Minister moet hoes ná man verkeerdelik toegesluit is

(Argieffoto: SA Polisie)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die minister van polisie moet derduisende opdok nadat die hof bevind het dat ʼn bewaringsgesinde van Limpopo in 2015 onregmatig in hegtenis geneem is vir valse aanklagte wat deur sy buurman gemaak is.

Johannes Claassens moes destyds drie dae lank ʼn vuil, yskoue aanhoudingsel met gevaarlike individue deel.

Maropene Nakana, Claassens se buurman en ʼn voormalige polisieman, het hom in hegtenis laat neem op aanklagte van die oortreding van ʼn beskermingsbevel en diefstal.

Die hooggeregshof het egter vandeesweek bevind dat die polisieminister R400 000 vir skadevergoeding aan Claassens verskuldig is. Sy buurman is aangesê om ʼn verdere R200 000 vir kwaadwillige vervolging op te dok.

Claassens se saak teen Nakana en die minister is aanvanklik in die hooggeregshof in Polokwane, Limpopo, aangehoor. Die betrokke regter het hom R40 000 in skadevergoeding toegestaan en sy bewering dat Nakana hom verkeerdelik aangegee het, van die hand gewys. Dit ten spyte daarvan dat Nakana toegegee het dat hy kwaadwillig opgetree het en die inhegtenisneming aangehits het.

Claassens het egter teen dié uitspraak geappelleer.

ʼn Sitting van drie regters het nou beslis dat hy geregtig is op ʼn “wesenlike bedrag vir skadevergoeding”.

Claassens was ʼn professionele bewaringsgesinde vir 45 jaar toe hy op 1 Julie 2015 deur 16 polisiebeamptes, wat in drie voertuie op sy plaas opgedaag het, in hegtenis geneem is. Nakana was hiertydens teenwoordig.

Regterpresident Ephraim Makgoba het in die uitspraak uitgestippel wat Claassens op hierdie dag deurgemaak het.

Die 60-jarige Claassens “was fisiek van sy plaas afgesleep en in ʼn polisiewa gegooi met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is. Sy regte is nooit aan hom voorgelees nie en die polisie het geweier om na sy pleidooie te luister,” het Makgoba gesê.

“Op pad polisiestasie toe het die beamptes roekeloos bestuur wat veroorsaak het dat hy [Claassens] agter in die wa rondval omdat hy aan niks kon vashou nie.”

By die polisiestasie het hy gesukkel om uit die wa te klim nadat hy rondgeval het en toe hy op sy boude skuifel, het een van die polisiebeamptes vir hom gelag.

Hy is toe in ʼn aanhoudingsel met 22 ander mense gesit.

Claassens het getuig dat hy deurlopend vreesbevange was. Hy is boonop deur twee gevangenes vir sigarette en geld deursoek.

“Sy onbetwiste getuienis was dat die sel na ontlasting, braaksel en urine geruik het. Dit was ook uiters koud. Hy is aangesê om op die nat vloer langs die stort te sit. Hy is nie enige komberse gegee nie, maar een van die gevangenes het vir hom een gegee wat vuil was en gestink het. Hy kon voel hoe die luise oor sy lyf loop. Hy het heel aand regop gesit. Hy het gesê dat dit die tweede aand ysig was en dat hy nog nooit in sy lewe sulke pyn beleef het nie,” het Makgoba gesê.

Claassens het in die hof getuig dat hy nie die oggend van die derde dag, toe hy in die hof verskyn het en borgtog toegestaan is, van die vloer af kon opstaan nie omdat hy gevries en styf was. Twee van die ander gevangenes het hom eindelik opgehelp.

Ten spyte van die berading wat Claassens ná die ervaring ontvang het, het hy steeds in die hof in trane uitgebars toe hy die gebeure oorvertel het.

Makgoba het in die uitspraak gesê dat Claassens verneder en getraumatiseer is en dat daar in hierdie geval meer skadevergoeding toegestaan moet word as wat die hof vroeër beslis het.

“Ons werk hier met die skending van belangrike konstitusionele regte, insluitend die reg op menswaardigheid, vryheid en sekuriteit.

“Wanneer ʼn mensereg belangrik genoeg is om konstitusionele beskerming toe te staan, moet enige skadevergoeding wat toegestaan word die belangrikheid van die reg weerspieël. Die vryheid van ʼn persoon is een van die fundamentele menseregte in die samelewing en moet ten alle tye beskerm word.

“Die saak wys op ʼn roeklose minagting van daardie regte. Hy [Claassens] is sonder voldoende regverdiging in hegtenis geneem en in omstandighede geplaas wat vernederend en vreesaanjaend is.”

Makgoba het daarop ag geslaan dat die respondente nie eens tydens die verhoor ʼn rede gegee het vir hul optrede nie.

“Die aanvanklike skadevergoeding van R40 000 was onbenullig en onvoldoende,” het die regter gesê toe hy die minister opdrag gegee het om Claassens R400 000 te betaal.

Na aanleiding van die klagte wat Nakana in die gesig gestaar het vir kwaadwillige vervolging, het Makgoba gesê dat die hof verkeerd was om dit van die hand te wys, aangesien Nakana erken het dat hy kwaadwillig opgetree het.

“Die bewyse is daar dat Claassens en Nakana bure was en ʼn bitter verhouding gehad het omdat Claassens in die verlede Nakana aangegee het vir sy onwettige pluimveeboerdery.

“Ek is van mening dat Nakana, as ʼn voormalige polisieman, sy magte en kontakte misbruik het. Dit is duidelik dat hy ʼn vendetta teen Claassens gehad het en dat dit sy manier was om wraak te neem.”

Die regter het aangevoer hoewel geen bedrag se skadevergoeding die “vernedering en menseregteskending” wat Claassens deurgemaak het, kan wegneem nie, Nakana hom nietemin R200 000 moet betaal.

  • Hierdie berig word met vergunning op Maroela Media geplaas. Lees GroundUp se oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Maritza ·

En ek neem aan die polisie manne wat dit aan hom gedoen het gaan niks oor kom nie

Oosieoos ·

Goed so net jammer hulle moet dit nie uit hul eie sakke betaal en buurman moes tien keer meer betaal

Di ·

Bly vir hom! SULKE gemene skuim hoort self agter die tralies in VUIL selle. Kom ons hoop dat hierdie ‘n waarskuwing en afskrikmiddel sal wees vir al die onderduimse polisielede daar buite is. Die eerste Regter van Polokwane was duidelik aan die oortreders se kant met sy “ligte” vonnis.

Fanie ·

Dis nie hy wat opdok nie, dit is ons, die belasting betaler wat dit gaan betaal. As die minister self moet betaal dan word daar nooit ooit weer iemand ge-aresteer nie…ha ha ha

SjN ·

Sluit sommer die buurman ook toe onder dieselfde omstadighede laat hy kan voel wat moes die man deurmaak.

VaalDonkie ·

Ek wil nooit langs ‘n polisieman of ‘n prokureur bly nie.

lollapot ·

Regterpresident Makgoba, baie dankie dat jy menslik en regverdig is!

Lillian ·

Daai polisielid moes geskors gewees het en die geld wat toegestaan is moes miljoene gewees het nie net duisende nie.

Anel ·

Hoop nou net hulle trek nie belasting van daardie geld af nie. Dan gaan hy niks kry nie!

Jr ·

NEE nie die mini – star maar die belasting betaaler, EK EN JY HOES VIR HULLE ONBEVOEGDHEID

Manie ·

Die verskil hier is dat die 1 persoon dit uit sy sak moet betaal, terwyl ons die minister s’n betaal.

Eclectus ·

Verkeerd, die minister moet hom nie R400k betaal nie, die BELASTINGBETALER moet.

Esme ·

Vir my is die ironie van die saak dat Minister Bheki Cele se naam NOOIT aan iets positiefs gekoppel word nie. Die een flater is groter en ernstiger as die volgende een… Aai, hy lei die patetiese SAPD van vooraf en ek wonder met tye hoekom Bheki nie ontneem word van sy pos nie. Kan net wees dat hy volgens die President al die regte geluide maak. Dieselfde geluide wat hy gemaak het in Senekal met Brendan Horner se moord.

Blikkies ·

Hy kon ook ‘n siviele eis teen ieder en elk van daardie lede wat betrokke was in hulle private hoedanigheid ingestel het.

Niklaas ·

Hoe gaan daai oud polisieman die geld in die hande kry om te betaal ? Daar sal seker nie eers R 3 000 oorbetaal word nie. Dan lag almal weer stilletjies vir die regstelsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.