Minister moet hoes ná polisielid tiener skiet

Bheki Cele. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het die minister van polisie, Bheki Cele, gelas om skadevergoeding aan ’n tiener te betaal wat vier jaar gelede deur ’n polisiebeampte in die nek geskiet is.

Konst. Mandla Mahlanza was na bewering dronk toe hy Sonwabile Ralarala – toe 15 jaar oud – in Julie 2017 buite ’n taverne in Khayelitsha geskiet het. Sonwabile is sedert die voorval aan ’n rolstoel gekluister.

Waarnemende regter Alma de Wet het in haar uitspraak op 4 November gesê dit is “skokkend” dat ’n pistool en 30 patrone destyds aan Mahlanza, destyds aan die Kensington-polisiestasie verbonde, vir gebruik buite werksure uitgereik is.

Dít terwyl Mahlanza sy jaarlikse skiettoetse verskeie kere gedruip het en hy klaarblyklik onbevoeg was om ’n vuurwapen te hanteer.

“Die verweerder [die minister] moes voorsien het dat die uitreiking van ’n vuurwapen aan [Mahlanza] ’n gevaar vir die publiek sou inhou en dat skade op hande is,” het De Wet beslis.

De Wet het voorts gesê dit is nie verbasend dat Mahlanza se “roekelose en onverantwoordelike optrede” eindelik daartoe gelei het dat ’n onskuldige seun lewensveranderende beserings opgedoen het nie.

Volgens De Wet het Ralarala – op wie daar verskeie kere geskiet is – bloot die skietvoorval oorleef weens Mahlanza se “konsekwente onbevoegdheid”.

Volgens die bewyse wat tydens die siviele verhoor gelewer is om die minister se aanspreeklikheid te bepaal, is die pistool ná werksure aan Mahlanza uitgereik om vir ’n tydperk van twee weke te gebruik.

Mahlanza was op 22 Julie 2017 in siviele drag geklee toe hy saam met vriende by die taverne gedrink en in ’n konfrontasie met ’n man betrokke geraak het. Mahlanza het die vuurwapen te voorskyn gebring en skote op die man afgevuur.

Sonwabile het in die stadium huis toe gestap nadat hy sy hare laat sny het. Hy het by ’n stalletjie oorkant die taverne stilgehou om vleis te koop toe hy opgemerk het dat Mahlanza, wat hy as ’n plaaslike polisiebeampte geken het, uit die taverne kom en sy vuurwapen te voorskyn bring.

“Hy onthou hoe hy geskiet is, op die grond geval en sy bewussyn verloor het. Hy is nou rolstoelgebonde en permanent ongeskik verklaar,” het De Wet gesê.

Mahlanza is ná die voorval in hegtenis geneem, maar hou vol hy het uit selfverdediging opgetree en dat sy lewe in gevaar was. Die strafregtelike aanklagte teen Mahlanza is in Junie 2018 teruggetrek nadat getuies nie by die hof opgedaag het nie.

Mahlanza is egter in Desember 2019 ná ’n interne dissiplinêre proses daaraan skuldig bevind dat hy ’n vuurwapen roekeloos afgevuur het en hom op ’n skandelike en onaanvaarbare wyse gedra het.

Die proses het ook ander beweerde oortredings aan die lig gebring, waaronder die beskadiging van  ’n polisievoertuig, die besit van dagga en ander dwelms, aanranding, afwesigheid sonder verlof, valse inskrywings in die gebeureboek, en dronkbestuur.

Hy is eindelik uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontslaan.

De Wet het egter daarop gewys dat Mahlanza daarna “verbasend genoeg” steeds vir diens aangemeld het en kort ná die skietvoorval weer ’n vuurwapen en ammunisie gekry het.

Daar moes eindelik vasgestel word of die minister nalatig was met die uitreik van die vuurwapen aan Mahlanza en of hy op grond daarvan aanspreeklik gehou moet word.

De Wet het daarop gewys dat ’n polisielid opgelei en bevoeg moet wees voordat ’n vuurwapen aan die betrokke beampte uitgereik kan word.

“Ek is van mening dat daar ’n betreurenswaardige toedrag van sake by die Kensington-polisiestasie was, aangesien nie een van die polisiebeamptes die betrokke prosedure ten opsigte van gevaarlike wapens ten volle verstaan ​​het nie.”

De Wet was ook nie daarmee beïndruk dat die minister nie die nodige dokumente aan die hof kon verskaf nie en hom daarvan beskuldig dat hy die dokumente weerhou.

“Dokumente wat vir tien jaar bewaar moes word, het skielik en onverklaarbaar verdwyn en ek is nie oortuig dat dit wel die geval is nie.”

De Wet het eindelik bevind dat Cele direk aanspreeklik is vir Sonwabile se skadevergoedingseis. Sy het voorts gesê ’n bevoegdheidsertifikaat is nooit aan Mahlanza uitgereik nie en hy het oor baie jare konsekwent bewys dat hy onbevoeg is.

Daar is nog nie vasgestel hoeveel Cele aan skadevergoeding sal moet betaal nie.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bernard

Die belastingbetalers gaan hoes; nie Cele nie.

Papsak

Ja nee ek stem die arme belastingbetalers gaan moet opdok nie hy nie

Wielspore

Proef saak, hoop dit word deurgevoer, dit verseker dat individue in die SAP persoonlik verantwoordelik sal wees vir skade vergoeding.

Tiptol

Cele, jy moet groet. Jy en jou hele span is onbevoeg. Hierdie is net één geval van duisende onbekwame polisie lede wat veronderstel is om die burgers te beskerm en ‘n diens te lewer.

Persheks Adri

En tog wil hulle ons wat bevoeg is ontwapen! Dronk ook nog boonop