Minister meen Zimbabwiërs kan maar wet oortree

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Argieffoto: GCIS)

Dis heeltemal in die haak as Zimbabwiërs onwettig oor die grens kom en dis baie menslik van Suid-Afrikaanse soldate om hulle daarmee te help, meen die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula.

Mapisa-Nqakula, wat hoeka tans met drie maande se salaris gestraf is nadat sy onwettig saam met ʼn ANC-afvaardiging na die einste Zimbabwe op belastingbetalerskoste gevlieg het, het aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê sy steun sulke onwettige optredes van Suid-Afrikaanse soldate.

“Mense wat teenaan die Limpopo in Zimbabwe woon, is baie arm en die situasie in Zimbabwe is so sleg dat hulle nie eens brood kan koop nie. Daarom help Suid-Afrikaanse soldate hulle om deur die grens te kom en inkopies te doen, asook om hul chroniese medisyne te ontvang. Daarsonder sal hulle doodgaan van hoë bloeddruk, so ek dink dit is die menslike ding om te doen,” het Mapisa-Nqakula verklaar.

Die DA se parlementslede Alf Lees en Benedicta van Minnen kon hul ore nie glo nie. Hulle het uitgewys dat dit, spesifiek tydens die grendelstaat maar eintlik altyd, juis die plig van die soldate is om die wet te handhaaf en die grense te beveilig – nou doen hulle presies die teenoorgestelde met die steun van die minister!

Lees het dit baie duidelik gemaak dat hy Mapisa-Nqakula in elk geval nie glo nie. “Wil u aan ons kom vertel dat ons soldate, wat onder u politieke bevel val, saam met die buitelanders wat hulle onwettig deur die grensheining help, stap na die winkels en klinieke, hul inkopies vir hulle help doen en dan terugstap na die grens toe? Hoe lank neem dit? Ag, komaan!” het Lees uitgeroep.

Eintlik het die Skoor-vergadering gehandel oor die koste van die ondoeltreffende grensdraad wat 20 km weerskante van Beitbrug opgerig is. Die minister van openbare werke, Patricia de Lille, keer tans vir die vales dat die gemors wat veroorsaak is, haar politieke loopbaan ontspoor.

Mapisa-Nqakula se weerligafleier-taktiek het baie van die aandag op haar eerder as De Lille gefokus. Sy het aangevoer geen heining sal in elk geval die Zimbabwiërs keer nie en Suid-Afrika moet eerder hommeltuie en ander tegnologie gebruik.

Opposisie-LP’s het nie hiervan gehou nie. Die EFF se Veronica Mente het reguit gesê dis net nog ʼn geleentheid vir die ANC om te roof en te steel. Van Minnen het gesê hommeltuie en tegnologie help niks sonder doeltreffende taakmagte om onwettige immigrante te vang nie – anders word grensoorsteking net ʼn toeskouersport, veral as die minister dink dis in die haak.

“Dis duidelik dat die grenspos verreweg die moeilikste manier is vir Zimbabwiërs om Suid-Afrika binne te kom,” het Van Minnen galbitter opgemerk.

De Lille het in haar spreekbeurt nie veel gesê nie, maar darem bevestig haar hegte professionele vennoot sedert haar dae as Kaapse burgemeester (en tans haar spesiale raadgewer), Melissa Whitehead, word dissiplinêr aangekla weens haar rol in wat De Lille as “die Beitbrug-debakel” bestempel het.

Daar was egter geen aanduiding van die neem van persoonlike verantwoordelikheid deur De Lille, of enige persoonlike gevolge vir haar nie.

Die waarnemende direkteur-generaal van openbare werke, Imtiaz Fazel, het bevestig dat 13 amptenare, onder wie Whitehead en direkteur-generaal Sam Vukile, tans dissiplinêr aangekla word.

Boonop het die spesiale ondersoekeenheid bevestig dat hulle by die Nasionale Vervolgingsgesag aanbeveel het dat twee amptenare en twee diensverskaffers strafregtelik aangekla word, en dit word eersdaags verwag, want hul ondersoek is afgehandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Mariana ·

Nee regtig? Hoe redeneer sy dan nou. Wow!!!!Minister van Verdediging????

Remlut ·

Sy het haar bek toegehou toe die ander minister die grens draad moes opsit, kla haar aan vir die vermorsing van daai geld.

Hannes ·

Wat is menslik? Geen simpatie met Zim. Beteken niks vir ons land en dis ‘n absolute skande dat’ n Minister so iets kwytraak. Sy self beteken niks – in die portefulje wat sy beklee kan sy nie eers ‘n waterpistool hanteer.

Persheks Adri ·

Daai doek versmoor iets daar bo waar halwe goed is eish! Ek glo nie wat ek lees nie regtig waar my mond hang oop en sy’s ‘n minister van verdediging nogals!

Herpiet ·

Ag hoekom breek julle nie net die grense af nie daar is elk geval swak grensbeheer. Dan kan julle broeders ook hier kom teer.

Raakvatter ·

Ek was so paar jaar terug in Mosambiek. En het van sogenaamde “runner” gebruik gemaak by grenspos. Tot my skok toe ek in RSA terug kom, is GEEN grenspos stempel in my paspoort nie, nie vir in of uit nie. Was toe jonk, sal nie weer so iets doen nie. Dink hulle vang jou sonder ‘n stempel in jou paspoort.

OW ·

Hierdie is nie domgeid nie dit is ANC beleid vir die afgelope 26 jaar.Lesufi van onderwys het dit self tydens ‘n politieke debat gesê.ANC staan vir die hele Afrika en nie net vir Suid-Afrika nie.

Tanja ·

Dis net menslik? … wat is menslik aan al die plaasmoorde?

Danie ·

Net soos ek dink cyril kan nie ‘n slegter aanstelling maak nie, whalla…

Knowitall ·

Ai tog!
Al 26 jaar van dié en nog geen einde in sig nie.

Nie Verbaas ·

Wow, sy het sopas haar vermoe en bevoegdheid as minister aan die hele wereld uitgeblaker.

Casper ·

Dit worm algemeen toegepas langs ons hele grensdraad.Mosambiekers loop daagliks by Lebombo deur om inkopies te doen sonder dat hulle eers paspoorte het en hulle word toegelaat om hulle goedere aan die SA kant te verkoop. By’n plek genaamd Itshelejuba op die greens met Swaziland kruis mense daagliks sonder paspoorte om hospitaal toe te gaan.Ek suig dit nie uit my duim uit nie ek was ‘n immigrasiebeampte en ek weet waarvan ek praat.Dele tussen emahlatini en Bothashoop op die greens met Swaziland is daar nie eers meer ‘n heining nie.Hulle noem dit informele kruisings.By Sulpharspring op die Swazikand grens was die skaapdiefstal so erg dat die boer sy plaas verkoop het.Op dieselfde plek kom jag die manne van Swaziland met honde.So moet nie skrik oor Zimbabwe nie.Dit gaan oral so

Connie ·

Haal haar uit haar pos uit, sy is onbevoeg. Ag haal sommer die hele cANCer uit hule is almal on bevoeg. Moeg vir hulle en hul kaders almal

Yvonne ·

Sulke redenasies soos die minister is presies ons Land se probleem. Hulle het nie n benul van etiese en morele waardes nie…hoe in der ewigheid kan n land so bestuur word…ek glo die grootste meerderheid in die parlament redeneer so…….Here wees ons genadig

Moedeloos ·

Lekker man wens ander grensposte wil ook so maak dan is ek lankal weg uit hierdie land. Die soldate kan my help met my trek. Dis mos net menslik

ES ·

Dis nou dieselle Zimbabwe wat hulle naam Rhodesie teengestaan het en wit boere van hul plase beset het. En nou kripeer hulle?

Hulle kan maar daar bly – hulle het hul besluit gemaak, hulle moet maar vir ou Emerson gaan vra hoekom hulle nie kos het om te eet nie want hy is Mugabe Nr 2.

Adam Adriaan ·

Hierdie pateet sal seker, as daar ‘n militêre mag oorkant die grens staan om ons aan te val ook sê, “Maak maar die grense oop ons verwekom julle hier”

Dries ·

Ek wonder wie gaan ons oor watter grens help vir inkopies en medisyne wanneer ons land Zimbabwe se huidige vlak van verval bereik.

Suzette ·

What the ???? Nou het ek alles gehoor – wragtig! Die vlot is leeg – die tor het ook trots….

Hercules ·

en die hele wêreld sien en hoor hoe dom is SA se regerings amptenare!!

koos10 ·

Wat is in die kopdoeke wat so graag in die regering gedra word? Daar moet iets in wees want was die kopdoeke verskyn, kom daar verbale diaree uit.

Johann ·

So sys amptelik op rekord dat sy as minister wetteloosheid en die plegers daarvan goed praat en ondersteun PLUS die grens persineel opdrag gee om dit te doen?

Snaaks syt nie n Venter sleepwa agter ha vkiegtuig gehaak om n paar van haar ZIMMERS saam te bring nie?

Annettest ·

Kroniese medikasie? Hoe kry hulle dit sonder geldige SA dokumente? Moet ons belastingbetalers nou nog betaal vir Zimbabwe se inwoners se medikasie ook? Waar is hulle regering?

Jacobus ·

Jô, so gee minister van verdediging goedkeuring aan onwettige betreding van ons grondgebied! Cele is gatvol omdat die boer gereageer het omdat ‘n Njala mense probeer platry. Die min van Justisie reken die boere moet binne die grondwet bly. Almal lees seker net New24. “Rustig wees comrades” dat ons in vrede kan plunder.
Een ligpunt dat ‘n minister Kunsmatige Intelligensie wil bevorder – seker omdat ingebore intelligensie nie bestaan nie. Dié dinge laat jou asemloos.

Inkpot ·

Eintlik lagwekkend.
Dis wat gebeur as die standdarde op skole so laag is.

Jakes ·

Wow minister, wie se skuld is dit dat Zimbabwe n mislukte staat is? Kan ek die minister vra wanneer laas die weermagbasisse opgeruim is en in stand gehou is?

Dirk Mostert ·

Nou wie betaal vir die uitlanders se chroniese medisyne? Ace-hulle streef die mislukte staat, Zimbabwe, na in hul ekonomiese model vir S.A.

Anoniem ·

Kan jy glo!!!!! Hierdie Minister het nie ‘n idee waaroor Landveiligheid gaan nie!!!! Bid jou aan!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.