Minister lê besoek af ná Palabora-mynramp

Gwede Mantashe (Foto: ANA)

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, lê Dinsdag ʼn besoek af by die Palabora Mynmaatskappy se kopermyn in Limpopo nadat ses werknemers Sondag daar omgekom het.

Sy besoek volg nadat ses mynwerkers op 15 Julie ondergronds vasgekeer is – glo weens ʼn vervoerband wat aan die brand geraak het.

ʼn Reddingspoging is van stapel gestuur, maar was egter onsuksesvol en die liggame van die ses mynwerkers is Maandag na die oppervlak gebring.

Mantashe sal die media ná sy besoek toespreek.

Intussen het die vakbond Solidariteit gesê die jongste tragiese mynongeluk is die derde grootskaalse mynongeluk in ʼn tydperk van twee maande en laat die mynboubedryf met meer vrae as antwoorde.

Volgens adv. Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van beroepsgesondheid en -veiligheid by Solidariteit, is só ʼn ongeluk nie ongewoon nie as gevolg van die konstante wrywing wat die vervoerbande moet verduur.

Mardon sê voorts dat die departement van minerale bronne weens soortgelyke voorvalle in die verlede, veiligheidsregulasies uitgereik het en vereis dat alle vervoerbande vlamvertragende eienskappe moet hê.

“In hierdie stadium is daar egter baie vrae wat onbeantwoord is,” het adv. Mardon gesê.

Mardon het tereg gevra of dié vervoerband wat begin brand het, ʼn vlamvertragende vervoerband was en indien wel, wanneer die betrokke vervoerband laas met die oog op veiligheid geïnspekteer en gediens is. Voorts het Mardon daarop gewys dat veiligheidsregulasies ook vereis dat myne instrumente ondergronds moet hê wat vroeë waarskuwings uitstuur in die geval van ʼn brand.

“Op dié manier kan werkers vroegtydig gewaarsku word om ʼn gevaargebied betyds te ontruim. Dit wil egter voorkom of dit nie in hierdie geval gebeur het nie,” het Mardon gesê.

Volgens Mardon gaan ʼn volskaalse ondersoek binnekort van stapel gestuur word om die oorsaak van die tragiese ongeluk te bepaal.

“Solidariteit sal deurlopend deel wees van hierdie ondersoeke in ʼn poging om by die waarheid uit te kom,” het hy bygevoeg.

Die departement van minerale hulpbronne het ook ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur.

Maroela Media het navraag by die Palabora Mynmaatskappy gedoen en wag vir terugvoer.

  • Die families van die ses slagoffers het intussen hul geliefdes identifiseer as Shaun Mashigo (26), Peter Selowa (32), Vula Eckson Mayindi (60), Kgotso Peter Sekgobela (29), Lebogang Elliot Maake (37) en Russel Ricardo Warne (24). Dié mynwerkers, almal van die plaaslike gemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nettie ·

Weet enige iemand wat hier lees en kommentaar lewer waar dié dorp (Palabora) is waarvan Maroela Media praat? Ek het nou gesoek en gesoek en gesoek, maar nie naaste waaraan ek kom is PHALABORWA …

Lindie ·

Palabora is Die myn genoem “Palabora mining company”, Phalaborwa soos deur jou genoem is Die dorp.

Nettie ·

Ja-nee, duidelik weer ‘maintenance’ en veiligheidsvoorwaardes (l.w. op die ‘brandvertragende elemente’ wat teenwoordig moet wees by alle vervoerbande) wat nie deur BBEE-voldoeningsbeampte(s) gedoen is nie ……

wilma ·

Nettie, dit blyk dat die mynmaatskappy se naam Palabora is, geleë te Phalaborwa volgens ‘n vorige berig. Hoop dit help!

CJ ·

En word enige plaasaanvalle-insidente deur enige Minister gedoen? Net weer ‘n geleentheid vir die ANC om ”goed te lyk” en sommer stemme te werf…verkiesing lê mos weer om die draai?
Jammer vir die lewensverlies!

IK ·

Natuurlik kan die ventilasie in ‘n myn ook ‘n vuur aanhelp.

David ·

Nog vrae wat beantwoord moet word is:
1) Wie het die instandhouding gedoen?
2) Wie het die vervoerbande verskaf en afgeteken?

Hou hierdie mense direk daarvoor verantwoordelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.