Minister moet misdaad in Wes-Kaap ‘prioritiseer’

Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. (Foto: ANA)

Die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid het Woensdag ʼn beroep op Bheki Cele, minister van polisie, gedoen om die vlaag bendegeweld en misdadigheid in die provinsie te prioritiseer.

“Die behoefte om van die Wes-Kaap ʼn prioriteit te maak word gestaaf deur die toenemende druk op ons lykshuise waar daar, ingevolge wetgewing, nadoodse ondersoeke van al hoe meer moordslagoffers gedoen word.

“Daar word tans ʼn lykshuis van R287,3 miljoen in Observatory gebou, wat twee keer so groot is as die Soutrivier-lykshuis. As die moordsyfer op dié trant voortgaan, gaan die nuwe lykshuis nie kan byhou met die getal liggame nie,” het Albert Fritz tydens die departement se begrotingsrede gesê.

Volgens Fritz is dit die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid se plig om toesig te hou oor polisiëring. In die nakoming van dié plig is daar bevind dat daar tussen Januarie en Junie vanjaar 1 995 onnatuurlike sterftes, wat deur skietwonde en skerp voorwerpe veroorsaak is, aangemeld is.

In Junie verlede jaar het die getal moorde op 344 gestaan. Die syfer vir Junie vanjaar staan op 448.

Fritz het Cele ook gevra om die weermag as ʼn vredesmag in gemeenskappe te ontplooi sodat die polisie kan fokus op inhegtenisnemings en ondersoeke op plekke waar bendegeweld en misdaad hoogty vier. Die sowat 4 500 polisieposte in die provinsie moet ook gevul word.

“Ons kan nie soos normaal voortgaan en moord en misdaad in die provinsie as alledaagse sake hanteer nie. Ons het oplossings nodig wat ons gemeenskappe gaan stabiliseer en blywende vrede gaan teweeg bring. Daar gaan ook werk gemaak moet word van die sosio-ekonomiese toestande waarin baie van ons inwoners steeds vasgevang bly.

“Dit is om dié rede dat ek nou met verskeie ander departemente op elke regeringsvlak saamwerk om alternatiewe vir ʼn lewe van misdaad aan mense te bied,” het Fritz gesê.

Cele het inwoners van Philippi-Oos Maandag besoek nadat 13 mense oor die naweek daar doodgeskiet is. Hy het spoedige optrede beloof om die vlaag moorde in die provinsie te beëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Die Wes-Kaap is DA-terrein en die ANC wil hulle les laat opsè. De Lille gaan gifbolle uitgrawe dat dit klap. Die gebied is die afgelope 25 jaar oorspoel met vreemdes van oraloor, terwyl die droogte weer alles uitdroog. Hierdie spulletjie gaan net erger word.

Johann ·

Dink seker nie rerig die ANC gaan sy eie anargie aanslag teenstaan nie?

Pieter ·

Al wat die ministers kan doen is praat en praat wonder of raak hulle nie moeg vir hulle stories nie

Johan ·

Hoegaan dit gebeur as die minister self soos n ganster lyk……..

Trojaanse Donkie ·

Misdaad is reeds aan die orde van die dag, dis net die arme slagoffers wat die prys moet betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.