Minister kies ras bo dienslewering

Argieffoto

Argieffoto

‘n Saak is namens waarnemende senior landdros Martin Kroukamp na die gelykheidshof verwys nadat hy nie bevorder is nie weens sy velkleur.

Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke tree namens Kroukamp op. Kroukamp, wat al langer as 18 jaar ʼn landdros is, is as die beste kandidaat aangewys, maar Jeff Radebe, die minister van justisie, het ondanks die Landdrostekommissie se aanbeveling geweier om Kroukamp aan te stel omdat hy wit is. Talle poste vir senior landdroste is vakant aangesien die minister nie die Landdrostekommissie se aanbevelings wil aanvaar nie.

Adv. Dirk Groenewald, hoof van die Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê Radebe het sy besluit om nie vir Kroukamp te bevorder nie verdedig in ʼn skrywe aan die Landdrostekommissie. “Die minister het aangevoer dat Kroukamp se bevordering nie voldoen aan die grondwetlike vereiste ten opsigte van die transformasie van die regbank nie. In hofstukke voer die minister egter nou aan dat Kroukamp nie bevorder is nie aangesien hy van die Landdrostekommissie verwag om meer as een geskikte kandidaat aan hom voor te lê vir oorweging sodat hy ʼn keuse kan uitoefen.”

Kroukamp neem sedert Januarie 2009 waar as senior landdros by die Alberton-landdroshof. Groenewald sê Kroukamp het in Oktober 2010 vir die pos aansoek gedoen toe dit geadverteer is. “Hy is in November 2010 vir ʼn onderhoud by die Landdrostekommissie genooi en is eers in Mei 2013 verwittig dat die minister nie die kommissie se aanbevelings gevolg het nie en dat die vakante poste weer geadverteer moet word.” Groenewald sê Kroukamp hier hierna ʼn aansoek gebring ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om vas te stel hoekom hy nie aangestel is nie.

“Ons het hierdeur ʼn memorandum bekom wat die Landdrostekommissie aan die minister gerig het waarin daar aanbevelings gemaak word vir die vul van vakante senior landdros poste. In die memorandum word Kroukamp as die enigste geskikte kandidaat aanbeveel vir die pos van senior landdros by Alberton. Die Landdrostekommissie sê in ag genome die prestasie van die onderhoudskandidate, die vereistes van artikel 174(2) van die grondwet, die behoeftes van die kantoor en die behoeftes van die gemeenskap wat bedien word, Kroukamp as die enigste geskikte kandidaat aanbeveel word. Minister Radebe het skriftelik hierop reageer en gesê Kroukamp se bevordering sal nie transformasie bevorder nie.”

Groenewald sê dit is onaanvaarbaar dat daar soveel poste vakant is. “Die minister is duidelik meer gepla oor rasseverteenwoordiging as dienslewering. Senior landdroste speel ’n belangrike rol in die funksionering van die laer howe en moet onder andere landdroste bystaan. Dit is dus noodsaaklik dat die posisies gevul word ten einde te verseker dat landdroshowe die nodige dienste aan die publiek kan lewer.”

Solidariteit eis dat Kroukamp in die pos van senior landdros aangestel word en dat hy terugwerkend vergoed word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

alet ·

Weet die mense nog nie teen hierdie tyd dat Radebe geen ooghare het vir n blanke hulle is kleur blind sien net een kleur

Julia de Lange ·

Dis presies hoekom dit in die land gaan soos dit gaan. Die beste kandidaat vir die pos behoort te alle tye voorkeur te geniet en nie op grond van velkleur nie. Dis skandalig wat nou hier aan’t gebeur is. Wanneer ek terugkom aarde toe wil ek asseblief ‘n hond wees.

Annette Etsebetha ·

Ons Liewe Vader sal die ongeregtigheid deur die swart regering , ni ongestraf laat ni. Iewers sal daar hulp vr ons kom. Ek glo hul is besig om hul eie grafte te grawe!! Prys die Heer!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.