‘Minister minag MRK se regstelaksie-uitspraak’

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se voorsitter.

Dis “onheilspellend en onaanvaarbaar” dat die ANC staatsinstellings ondermyn.

Dít is die VF Plus se reaksie op die minister van arbeid, Mildred Oliphant, se oënskynlike minagting van ʼn beslissing deur die Menseregtekommissie (MRK) dat die toepassing van regeringsbeleid rakende regstellende aksie ongrondwetlik en strydig met internasionale konvensies is.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter, sê die party wil vra dat die MRK teen Oliphant optree omdat sy die kommissie se bevindings oor regstellende optrede “openlik ondermyn”.

Die Sondagkoerant City Press het onlangs berig Oliphant het in haar openingsrede op die 23ste jaarberaad van Nedlac gesê haar departement wil met die MRK beraadslaag oor sy bevinding en aanbevelings. “Dis belangrik omdat ons arbeidswetgewing aan die voorwaardes van die Grondwet moet voldoen voordat dit aanvaar kan word.”

Alberts sê ten spyte van die MRK-bevinding is voorgestelde wysigings aan dié Wet op Billike Indiensneming twee weke gelede in die Staatskoerant gepubliseer “wat neerkom op ʼn rigiede en drakoniese kwotastelsel in die werkplek”.

“Ingevolge dié wysigings sal die regering voortaan self besluit oor rasse-teikens in die werkplek. Maatskappye wat nie daaraan voldoen nie, sal verbied word om met die staat sake te doen.”

Hy sê benewens die feit dat Oliphant en die regering “hulle nie aan die land se eie grondwetlike instellings steur nie”, sal verskeie internasionale ooreenkomste en verdrae, soos met die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) en die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekommissie, geskend word as die wet gewysig word.

Mildred Oliphant, minister van arbeid. Foto: The New Age

“Dit is juis grootliks [weens] die vernietigende effek van regstellende aksie dat kritieke kennis en ervaring in die openbare sektor verdwyn het,” meen Alberts. “Die tragiese gevolge daarvan kan oral in die land gesien word, maar veral in plaaslike regering waar dienslewering feitlik tot ʼn stilstand gekom het.”

Hy doen ʼn beroep op die kommissie om so gou moontlik teen Oliphant op te tree. “Die MRK kan nie toelaat dat sy mandaat en funksionering op hierdie wyse ondermyn word nie. Die VF Plus sal daarop aandring dat die MRK die gepaste stappe teen die minister doen en terselfdertyd aanbeveel dat die beoogde wetswysigings geskrap word.”

Die MRK het onder meer beslis:

  • Die omskrywing van die aangewese groepe soos vervat in die Wet op Billike Indiensneming kan nuwe ongelykhede in die werkplek veroorsaak.
  • Regstellende aksie-maatreëls moet gemik wees op groepe en mense wat onderworpe is aan onregverdige diskriminasie sodat wesentlike gelykheid en ʼn samelewing gegrond op nierassigheid en nieseksisme eindelik bereik kan word.
  • Besluite gegrond op onsamehangende data bly in gebreke om mense te bevoordeel wat onregverdige diskriminasie ervaar.
  • Die wet moet gewysig word om gemik te wees op meer genuanseerde groepe op grond van behoefte en moet ook maatskaplike en ekonomiese aanwysers in ag neem.
  • Sodra die doelwit van regstellende aksie – wesentlike gelykheid – bereik is, moet tydelike spesiale maatreëls verslap word.

Maroela Media het Oliphant se woordvoerder om kommentaar genader en wag nog op terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Dis so ·

Vergeet dit hulle doen wat hulle wil en niemand kan niks doen om dit te verander nie. Die massas eet alles vir soet koek op.

Patrys ·

Die ANC skree vinnig as witmense hul eie ding wil doen dat wit mense nie inklusief is nie. Dat wit mense nog apartheid aanhang. Hoe moet ons inklusief wees as julle ons heeltyd uitsluit?

m.d.r ·

Die naam “REGSTELLENDE AKSIE” is ‘n kopie van die Amerikaanse stelsel waar:….
‘n etniese MINDERHEID bevoordeel word ten koste van die Etniese MEERDERHEID om toestande te verbeter vir die Minderheid.
Omdat die MEERDERHEID dus die mag in die hande het kan hulle verhoed dat dinge skeefgetrek en wanaangepas kan word.
Net die teenoorgestelde word in SA toegepas, waar die MEERDERHEID die bevoordeeldes is en terselfdertyd die mag besit om hierdie stelsel onbepaald toe te pas.
Wat ons dus hier het is ongebreidelde MINDERHEIDS ONDERDRUKKING. wat op sigself ‘n oortreding van die VN handves oor minderheidregte is.

Wat ek, en andere reeds jare lank vra, is hoe het hierdie stelsel op die wetboeke beland…?
Op 3 Julie 1994, slegs enkele weke na die 1994 verkiesing, maak die redakteur van Rapport, Izak de Villiers sterk beswaar teen regstellende aksie en waarsku oor die negatiewe gevolge van die stelsel.
De Villiers maak ook hierdie aanmerking…..” regstellende aksie is NIE deur die Amerikaners uitgevind nie, maar deur iemand anders, hulle het dit slegs probeer vervolmaak.”
Diegene wat die 20 ste eeuse wereld geskiedenis ken, sal weet na wie De Villiers hie verwys.
Die eerste een wat hierdie stelsel toegepas het was ene Adolf Hitler……!

Joshua ·

BEE is apartheid rassisme- niks anderste nie, vat hierdie regime wereldhof toe en lig alle buitelandse ambasades(Trump) in asoook die internasionale media en vryf dit onder Ramaliar en Sisulu se neuse in oor en oor totdat hulle hul rassisme beken en BEE n Crime against humanity is.

Jane ·

Vreemd dat die politici net sekere wette tot hulle voordeel gebruik. Hulle is veronderstel om die bewakers van die WETTE en die regstelsel in die land te wees en is gou om ANDER te veroordeel wat die wet oortree, maar SELF steur hulle hulle nie aan die wette nie.. te lekker in die land waar daar GEEN strawwe is vir MINAGTING van die wet nie.

Paul ·

Wie wil nou met ‘n Staat sake doen wat jou as mens nie erken nie. ‘n Nuwe “Staat” met entiteite is besig om onder die ANC-Staat op te staan en ons doen graag met hulle besigheid. Kom ons noem dit “Die Staat van Solidariteit”.

Afrikaanse Knaap ·

Ons regering is skeinheilig. Apartheid en kwotas het 5 goed in gemeen.
1. Albei is rassisties, volgens die Oxford definisie
2. Albei is verkeerd
3. Albei is wettig
4. Albei berokken SA verskriklike skade
5. Albei maak mense seer

Hans ·

Haar optrede verbaas my geensins,want die regering het die laaste 20 jaar+hofbevele en uitsprake ignoreer.

Wessel ·

Ondermyning van gesag rede vir Afrika se verval SA net deel van Afrika volg julle eie koppe en vernietig julself die hele wereld is verkeerd en julle reg hoe dom

Cherokee ·

Nie slegs die ANC nie maar ook die DA wat net so lekker die ANC ondersteun met regstellende aksie.

Werner ·

Vergeet van besigheid met die staat doen, doen besigheid met mede-Afrikaners

John ·

Die ANC hou skynbaar van teregstellende aksies in die werkplek en op plase. Die prez en sy ministers lief agteruitboer en om immigrante en toeriste met enkelkaartjies tuis te laat voel.

Wessel ·

Waar in die wereld word regstellende aksie teenoor n by verre minderheidsgroep toegepas hoe siek is dit

Callie ·

Hoekom wil jy met die staat besigheid doen. Hulle gaan jou nie betaal nie. Hoe moeilik gaan dit wees om wakker te word en saam te staan in die land

L ·

Bring dit asb met alle skadelikke nagevolge as bewyse onder Trump se aandag, asook die 80% invoer belasting syfers?! Herhinner hom net van grondhervorming wat onwettig voort gaan as n “toets” lopie ook asb? Laat hy na grafieke van die Rand se waardes ook kyk, maar het vir Dawie Roodt hier nodig in die kommunikasie proses.

Gerhard ·

Die versoening wittebrood is verby. Tyd dat mense dit besef en begin werk aan ‘n ware oplossing, selfbeskikking.

anton ·

EK weet van blanke besighede wat bankrot gegaan het omrede hulle met die staat besigheid gedoen het en die staat hulle dood eenvoudig nie betaal het vir hulle dienste nie!!!
Nou wie wil wraggies elkgeval met die klomp nog besigheid doen? Hulle moet hul koppe laat lees.
Ek wil nie eers met hul besigheid doen al betaal hulle my vooruit wat hul elkgeval nie sal doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.