Minister kap terug ná EFF-bewerings oor ‘sameswering’

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste. (Foto: GCIS)

Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het teruggekap na wat lyk na ʼn “doelbewuste verdraaiing van die aanstellingsproses van waarnemende regters” in die Konstitusionele Hof.

Die EFF het Saterdag uitgevaar teen Gautengse regter-president Dunstan Mlambo, een van die kandidate vir hoofregter, en het terselfdertyd die kop van die minister geëis oor wat die rooi barette bestempel as die manipulasie van die proses om regters aan te stel.

Die EFF voer aan daar is bewyse dat die ANC die regbank manipuleer en dat Lamola vir Mlambo spesifiek uitgesonder het om ondervinding in die Konstitusionele Hof op te doen sodat hy met dié ondervinding by die onderhoude vir hoofregter kon opdaag.

Die onderhoude vir die pos is vandeesweek gedoen.

Die EFF het ook gal gebraak oor die “skokkende, onetiese en laakbare onthullings” oor kommunikasie tussen Lamola en waarnemende hoofregter Raymond Zondo oor Mlambo se aanstelling as ʼn waarnemende regter in die Konstitusionele Hof.

Die departement van justisie het later in die dag in ʼn verklaring gesê die kabinetslid verantwoordelik vir die administrasie van justisie moet ʼn waarnemende regter by ander howe aanbeveel nadat daar met die senior regter van die hof waar die waarnemende regter sal dien, beraadslaag is.

Volgens die departement is dit binne hierdie konteks dat oorlegpleging tussen die hoofregter en/of die regters-president van die hoër howe en die minister plaasvind.

“Om die gedagte te laat posvat dat die proses, soos voorgeskryf in die Grondwet, die kaping of manipulasie van die regbank is, is agterbaks om die minste te sê. Die Grondwet verplig die minister om ʼn waarnemende aanstelling met die instemming van die hoofregter aan te beveel.”

Volgens die departement is kommunikasie tussen die minister, die (waarnemende) hoofregter, of ʼn regter-president dus nie “oneties of ʼn behoefte om aan ʼn sameswering mee te doen nie, maar eerder die onvermydelike uitkoms van ʼn grondwetlike plig”.

Die departement sê die sinspeling dat die minister die sogenaamde aanstelbaarheid van ʼn kandidaat vir hoofregter probeer verbeter het deur voor te stel dat hy waarneem by die Konstitusionele Hof, is veronderstel om nie net die minister in ʼn slegte lig te stel nie, maar ook vertroue in die regstelsel te ondermyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.