Minister maak deur oop om kopieregwetgewing te stuit

Argieffoto (Foto: Myriam Zilles/Pixabay)

Die regering het in die parlement ‘n belangrike sein uitgestuur dat die omstrede bepalings in die wysigingswetsontwerp op kopiereg nog verander kan word as die kunstenaarsgemeenskap spoedig met ‘n beter voorstel vorendag kan kom.

Dit volg op ‘n hoogs ongewone vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor kuns en kultuur. Die vergadering was om twee redes ongewoon – eerstens omdat dit gehandel het oor die gevolge van ‘n wetsontwerp wat reeds deur die parlement afgehandel is, en tweedens omdat die vergadering bygewoon is deur die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, wat dan ook geblyk het nie om dowe neute te wees nie.

Die nuwe wetsontwerp het ten doel om die huidige Suid-Afrikaanse kopieregwetgewing, wat uit 1978 dateer, te hervorm om dit onder meer vir die digitale era van toepassing te maak.

Twee aspekte wat getakel word, is dat tradisioneel-oorgelewerde inheemse kennisstelsels en kultuurgoedere nie meer gereproduseer of aangewend kan word sonder vergoeding aan die tersaaklike gemeenskap waaruit dit stam nie, en tweedens dat studente se uitgawes besnoei kan word as hulle boeke kan kopieer eerder as om dit aan te koop.

Oor laasgenoemde maak die wetsontwerp dit makliker om onder meer boeke, musiek en films wettig te kopieer eerder as om dit te moet koop. Dit geld egter net Suid-Afrikaanse boeke, musiek en films, nie dit wat oorsee uitgegee of vervaardig word nie.

Uitgewers waarsku dat die bevoordeling van buitelandse bo plaaslike publikasies die instandhouding van ‘n plaaslike uitgewersbedryf vir veral akademiese boeke onvolhoubaar sal maak.

Voorts bestaan kommer dat van die land se voorste navorsers die land sal verlaat om elders aan akademiese instellings verbonde te wees waar hul navorsing darem volhoubaar gepubliseer kan word.

Tydens die bespreking hieroor in die portefeuljekomitee het drie standpunte geblyk, naamlik die ANC-standpunt, die opposisiepartye (die DA en EFF was teenwoordig) se standpunt en die minister se standpunt. Dis laasgenoemde standpunt wat ‘n belangrike wending verteenwoordig.

Die ANC-lede van die portefeuljekomitee was herhalend en eenselwig, naamlik dat die wetsontwerp korrek deur die hele parlementêre proses gevoer is en nou deur die president onderteken moet word, en dit is sover as wat dit gaan. Geen verdere gesprek is nodig nie.

Veronica van Dyk, DA-LP, het gesê dat die wetsontwerp ernstige onbedoelde gevolge kan hê. Sy het die kritiek op die wetgewing in besonderhede behandel en gevra dat die president dit na die parlement terugverwys sodat dit herskryf kan word.

Vervolgens het Ringo Madlingozi, die suksesvolle sanger en deesdae EFF-LP, ‘n sterk pleidooi uit die hart gelewer dat die wetsontwerp erge gevolge vir die land se kunstenaarsgemeenskap gaan inhou omdat dit onmoontlik gemaak word vir sangers om ‘n bestaan te maak as hul inkomste so maklik weggekopieer kan word.

Madlingozi het praktiese voorbeelde genoem van hoe sangers ingedoen kan word weens hul onkunde, en aangevoer baie van hulle weet nie van die wetsontwerp nie en verstaan dit ook nie.

Mthethwa het laastens heeltemal afgewyk van sy party, die ANC, se standpunt. Hy het gesê hoewel die wetgewing slegs na die parlement terugverwys sal word as daar kommer is oor die grondwetlikheid daarvan – en die kanse daarvoor is gering – is die kabinet en by name die president bewus van die verdeeldheid in die kunstenaarsgemeenskap oor die meriete van die kopiereg-voorstelle.

Hy het gesê dit is die rede waarom Ramaphosa nog nie die wetsontwerp onderteken het nie, en dat die president bereid is om, mits dit nie te lank neem nie, die ondertekening van die wetsontwerp terug te hou tot daar konsensus in die kunstenaarsgemeenskap is oor wat gedoen moet word.

Met hierdie ongewone voorstel het ‘n baie onkonvensionele parlementêre portefeuljekomiteevergadering verdaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
leser

dit help nie eers om kommentaar op die simpel redenasie te uiter nie, anc, julle id ‘n klomp gekke, julle jaag mense weg, besef julle dit

Willem Grobler

Verstaan ek reg? Hulle wil dit wettig maak om Suid-Afrikaanse handboeke te mag kopiëer? As dit só is, is dit die toppunt van onnoselheid. Wie gaan dan voortaan die moeite doen om ‘n handboek te skryf en te laat druk? Die skrywer en uitgewer gaan geen geld maak nie en niemand (behalwe die wit belastingbetalers) werk verniet nie.