,” het sy gesê.

Muthambi is ook gevra hoekom sy nie Mbulaheni Maguvhe, die raadsvoorsitter, gevra het om te bedank nie aangesien hy die enigste oorblywende raadslid is en die raad nou disfunksioneel is en dus nie besluite kan neem nie. “Die parlement het reeds beheer oorgeneem. Ek kan nie met die parlementêre prosesse inmeng nie,” het Muthambi gesê.

LP’s was Woensdag glad nie beïndruk met Maguvhe se getuienis en die feit dat hy nie eenvoudige vrae kon beantwoord soos wie die SAUK se aandeelhouers is of wie die openbare uitsaaier finansier nie.

Vincent Smith, voorsitter van die komitee, het Muthambi hieroor gepols en gevra of dit vir haar klink na iemand wat bevoeg is om ʼn staatsbate te bestuur waarvoor sy verantwoordelik is. Muthambi het ongemaklik in haar stoel rondgeskuif voor sy geantwoord het: “Ek hoor jou en ek dink jy plaas my in ʼn baie moeilike posisie om kommentaar te lewer. Dit sal baie onregverdig wees.”

Muthambi het die lof besing van The New Age en die SAUK se sakeontbyt-vennootskap wat deur sommige in die SAUK beskryf word as ʼn manier om die koerant en die ANN7-televisiekanaal, wat albei deur die Gupta-familie besit word, ʼn hupstoot te gee.

Regeringsdepartemente het al miljoene rande belastinggeld bestee om tafels by hierdie sakeontbyt-geleenthede te bespreek. Muthambi het gesê sy glo dit is vir ʼn goeie doel. “Vir my is dit ʼn baie goeie platform. Dit bied mense die geleentheid om met mekaar te kommunikeer en te verstaan wat die ministers doen.”

Sy het ontken dat sy noue bande met die Gupta-familie het. “Ek het geen verhouding met die Guptas nie.”

Dit het tydens die sitting aan die lig gekom dat die ondersoek na die SAUK die parlement reeds ʼn halfmiljoen rand gekos het. Die ondersoek sal Donderdag voortgaan, wanneer die laaste getuies na verwagting geroep sal word.

Lees alle vorigte berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Lance ·

Soos met alles is daar maar GEEN gevolge …water op n eend se rug !

andrea van vuren ·

Sy gebruik verdedigingsmeganismes soos al die ander ministers. Verplasing, ontkenning en projeksie. Dis altyd die ander ou se skuld en nooit joune nie!

Koos ·

Miskien kan hulle haar in die sauk se kombuis aanstel, want as minister faal sy toetaal en al

cor ·

Ek weet nie , ek het nooit so gese nie , nog nooit daar van gehoor nie, in die koerant gelees. Nou wat is haar pligte as ‘n minister ek twyfel of sy dit ook sal weet seker ook nog nooit daarvan gehoor het. Pos beskrywing moet seker wees minister van ontkenning.

snoefie ·

ek lees en hoor voortdurend van die eposse en smse wat verwissel was, meestal ook met volle ontkenning. was die nommers van waar diesmse gestuur was nie nagespeur en die eposse voorgele nie.

Emma ·

En dan het hierdie persoon nogal die duurste nuwe ampsmotor gekry.’As krummeltjie eers die dag koek geword het’ is dít wat jy kry.

cor ·

Daar is darem iets wat sy weet en dit is die new age ontbyt wat sy met lof besing, want daar eet sy haar elke keer dik op die belasting betaler se geld.

John ·

Is daar nog ‘n minister oor in president Zuma se kabinet wat nie onder ‘n hogere ‘raad’ dien en nie deur hulle aangewys is nie? Dit sou interessant wees om te weet wat die adjunk-president se verhouding met die Guptas is want by implikasie is hierdie land dan finaal gekaap en al wat nodig is, is ‘n finale coup de grace (finale slag) wat ons piesangrepubliek in ‘n vrot vrugteslaai sal omskep, net reg vir die rommelhoop…

GES ·

Sprakeloos … Nie moeite werd om kommentaar te lewer nie. Wat help dit om die ‘agbare’ minister met vrae te peper en sulke antwoorde word verskag met absoluut geen nagevolge.

Hennie ·

Alles word oopgekrap maar laat ons maar hoop daar sal aksie geneem word en ook regstellings nà hierdie uitgebreide ondervragings.

Kobus ·

Glo my daar sal aksies kom teen diegene…ek waarborg ongelukkig nie dat hul net van een departement na n ander geskuif word

John ·

Nee, groot toekennings, wat glo lankal reeds beplan is, is in die pyplyn… en kan nie nou teruggeroep word nie… Wat hierdie ondersoek in ‘n vreemde sepie laat verander… Watter vreemde land, die’

Johan ·

Kyk net bietjie mooi na haar….. lyk dit soos n minister van kommunikasie…….hoe moet jy haar êrenstig opneem….

Johanna Botha ·

Faith I lost all faith in the sabc and will not be paying my licence untill u can restore my faith

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.