Minister maak stem dik ná Malmesbury-ontsnapping

Ronald Lamola gedurende sy besoek aan die Malmesbury-gevangenis in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, het die onlangse ontsnapping van 69 gevangenes uit die Malmesbury-gevangenis in die Wes-Kaap veroordeel en die publiek daarvan verseker dat die gevangenes gestraf sál word.

Die minister het Saterdagmiddag gedurende ’n besoek aan die fasiliteit gesê die departement van korrektiewe dienste se noodondersteuningspan en polisiebeamptes is steeds op die spoor van drie ontsnapte verdagtes nadat 66 sedert die voorval weer in hegtenis geneem is.

“Die boodskap moet aan alle oortreders gestuur word dat hierdie soort optrede op geen plek in die land geduld sal word nie,” het Lamola gedurende sy besoek gesê.

Volgens die minister het Delekile Klaas, die departement van korrektiewe dienste se kommissaris in die Wes-Kaap, reeds ’n span aangestel om die betrokke voorval te ondersoek.

Ronald Lamola gedurende sy besoek aan die Malmesbury-gevangenis in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

“Ons wil gemeenskappe daarvan verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om die oorblywende ontsnapte gevangenes op te spoor en niks sal doen om mense in gevaar te stel nie,” het Lamola gesê.

Dit is nie in dié stadium duidelik vir watter oortredings die drie oorblywende ontsnaptes tronkstraf uitgedien het ten tyde van die voorval nie.

Maroela Media het vroeër berig die ontsnapping het Vrydag omstreeks 12:15 plaasgevind. Die korrektiewe sentrum het ten tyde van die voorval 451 gevangenes gehad met 20 korrektiewe beamptes aan diens.

Die ontsnaptes het die beamptes tydens oefening by die fasiliteit oorval, die sleutels gevat, drie beamptes in ʼn sel toegesluit en ander selle oopgesluit voordat hulle deur die hoofingang en deur die dak ontsnap het.

Nege korrektiewe beamptes het ligte beserings en kneusplekke in die voorval opgedoen.

Die betrokke fasiliteit is intussen onder beheer gebring, terwyl sommige gevangenes wat moeilik beheerbaar was na maksimumsekuriteitfasiliteite in die omgewing oorgeplaas is.

Die Malmesbury-gevangenis is tans onder streng afsondering geplaas om stabiliteit in die fasiliteit te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Hoe gestraf Minister…..gaan jy hulle terugstuur tronk toe?

Vonkprop ·

Al maak die minister ook sy stem dik klink hy nog steeds soos ‘n kleuter. Almal lag vir hom nie net kriminele nie. Hy is nog nat agter die ore, nou wil hy hom groot hou teen misdadigers.

Scalla ·

Jongman, jou stemmetjie skrik die gevangenis nie af nie, is dit nie eerder die beamptes wat gestraf moet word wat nie volgens voorskrifte hul werk gedoen het nie

Johann ·

Hoekom goed kwytraak wat vanselfsprekend is. Natuurlik moet hulle gestraf word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.