Minister Lynne Brown diep in die pekel

Lynne Brown, minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Die druk op pres. Cyril Ramaphosa is besig om op te bou om op te tree teen nog een van sy ministers wat oneerlik was – Lynne Brown, minister van openbare ondernemings.

Die opbouende druk beteken dat Ramaphosa waarskynlik binne die volgende paar dae sy kabinet sal moet skommel. Hy moet in elk geval ʼn nuwe adjunkpresident aanstel (die posisie is vakant sedert hy dit verlede week ontruim het om president te word) en nou is twee van sy ministers werklik kniediep in die pekel.

Eers het die Noord-Gautengse hooggeregshof vir Malusi Gigaba, minister van finansies, skuldig bevind aan meineed.

Nou het die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwabane, bevind dat Brown die parlement mislei het oor kontrakte wat aangegaan is tussen die kragvoorsiener Eskom en die maatskappy Trillian, wat met die Guptas verbind word.

Nadat die DA ʼn klag teen Brown gelê het, het Mkhwebane nou bevind Ramaphosa moet binne veertien dae teen Brown optree omdat sy die kabinet se etiekkode oortree het.

Die bevinding volg op ʼn antwoord deur Brown op ʼn parlementêre vraag deur die DA. Brown het enige ooreenkoms tussen Eskom en Trillian ontken, maar dit het later aan die lig gekom dat Trillian, of ʼn filiaal van Trillian, reeds teen die tyd dat Brown die antwoord gegee het, R266 miljoen van Eskom geëis het vir dienste gelewer.

Natasha Mazzone, DA-LP en die party se woordvoerder oor openbare ondernemings, het gesê Ramaphosa moet Brown dringend afdank.

“As die president werklik daartoe verbind is om ʼn regering daar te stel wat bo verdenking is, moet hy enige kabinetslid wat oneties optree, dadelik afdank,” het Mazzone gesê.

“Dit is tydens minister Brown se ampstyd dat Eskom en ander staatsbeheerde ondernemings finansieel en eties geruïneer is. Sy moet verantwoording doen vir haar dade. Die openbare beskermer se bevinding is ʼn oorwinning vir almal wat dapper teen staatskaping veg,” het Mazzone afgesluit.

Brown het intussen in ʼn verklaring gesê volgens die inligting wat sy van Eskom ontvang het om die parlementêre vraag te antwoord, is daar geen betalings gemaak nie. Volgens Brown het Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, die inligting aan haar verskaf en het sy eers later gehoor Eskom het wel betalings aan Trillian gemaak.

“Toe ek bewus geraak het daarvan dat senior Eskom-beamptes my opsetlik mislei het, het ek onmiddellik die parlement se etiekkomitee en die openbare beskermer van die valse inligting in kennis gestel,” het Brown gesê. “Ek het Eskom se raad opdrag gegee om dissiplinêre aksie te neem teen diegene wat saamgesweer het om die parlement en die land te mislei.”

Volgens Brown het sy na die voorval ook vir die departement opdrag gegee om oorsigmeganismes te versterk ten einde ʼn herhaling van so voorval te keer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel Strydom ·

Soos gewoonlik ” was nie ek nie” wat van Transnet?

Eddie ·

Lynn Brown moes seker gemaak het van haar feite voordat sy die parlement belieg het en ‘n sagter landing vir Zuma probeer bewerk het ! Sy behoort nou reeds gearresteer te word !

TLC ·

Genugtig at last ek het so lank gewag vir die artikel. Sê mos al lank die vetkat moet ondersoek word

humor ·

Wat die hare betref Geld wat stom is maak reg wat krom is. Moontlik het die Guptas dit aanbeveel en kyk nou?

Lolla ·

Hoekom word niks met Zuma gedoen nie?! Hy sit tog immers agter Alles….

ferdi ·

Bou vir hul almal spesiale tronk stuur ha tronk toe spul skurke

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.