Minister hof toe oor Sassa-staking

Sassa (Foto: ANA)

Susan Shabangu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het aansoek gedoen om ʼn interdik te bekom teen stakende lede van die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA) by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa).

Die saak word by die Johannesburgse arbeidshof aangehoor.

Duisende lede van PSA het Maandag oor lone by Sassa begin staak en dit het daartoe gelei dat uitbetalings van maatskaplike toelaes nie plaasgevind het nie. Die stakers eis ook onder andere ʼn behuisings- en gevaartoelaag.

Die vakbond versoek ook ʼn verhoging van 12%, ondanks ʼn 7%-verhoging wat ander vakbonde verlede maand onderteken het. Salariskwessies by Sassa word beheer deur die Sassa-wet, en die vakbond wil gevolglik direk met Shabangu onderhandel.

Dié verlammende staking kom nadat Sassa die parlement oortuig het dat die agentskap gereed is om teen September van Cash Paymaster Services (CPS) se dienste ontslae te raak.

Abraham Mahlangu, uitvoerende hoof van Sassa, het verlede maand aan die parlementêre portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling gesê die agentskap is sistematies besig om die getal begunstigdes, wat hul toelaes in kontant ontvang, te verminder en dat hulle die enigste begunstigdes is wat nog deur CPS betaal word.

CPS se kontrak is tot September verleng terwyl Sassa die funksie aan die Suid-Afrikaanse Poskantoor en kommersiële banke oordra.

Die staking het ʼn impak gehad op betalings van maatskaplike toelaes in Julie, en sommige begunstigdes het nie hul toelaes ontvang nie. Mahlangu blameer die vertraging op die omskakeling van die CPS-stelsel en het begunstigdes gemaan om nog minstens drie dae te wag.

“Ons is bewus daarvan dat begunstigdes tans probleme ervaar met die elektroniese betaling van hul maatskaplike toelaes. Dit is die gevolg van die omskakeling van ʼn ou betalingstelsel na ʼn nuwe betalingstelsel,” het Mahlangu Dinsdag in ʼn verklaring gesê. “Sassa is in die proses om Cash Paymaster Services (CPS) uit te faseer en die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) in te bring om die maatskaplike toelae te betaal soos deur die konstitusionele hof beveel.”

Sy het begunstigdes verseker dat hul maatskaplike toelaes ten volle betaal sal word.

Maroela Media het vroeër berig op Sassa se amptelike Facebook-blad het talle begunstigdes gekla dat hulle nie hul toelaes ontvang het nie, dat hulle nie hul volledige toelae ontvang het nie of dat hul Sassa-kaarte tegniese foute ervaar. “Ek kan dit nie net laat gaan nie, want ek is arm en dit is my geld. So wie is verantwoordelik? Wie steel my geld en hoekom?” het een gebruiker geskryf.

“Sassa, dit is ʼn skande. Gaan julle vir my kos verskaf vir die res van die maand? Waar is die res van ons geld? Iemand maak hul sakke vol met arm mense se Sassa-geld,” het nog ʼn begunstigde uitgevaar.

Ander het gekla dat hulle verlede maand al nie hul toelae ontvang het nie, dat hul nuwe Sassa-kaarte nie wil werk nie en dat administrasiefooie na bewering van hul toelae afgetrek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.